Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Wednesday, 6 November 2013

Sarkasme is beslis oorerflik

Noudat Wihan lostrek en regtig begin praat kan ons duidelik sien wie die voorbeeld is wat hy navolg...

Vroeër die week het hy by die skool met 'n kraan gespeel en juffrou sê sy gaan hom looi as sy hom weer by die kraan sien.  Wihan se antwoord:  "Jy sal my nie sien nie...."

Gisteraand is hy sterk op pad tv kamer toe met sy bord en ek sê hy moet sommer by die tafel sit en eet.  Ek bêre die stoeltjies omdat hy hulle gebruik om onder andere op die yskas te klim en daar is toe nou nie 'n stoel by die kas nie.  Hy plak sy bord op die kas neer, gaan sit op die grond, strek altwee arms uit en vra "Lyk dit of ek kan by kom? Hoe moet ek so eet?"

Gisteroggend op pad skool toe besluit hy:  "Ek gaan nie nou saam ry nie..."

En moenie dink hy kyk sy dvd in die kamer op die klein tv nie.  "Ek wil myne hier voor kyk!  Ek kan nie sien nie!"

Ek sien 'n baie interessante jaar voor ons met Sussie wat op 6 al hoe slimmer raak en Boeta wat alles na-aap wat sy doen....  Ek dink ek sal moet begin drink!!





 

Tuesday, 5 November 2013

Hokkie is bitter gevaarlik...

Sussa speel Donderdag middag 'n hokkie wedstryd en vertel vanoggend in die kar vir haar Boetie dat hy gaan kom kyk hoe speel sy.

Wihan:  "Ek wil ook hokkie speel!  Ek gaan saam met jou speel!"
Franzél: "Jy kan nie hokkie speel nie jy is te klein."
Wihan:  "Ek is nie klein nie, ek is GROOT!"
Franzél:  "Nee jy is nie so klein nie, maar hokkie is bitter gevaarlik.  Ons al 76 moet mag net met een bal speel en ons mag nie eers elkeen ons eie bal vat nie en hulle slaan jou raak met die stokke en hulle het *** se voet bloedrooi geslaan met die stok!  Dit is regtig baie wild!"
Mamma:  "Sussa, julle is seker nie regtig 76 wat hokkie speel nie??  Dis dan net die Graad R'e wat mag speel en almal speel nie eers nie??"
Franzél:  "Nee Mamma.  Ons is 9, maar dit voel soos 76 en dit is regtig baie wild!"

Ek wonder of sy daardie oordryf geen by Oupa Japie gekry het!  Ek is te bang om te gaan hokkie kyk.  Miskien moet ek vir haar motorfietsklere aanskaf om mee te speel!

Gistermiddag het sy sommer self weggeloop en oor die muur geklim om by die bure te gaan speel.  Ek weet nie of sy regtig gedink het ek gaan nie agterkom sy is weg nie.  Veral aangesien haar boetie onmiddelik by die muur begin gil het "Ek wil ook oor die muur klim!!!!!  Ek wil ook oor die muur klim!!!!!"  Tot die mense in Kanonkop het geweet sy is oor die muur!

Gisteraand preek ek vir haar en sê dit was baie ongehoorsaam en Kersvader gaan vir kersfees net vir haar houtskool bring as sy nie vir my luister nie.  As sy haar geskenkies oopmaak is haar hande pikswart en dan weet almal sy was ongehoorsaam.  (Ja, ja ek weet, maar die kersvader kaart werk!  En daar is min tyd om dit te benut!)

Wihan dadelik baie verontwaardig:  "Ek wil ook houtskool vir kersfees hê!!"

Red nou 'n nasie!!!

Friday, 1 November 2013

Ons hou konsert...

 
Dit het 'n redelike stukkie verbeelding gevat om hierdie uitrusting bymekaar te sit!


 
Boeta se beurt om die ballerina te wees.