Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Monday, 30 July 2012

Willetuin!

Nadat sussie die wildtuin so baie geniet het saam met oupa en ouma het ons besluit om hulle ook te vat.  Ons kon nie plek kry in die wildtuin self nie en het in Marloth park oorgebly.  Dit was baie lekker.  Ons het baie diere gesien - in net agt uur in die wildtuin het ons 4 van die groot 5 gesien - Olifante, Leeus, Buffels en Renosters.  Die kinders het dit baie geniet!

Ons bosveldhuisie.  Baie lekker plek, net jammer van die styl trappe.  Was naderhand styf trappe geklim - sitkamer bo en kombuis onder en moes heeltyd keer vir die kinders.

 
Ons tuin - die gras lyk net so lekker sag - ek het in my lewe nog nie so baie dorings en duwweltjies op 'n grasperk gesien nie!  F haal nou nog massiewe dorings uit sy crocs uit!

 
Die jaccuzzi was vir die kinders die heel beste deel van die naweek.  Hulle het behoorlik geswem en baljaar.  Wihan was eers baie skrikkerig, maar het uiteindelik darem ingeklim solank hy op my skoot kon sit.

 
Die uitsig van die dek  af en uit die jaccuzzi uit.  Ek wou nie terug kom nie.  Dit is darem maar so lekker om so 'n uitsig te hê.

 
Op pad wildtuin toe - natuurlik moet Boetman saam met die ander agterin die bakkie ry.  Spierwit gesonroom!

 

 
Hierdie is darem nog in Marloth en nie in die wildtuin nie!!

 
Willetuin kinders.  Mens kan sommer op sussie se gesig sien hoe gelukkig is daardie hartjie!

 
Hierdie leeus was reg teen die bakkie en met kleintjies by hulle!  Ons moes net skreeu en beduie dat die kinders vensters toemaak agter!
 
 
Uiteindelik 'n bok wat uit sussie se hand uit eet.  Hy wou nie hê hulle moet aan hom raak nie, maar dit was nogsteeds vir Sussie amazing.  Wihan het baie vinnig baie ver weg gehardloop.
 
 
 
Hierdie zebras was eintlik baie "pushy"!  Een het eers alleen daar aangekom, gesien ons gee kos en toe die hele trop gaan haal.  Daar was op 'n stadium 8 zebras, maar ons moes hulle wegjaag.  Hulle stamp en stoot vir kos en hulle is baie groter as wat mens dink!

 
Hierdie zebras het ons sommer binne in Marloth gesien.  Baie cool!
 
 
Pootuit - Hier is dit net na 6 die aand en Boeta het eers die volgende oggend 7:30 weer opgestaan!

 
Sussie kan nou al nie wag om weer wildtuin toe te gaan nie.  Gelukkig nou nie meer baie slapies nie!
 

 
 

Monday, 9 July 2012

Onlangse sê-goed...

Sussa bly by die huis by Joyce vir die vakansie en is al so bietjie verveeld met heeldag alleen wees.  Maar as sy moet kies tussen dit en die beperkte maatjies waaruit sy by die skool kan kies, kies sy elke keer om by die huis te bly!

Verlede Donderdag is ek nog by die huis toe Boeta skool toe is en sy maak allerhande planne vir die dag.
Mamma:  "Ek kan nie hier bly vandag nie, Sussa.  Ek moet na 'n kliënt toe gaan.  Jy kan saam gaan as jy doodstil gaan sit en teken met jou stensels en nie gesels nie."
Sussa:  "Jippeeee, ek gaan vir Liewe Jesus sien!!!"
Mamma:  "????!!!!????" 
Sussa:  "Die Heiland is gebore in stille Betlehem lalalalala."
Mamma:  "Ek sê my kliënt, nie Betlehem nie!!"
Toe gaan ons maar uiteet na ons by Betlehem was om op te maak vir die teleurstelling!

Boeta het nou geleer om te sê "lief vir jou".  Dit is te dierbaar.  Net ek en sy pa verstaan hom, maar dis okay!  Hy sê eers so uit sy magie uit "Hoef" en dan saggies met sy skewe glimlaggie "vi jou".  En hy weet dis flippin oulik!!

As Sussa in die aand haar kombersie gaan haal, hardloop Boeta om haar Otto te gaan haal.  En sy hasie, bruin beer en donkie is almal "myne Otto." 

Ons het die naweek partytjie gehou.  Dit was 'n seuntjie en dogtertjie partytjie saam, so Sussa was by Hello Kitty party en Boeta by 'n John Deere party!  Hulle het dit baie geniet.  So lekker om te sien hoe Boeta ook saam met die maatjies hol om te gaan kyk waar kan hulle speel.  Hy speel nog heeltemal op sy eie, maar is darem nie meer bang vir kinders nie.  Die ouer kinders moet hom net nie probeer keer as hy iewers opklim wat hulle dink gevaarlik is nie!!  Hy freak omtrent uit!


Om cupcakes oop te maak verg al my konsentrasie...




Skaars by die hek uit, was Boeta vas aan die slaap!  Morsdoodmoeg.

Friday, 22 June 2012

Geluk met jou 2de Verjaarsdag seun!

Kom ons probeer gou weer om te doen wat ek gister verniet gedoen het!! 

Baie geluk met jou 2de verjaarsdag my Grootman.  Wow, kan nie glo die tyd is so vinnig verby nie.  Toe ek die foto's nou uitsorteer voel dit soos gister toe ek jou op die bed in die sonnetjie in jou kamer die eerste keer aangetrek het.  Jou maer ou lyfie sommer blou van die skielike Junie koue na jou warm nessie.  Vandag is jy 'n woelwater-nar-nogal ma-vas-kleinman wat jou sussie pes en net mooi niks uit los nie.  Jy is my cuddle kind en sal slapenstyd enigiets gee om bo-op my aan die slaap te raak.  Ek lief jou soos al die speserye wat jy al uitgegooi het - en dis verskriklik baie!!  xxx


Nog net 'n uur oud.  Pappa het die foto vir my gebring net nadat ons in ons kamer gekom het.


Omtrent 5 dae oud - bad in die sonnetjie, maar dis nie lekker nie...


Jy het die ernstigste ou gesiggie gehad wat ek nog aan 'n pap babatjie gesien het.  As ek na die foto kyk kan ek nog die sagte donsies op jou voorkoppie en die warm sagte velletjie onder my vingers voel...


Begin glimlag - omtrent 6 weke oud.


Hier lag jy al te lekker.  8 Weke oud.


Ons eerste vakansie by Buffelspoort en die Eiland.  Hier was jy baie knieserig.  Yskoue dag in Oktober op pad na die kremetart kroeg toe.  Jy is so 3 en 'n half maande oud.  Die vorige aand het jy van die bed af geval binne in die wasgoedmandjie!  Baie hoë beddens en teëlvloere.  Dit voel nou nog of iemand oor my graf loop as ek daaraan dink.  Engeltjies het jou gevang daai aand.


Net begin sit.  So 4 en 'n half maande oud.


Begin kruip op 5 maande oud en sussie is klaar jou grootste hero!


Omtrent 5 of 6 maande oud en vreeslik skaam... ja reg!


Eerste sjokelade paaseier.  Omtrent 10 maande oud.


Eerste seevakansie - jy is 10 en 'n half maande oud en het al begin treë gee.  Onder andere ook op die boot bietjie geloop.  Die mense op die onderste dek het amper uitgefreak!!  Hoe moet hulle nou weet jy gee al 'n rukkie lank treëtjies.  Kyk hoe probeer jy al klaar sien wat orals aangaan.  Moet weet wat is daar binne...



Ons wou so graag hê jy moet op die strand loop en het by die huis heeltyd geoefen.  Maar die sand is te ongelyk en moeilik, so jy't dit maar eerder geëet!


Foto geneem op jou eerste verjaarsdag.  Ons was die dag by die Duckpond in Witbank.  Julle was omtrent vuil toe ons by die huis kom.


Jou verjaarsdagpartytjie.  Dit was ongelooflik koud.  Die maksimum daai dag was maar 9 grade en die kamera se memory card het die gees gegee, so dis alles foon foto's...


Omtrent 14 maande oud en Sussie is so bly jy kan uiteindelik regtig saamspeel.


So 16 maande oud en jy raak elke dag stouter!  Hier het jy self die deksel afgedraai en mal gegaan.


Omtrent 18 maande oud en bitter trots omdat jy self kan eet.


Ek kry die foto nie uitgehaal nie!!  Weet hy is twee keer in, maar dis darem 'n oulike foto!!


So 20 maande oud op Sussie se partytjie.  Jy kon nie wag dat hulle loop sodat jy kan begin kos maak nie.


Op 20 maande is jy 'n pragtige klein seuntjie en my babatjie is nie meer 'n babatjie nie.



21 maande by die see.  Jy is 'n terggees en dryf jou sussie teen die mure uit.


Op 2 jaar oud is braai en kos maak jou absolute gunsteling aktiwiteite.  Oupa het vir jou jou eie braaier vir jou verjaarsdag gekoop en dit is jou mees belangrike besitting.


Partytjie tyd.  Gelukkig die keer beter weer en 'n ordentlike kamera!!


Baie geluk my mannetjie.  Dankie vir al die lag en liefde wat jy in ons huis ingebring het.  Hoop jy het 'n wonderlike jaar wat voor lê...

Sunday, 17 June 2012

Zellie en die Willestuin

Ek is agter met 'n hele paar goed wat die laaste tyd gebeur het.  Ek gaan dit op die blog sit soos ek dit skryf, maar later die datums verander ter wille van die chronologiese volgorde waarin dit gebeur het.  Op die oomblik is ek besig by die werk, besig by die huis, besig met my tweede werk...  Raak nie meer grond nie.  Maar dis 'n goeie besig.  Ek is op 'n goeie plek op die oomblik...

Zellie het van 15 tot 19 Junie saam met Oupa en Ouma Willestuin toe gegaan en dit ongelooflik baie geniet. 

Op pad wildtuin toe en dood opgewonde.  Boetie was daardie oggend bitter ontsteld toe hy moet skool toe gaan en Sussa ry saam met sy Oupa en Ouma weg!

Old Joe op die pad Nelspruit toe.  Ons het foto's van onsself daar toe ons omtrent haar grootte was.



In die wildtuin.


Ons het ribbetjies ontdek.  My kind wat nie vleis eet nie vra nou elke dag vir "oupa se morsvleisies!"


Ontbyt op die stoep - lekker.  Oupa en Ouma het ook geleer dat Franzél ongelooflik baie tyd het en veral haar ontbyt stadig geniet.  Baie stadig...  En hoe haastiger jy is, hoe stadiger eet sy!


Wildtuin kind met die hare wat so mooi is dat die leeu sommer sal kom dat sy sy kop vryf en die voëltjies op haar skouer sal kom sit.  Sy noem dit nou haar wildtuinhare.


Daar is baie roomys geëet op hierdie vakansietjie.  En roomys is in Oupa se kar geëet.  Ek dink nie ek het al ooit in my lewe 'n roomys in Oupa se kar geëet nie!  In elk geval nie voor ek 18 was nie!!




Ons soek ietsie om vir onsself en Boeta huis toe te bring en al die bere is dan so oulik!  Hoe kies mens nou??  Ek het die wildtuin se bere gelove toe ek klein was en selfs toe ek bietjie minder klein was.  Maande na die tyd het hulle nog na wildtuin geruik...




Ek weet die foto's is nie in die volgorde wat dit gebeur het nie - sien dit aan die klere! 


En ons het roomys geëet...


Nou nie juis baie mooi geëet nie, ne...


Op soek na iets deur die "koekeloerder"


Nagereg en Oupa se "neukenaar" waaroor sy nou nog huil...


Skukuza - ons het heelwat foto's by die beeld ook van toe ons klein was.  Hierdie is huis-toe-gaan-dag en die laaste smile wat op die dag gegee is!


Hier ry ons deur die wildtuin se hekke...


Op pad huis toe...



Dis moeilik om die wildtuin sê goed neer te skryf omdat ek nie self daar was nie.  Sal dit maar neerskryf soos ek dit onthou:

Oupa het dit gewaag om Zellie se rooi wangetjies bietjie te klap (speel-speel) en sy het uit-ge-freak!!  Natuurlik.  Eers by Oupa gehuil toe by Ouma en finaal besluit dat as niemand haar dan gaan jammer kry nie, sy dit maar vir Liewe Jesus gaan vertel!  Handjies voor haar gesig gevou en gesê "Dankie Liewe Here.  Daar het my Oupa my nounet deur my gesig geslaan."

Sy het die mense ingelig dat seekoeie wat onder die water in gaan soontoe gaan om te trou...  Weet sowaar nie waar dit vandaan kom nie!

Sy het mooi geluister en geleer ook.  Nou die aand bring Boeta sy diere een vir een.  Daar is 'n groot, medium en klein olifant.  Ek sê dis Pappa, Mamma en Baba olifant.  Nee sê sy Pappa olifante bly alleen.  dis Mamma, Groot sussie en Baba olifant. 

O, ja en ons het geleer om met 'n stortkappie te bad!  Elke liewe aand...  En die tattoos was ook Ouma.  Sy het eers 'n week later toe gelaat dat ek dit afwas!


Kwaliteit nie baie goed nie.  Die lig was swak.


En natuurlik wou Boeta toe ook 'n stortkappie hê...  'n Ma maak 'n plan!  Hy het 'n week lank elke aand met hom gebad en hom nie een keer laat nat word nie!!


Baie dankie Oupa en Ouma.  Sy het dit verskriklik baie geniet en praat nou nog oor alles wat sy gesien en gedoen het.

Volgende Wihan se partytjie foto's.  Die kind is al amper drie en ek het dit nog nie opgesit nie!!!