Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Tuesday, 31 January 2012

Hoe vinnig kan dinge verander

Dit gaan op die oomblik nie so goed met baie goeie vriende van ons nie.  Hy is ernstig siek in die hospitaal en hulle is besig met toetse om te probeer uitvind presies wat aangaan.  Hy word vandag oorgeplaas na Pretoria toe om by die regte spesialiste uit te kom.  Die kinders kry swaar en sy vrou kry swaar en ons kan net hulp aanbied en van die kantlyn af kyk.  Sondag middag toe F daar was, was hy nog piekfyn en net nadat hulle gery het, het hy in skok in gegaan.  Ek wil nie te veel uitbrei nie, maar net sê ons bid vir julle en glo en vertrou alles sal reg kom.

Ons neem ons gesondheid as vanselfsprekend aan en glo dat ons vir altyd gesond gaan wees.  Hy is baie fikser en meer aktief as enige een van ons en hier is hy die een wat siek word.  Dit laat 'n mens besef ons moet na onsself kyk en nie allerhande klein goedjies wat ons dink "sommer niks is" ignoreer nie.  Gelukkig het hy dadelik dokter toe gegaan en is op die beste plek om behandeling te kry.

Ons glo en vertrou dat ons een van die dae sal praat oor hoe hy ons laat skrik het en dat alles dan uitgesorteer sal wees.

Monday, 30 January 2012

Meneer Beer se planne raak net meer en meer!

Ek dink daar is amptelik nie meer 'n manier hoe ek met Wihan kan kerk toe gaan nie.  Hy het ontdek dat daar 'n deur is wat na buite lei en ek moes vier keer voor die preekstoel verby hardloop agter hom aan.  Wanneer hy my sien opstaan sit hy daardie aansit draffie van hom aan en almal dink natuurlik dit is skreeu snaaks, behalwe Mamma.  Ek het hom toe soos 'n goeie Mamma moederskamer toe gevat waar hy aan die toe deur gehamer het totdat ek saam met hom uitgegaan het!  Ek kan nie die deur oop los en hom maar net buitekant laat rondhol nie, so ons sal maar van nou af in skofte kerk toe gaan!

Gistermiddag het ek vir Sussie geleer swem.  Sy wil nie hê Pappa moet haar leer nie.  Ek dink sy is bang hy los haar net.  Teen die einde het sy amper die breedte van die swembad self deur geswem en heeltyd gesê:  "Ek is so trots op myself!"  Ons het besluit om vir haar 'n fiets sonder klein wieletjies te koop vir haar verjaarsdag en haar dan sommer te leer om te ry.  Baie kinders in haar klassie ry al fiets sonder wieletjies.  Ek hoop sy gaan bereid wees om te probeer.  Sy is eintlik baie bang en versigtig, maar tog so trots op haarself as sy dit wel regkry.

Wihan het gisteraand uit die bed (ja nogsteeds MY bed) uitgeklim sonder dat ek dit agterkom en in sussie se kamer met die pophuis gaan speel (in die donker!).  Ek het wakker geword toe hy by haar bed staan en roep "ssie, ssie, ssie".  Ek het hom gaan haal en terug in die bed gesit.  Iewers deur die nag het hy my hier van die kant af kom wakker maak om hom op te tel!  Ek weet nie hoe lank hy die tweede keer uit die bed uit was nie, maar vanoggend kan mens sien hy het in sy kamer met die trok gespeel en blokkies gebou in die tv kamer!  Vanoggend het ek my omtrent morsdood gesukkel om hom uit die bed uit te kry na sy nagtelike eskapades.

Sussie is skool toe met haar uitnodigings vir haar partytjie en het vir die eerste keer van die skool begin het nie gehuil nie.  (Nie regtig gehuil nie.  Daar was trane in haar oë, maar sy het my nie vasgeklou en hardop gehuil nie!)  Elke bietjie help!

Friday, 27 January 2012

Ons moet praat oor Wihan...

Ek verwag elke dag as ek by die skool kom om hierdie woorde te hoor, maar blykbaar is hy 'n engeltjie by die skool!  Ek dink hy gaan skool toe om te rus na al die nonsens wat hy by die huis aangevang het.

Sondagoggend wys hy vir ons sy beertjie wat in die bad lê en toe Pappa hom optel is daar 'n klein baba veldmuis onder hom???  Moenie vra nie, maar het Pappa nou vir jou mooi balletpassies uitgevoer!  Ons vang die muis en sit hom met klippe en kossies in die ou vistenk sodat Zellie nog 'n rukkie na hom kan kyk voor ons hom vrylaat.  Hy is te pragtig en mens maak nie veldmuise dood nie!  Of eerder ons maak nie veldmuise dood nie.  Wihan het dit sy plig geag om die deksel af te haal, die muis met sy hand te vang en hom vir die hond te gee!  Ons kon hom red, maar Zellie was histeries!

Gistermiddag het hy sy skopfiets tot by die vrieskas gestoot terwyl ek vleis uithaal en die pak mieliemeel oopgeskeur toe ek my rug draai!  Alles was vol krummeltjies en ek moes die hele vrieskas afvries en skoon maak!  Terwyl hy die pasta uitgooi, popcorn uitgooi, nat lappe oral heen ronddra en al sy speelgoed in die leë vrieskas gooi!

Hy het nou deesdae 'n gunsteling boek met baba diertjies wat hy orals agter hom aandra.  Enige iemand wat op sy boude sit en ledig lyk moet vir hom "lees". 
Mamma:  "Dis 'n koei."
Boetie:  "Koe."
Mamma:  "Dis 'n Bok."
Boetie:  "Bo."
Mamma:  "Dis 'n Woef."
Boetie:  Klap die bladsy, wys die vingertjie en sê "Uit!"
Mamma:  "Dis 'n Hasie."
Boetie:  "Sissie."  Hy se eintlik met ssssie met sy neusie opgetrek!
Mamma:  "Dis 'n Kangaroo."
Boetie:  "Jaaaaaaa." 
Mamma:  "Kangaroo."
Boetie:  "Oooo."
'n Leeu is 'n Huh-huh-huh-huh!

Die pediater sê mens moet begin worry as hulle teen twee jaar nog nie tien woorde sê nie!  Ons kom daar.
Hy sê Mamma, Pappa, Klaar, Uit, Ja, Nee, Ham vir eet, Oupa, Ouma, O, Ag nee, Sussie so ons is darem al daar!

Thursday, 26 January 2012

Hmmm... Boetie ruik soos pannekoek!

In die een uur vandat Wihan vanoggend opgestaan het totdat ons skool toe gegaan het, het hy eers my beursie uitgepak en my kaarte en geld die hele huis vol gegooi.  Daarna het hy die kaneel uit die speserye kassie uitgehaal en voor by sy hemp ingegooi soos baba-poeier.  Sussie reken darem hy ruik lekker soos pannekoek.  Ek het hom vinnig afgeskud, met 'n droë waslap die ergste speserye afgevee en skoon aangetrek.  Ons moes al vyf minute terug gery het en ek moes nog sussie se tande borsel.  Toe ek hom wil vat om te ry het hy 'n hele buisie tandepasta gebruik om mee te bad.  Magie, gesig, hare alles vol!  Ek het hom met 'n nat lap afgevee, weereens skoon aangetrek en skool toe gevat!!!  Hy was nog effens taai toe ek hom afgelaai het!

Gisteraand met die atletiek het hy net eenvoudig geweier om te hardloop.  Op die ou end het ek hom aan sy arm getrek, terwyl hy met sy voete rem en blou moord skreeu!!  Daar is 'n mooi prentjie vir die jaar-dvd!

Franzél moes iewers vir juffrou S*** verkeerd verstaan het met hulle Bybelstudie en ons is nie mooi seker hoe en waar nie!
Franzél:  "Vanmiddag by die atletiek as ons almal daar buite op die gras sit gaan God met ons kom praat."
Mamma:  "Nee, ek dink nie so nie.  God praat in ons hartjies met ons, Hy kom nie na ons toe waar ons hom kan sien nie."
Franzél:  "Nee, juffrou Sandra het gesê hy gaan daar op die gras met ons kom praat, jy sal sien."

Gisteraand voor die atletiek:
Franzél:  "Ek gaan baie lekker atletiek hardloop."
Mamma:  "Ja, jy moet dit geniet en so vinnig hardloop as wat jy kan."
Franzél:  "Nee, ek moet wen."
Mamma:  "Nie almal kan wen nie.  Wat gaan jy maak as jy nie wen nie?"
Franzél:  "Huil."
Sy't een gewen en een derde gekom en nee sy het nie gehuil nie!

Monday, 23 January 2012

Kan ek 'n rukkie in een van julle se hangkas wegkruip...

Ek haat (HAAT) hierdie tyd van die jaar.  Franzél doen nie die nuwe juffrou en nuwe klas ding nie.  Sy is elke oggend histeries as ek haar aflaai.  Klou aan my vas, hardloop agter my aan.  Ek het al belonings probeer, getroos, probeer rondstaan tot sy kalmeer, een keer die onderwyseres aangevat omdat ek gedink het sy veroorsaak dit, my humeur verloor, gedreig, gesê die maatjies gaan vir haar lag, want net sy huil......  Niks werk nie!  Sy vat net eenvoudig 'n maand om by 'n nuwe klas aan te pas en dit beteken dat ek haar elke jaar op haar verjaarsdag met 'n skinkbord vol koek, 'n boks vol party-packs in trane, histeries by die skool aflaai.....  Ek weet dit is nie die juffrou nie, want sy is dierbaar en my kind is die enigste een uit 26 uit wat so reageer...  Ek weet nie meer wat om te doen nie!!!  Iemand het vandag gesê ek moet in die oggend voor ek loop vir haar my hangertjie gee om aan te sit en hom elke middag weer by haar kry.  Sy werk haarself so op dat sy fisies siek word, nagmerries kry en bitter moeilik en huilerig is oor die algemeen.  Ek wil haar na 'n spelterapeut toe vat, maar hier is nie 'n enkele een in die dorp nie.....

Wihan het pens en pootjies in ons bed opgeëindig.  Nadat ek hom tot twaalf keer op 'n nag moes terug vat na sy bed toe en hy net eenvoudig weer agter my aangeloop het (selfs na 'n paar houe op sy doek) het ek opgegee.  Nou slaap hy die hele nag onder my ingewurn met sy arm en been oor my gevou en as ek beweeg huil hy!  Intussen maak hy soos 'n goudvis op droeë land in my oor die hele nag lank!!  Hy praat al hoe meer - net nie waar enige iemand anders hom kan hoor nie.  Sê al "ag nee" met die handjies in die lug, "kietie", "kyk daar", "uit" vir die hond, "loop!" vir sussie. 

Intussen is ek besiger as wat ek nog ooit was - werk vir 'n baas, werk vir myself en probeer dan nog die helfte van die dag by die kinders wees en tussendeur kosmaak en die huis aan die gang en almal se pensies vol hou...  Dit is 23 Januarie en ek is moeg!!!  Nie eers die vakansie wat voorlê hou troos in nie, want ek weet nie hoe ek ooit op datum gaan wees om die twee weke af te vat nie en ek weet ek gaan net eenvoudig in 'n nog kleiner bed opeindig met die goudvis aan my sy!!!

Dan is dit nog registrasievorms voltooi en registrasiegelde betaal (!!!???  Twee kinders se ekstra aktiwiteite is nie 'n goedkoop grappie nie!)  en sussie se partytjie reël en Woensdag is atletiek en en en.....  Zellie doen die jaar swem (winter gimnastiek), playball, kinderkinetika, beat buddies (dans), mini maestros (musiek), english wise en mickey maths.  Wihan doen playball, kinderkinetika en mini maestros.  Hy kan September begin swem.  Volgende jaar doen hulle altwee alles en dan gaan dinge interessant wees!  Gelukkig gaan sussie die jaar daarop skool toe - met alles wat daarmee saam gaan!!

Mag Februarie aansienlik rustiger wees!! 

Wednesday, 18 January 2012

Waterpokkies???

Eerste dag van skool vandag.  Sussie is na haar nuwe klas toe sonder enige trane en sonder om my te groet toe ek loop!!  Sy was so opgewonde om haar maatjies te sien en daar is twee klaspartytjies en twee koeke en twee party packs vir elke kind en 'n wasmasjien en 'n strykplank en 'n pophuis en en en!!  Hoe lekker!  Die vorige twee jaar was elke jaar 'n nagmerrie met trane wat vir weke aangehou het!  Sy't vanoggend baie vroeg opgestaan en gekla haar been is seer en ek het gedink hier kom dit nou.

Die been is al 'n hele paar maande lank aan en af seer.  Eintlik al meer as 'n jaar??  Sy sal 'n paar weke niks makeer nie en dan skielik mank loop en kla haar been is seer en huil van pyn.  Ek het al gedink groeipyne, maar dit is elke keer dieselfde been.  As sy nie een lang en een kort been gaan kry nie, maak dit nie regtig sin nie...

Boetie is huilerig en moeilik en slaap by ons in die bed.  Hy weier om in sy eie bed te bly.  Ek het hom eergisteraand nege keer teruggevat en geraas en hy het elke liewe keer weer agter my aangeloop na my kamer toe.  As ek vir hom sê gaan klim in die bed en doedoe, gaan haal hy die trappie en klim in ons bed!

Vanoggend toe ek hom skool toe vat was daar 'n groterige rooi perfekte ronde kolletjie op sy wang.  By die skool was daar drie.  Toe ek hom vir Adele gee en die ander wang sien was daar vyf op hom.  Drie op sy nek en een op die oor.  En ek weet hy het nie sy 15 of 18 maande inentings gehad nie en een van hulle is die waterpokkie inenting!!  Grrrrrrrrrrrrrrrrrrrr!!!!!!!!  Raai wie gaan more vir sy agterstallige inentings as dit nie die pokke is nie!

Ons is besig om Zellie se verjaarsdagpartytjie te reël en ek is amper meer opgewonde as sy.  Ek weet net nie wat om met die seuntjies te doen op 'n Raponsie (Tangled) partytjie nie.  Pienk en pers koek, pienk tafeldoek, pers stoelrokkies, Chinese papier lanterns in pienk en pers, ses dogtertjies en twee seuntjies!!!  Boetie tel blykbaar nie, want hy moet by die grootmense sit sodat hy nie al die maatjies se sweets opeet nie, Mamma!

Monday, 16 January 2012

Voor ek vergeet!

Zellie kom in van buite af waar sy en boetie in die modder speel.  (Gunsteling aktiwiteit langs die huis onder die perskeboom!)  Weet nie hoekom ons 'n sandput gebou het onder die klimraam nie.  Dis ook hoekom ons nie bodder om sout in die sandput te gooi nie!  Dis moeilik om elke bedding in die erf sout te gooi!

Zellie hou haar hand uit om die rys wat ek besig is om in die pot te gooi te vang.
Mamma:  "Nee, moenie man.  Jou handjies is vuil.  Ons sal doodgaan."
Zellie:  "Wil jy nie doodgaan nie?"
Mamma:  "Nee, nie nou al nie."
Zellie:  "Wil jy eerder nog bietjie langer hierso bly om die hele dag met my te raas?"

Sy't deesdae die manier om mens oop mond te soen, want dit is dan hoe hulle op die tv soen! 

Laaaaaaaang update

Die vakansie is verby en alles is besig om so stadig maar seker terug te val in plek.  Ek werk nou 8 tot 2 en het lekker baie tyd met die kinders.  Ons geniet dit so ver nog baie!  Ons het ook maats gemaak met die bure se kinders en het min of meer heeldag gesiggies wat oor die muur loer!  Ek is seker 'n hele paar goed wat Desember gedoen of gesê is het verlore geraak in my verouderde brein, maar sal maar die paar neerpen wat ek wel kan onthou! 

Ons het 'n week by Oupa en Ouma in Pretoria gekuier en Wihan het hulle vermaak (gemartel!) met alles wat hy kan uitdink, doen en breek!  Hy het 'n paar keer in die  nag opgestaan en by Oupa in die bed gaan klim, iets wat sussie nooit ooit gedoen het nie!  Hy het ten minste twee tuinornamente gebreek (waarvan ek weet!) Oupa help kar was, die ketting in die wasmasjien gegooi om een of ander duister rede, rou noodles met 'n mes oopgesny toe hy sien sy ma gaan nooit weer vir hom kos gee nie, elke keer as hy verby die (toegebind met toue en linte!) kombuiskaste loop sy een arm deurgesteek en met sy ander arm vir oupa gewaai! 

Hy het darem so bietjie meer begin belangstel om te praat.  Sê nou deesdae vir alles "Jaaaa" en roep vir sussie (trek die neusie op 'n plooi) en dan roep hy "sie", hy sê "Oupa" en "ai-ai-ai", "Yeah" as jy hom uit die bed uit laat klim wanneer hy voel hy's nog nie reg om te slaap nie!  Hy het agtergekom dat hy vir sussie kan bang maak met sekere goed en byt dit behoorlik uit.  Hardloop al agter haar aan en probeer dit (Gewoonlik 'n blaar of iets wat soos 'n gogga lyk) teen haar vasdruk.  Hy het begin om wanneer ons in geselskap is te lekker te lag as ek of Pappa lag.  Dit is te sweet, want hy lag presies op die regte tyd en dit klink of hy die gesprek volg.  Hy is besig!  Ongelooflik besig, maar soek baie liefde en drukkies en aandag en is op sy gelukkigste as jy by hom sit en hy op jou kan klim.  My mannetjie raak groot en lank en dra op 18 maande klere vir 'n kind van 2 - 3.  Hy het geleer om ons klimraak (Baie hoog met trappies wat ver uit mekaar uit is) te klim en ons kan hom nie meer alleen buite los vir 'n sekonde nie!  Elke middag as hy van die skool af kom, bly hy eers bietjie in my kar agter die stuurwiel sit, sit die radio aan en harder en dan bollie hy in my kar!!  Selfs die een dag toe ek hulle 'n uur later gaan haal en nog 'n halfuur by die skool gedraai het ook!!  Ek weet nie hoe ek hom in my kar gaan potty train nie, maar dink dit sal werk.

Sussie is besig om te vinnig te groot te raak en baie wys.  Ons leer elke dag ietsie nuuts by haar!  'n Paar goed wat ek kan onthou:

In die kar (na ons al baie ver gery en nog baie voor oor gehad het om te ry) is die kinders altwee aan die skreeu:
Pappa:  "Ag Vader tog!"
Zellie:  "Pappa, wie is jou Vader?"  (Sy vra die laaste tyd aanhoudend hierdie vraag en ons het al verduidelik.  Sy sê ook haar r met hierdie regte oordoende engelse aksent "vadehr".
Zellie:  "Pappa, God is mos jou Vader?"
Pappa:  "Ja."
Zellie:  "Nou maar wat wil jy vir hom sê?"

Vanoggend by die skool loop ons terug na haar klas toe van boetie se klas af:
Zellie:  "Mamma, as kindertjies so groot word dan baklei hulle met hulle mammas en pappas vandat dit lig word totdat dit donker is!" 
Sal nie weet waar leer ons dit nie!

Ons was Nuwejaarsdag by de Voetpadkloof en sy en boetie bly op die muurtjie klim:
Mamma:  "Boetie, klim af daar, jy gaan al jou tande uit val!"
Zellie:  "Toemaar boetie, as jy jou tande uitval, bring die tandemuis vir jou BAIE geld."

Ek moet foto's opsit!  Eintlik moet ek die laaste jaar en 'n half se foto's op sit!  Sal iewers, belowe!  Hierdie "merry-go-round" moet net eers bietjie stadiger begin draai!