Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Thursday, 29 November 2012

Sussa se eerste kersfeeslysie...

By die mall is 'n groot posbus waarin die kinders briefies vir kersvader kan pos en dan skryf hy terug.  Ek vertel vanoggend vir Sussa ons moet vanmiddag 'n briefie skryf, so sy moet solank dink wat sy wil hê.

Sussa: "'n neukenaar (rekenaar!), 'n Barbie en 'n pophuis."
Mamma:  "Jy het 'n Barbie en 'n pophuis waarmee jy nooit speel nie?"
Sussa:  "Ja, maar ek speel nie met Barbie nie, want sy is alleen en die pophuis is die feetjies s'n.  Die Barbies soek hulle eie pophuis..."

Regtig??  En dit nadat ons toe ons omtrent twee jaar terug die pophuis gekoop het haar moes probeer oortuig dat dit 'n feetjie huis is om haar te kry om met die ding te speel.  Iets wat nog nooit gebeur het nie.

Mamma:  "Ek dink die feetjies kan maar uit trek dan trek die Barbies in die huis in?"
Sussa:  "MAMMA!!  NEE!!!  Ons kan nie sommer net die feetjies se huis vat nie.  Waar gaan hulle in die aande slaap!"

Let wel dit is denkbeeldige feetjies.  Die enigste rede hoekom die pophuis in haar kamer staan is sodat die denkbeeldige feetjies in hom kan slaap in die aand.  So af en toe sit ek rys mier vlerkies in hom en dan is sy morsdood opgewonde oor die feetjie wat groter vlerkies gekry het.  En af en toe gooi Boeta alles uit die pophuis uit, probeer binne in klim en dra dan die meubels die wereld vol, probeer op die bedjie lê en op die stoeltjies sit.  Dit is die enigste gebruik vir 'n pophuis wat nie vir haar Barbies gebruik mag word nie!!!

En Wihan het uiteindelik uitgevind hoe om die skuld op iemand anders te pak.  Hy kom met sy stukkende stroper by my en raak heeltemal histeries, omdat Mamma nie die nodige wonderwerk kan laat gebeur om hom weer te genees of uit die dood uit te laat opstaan nie!!

Mamma:  "Ek kan hom nie reg maak nie.  Jy't hom gebreek so dit is jou eie skuld."
Boeta:  "Sussie hom gebleek."
Mamma:  "Sussa het jy hom gebreek?"
Sussa:  "Nee!!"
Boeta:  "Sussie hom gebleek.  SUSSIE!!!"  Met die nodige vingertjie in die lig en kwaai houding!  "Had pak kly!"  En toe slaan hy ook sommer vir Sussa!!
Mamma:  "Wihan, jok jy?"
Boeta:  "Sussie jok!!"

Oulik ne! 

 

Wednesday, 28 November 2012

Die mees onlangse sê goed...

Wihan begin nou die praat-ding behoorlik onder die knie kry en ons begin nou lekker lag vir wat hy kwyt raak.

Laas week het hy besluit 'n pynappel is 'n eina-appel.  Baie akkurate beskrywing!

As ons hom roep antwoord hy elke liewe keer "Huh!! WAT?!"  Bitter ongeskik, maar toemaar!

En sy heel nuutste is dat alles "AWESOME" is!!  Pappa, joe awesome!  Mamma, joe awesome!  Dis awesome!  Kan sien wie het 'n ouer sussie, né!

Sy nuutste gunsteling tydverdryf is om vroeg op te staan en dan by sy Sussie in die bed te gaan klim.  Hulle twee speel dan omtrent 'n hond uit 'n bos uit.  Sy lees vir hom en hulle gesêls en dan is dit 'n tragedie as hulle moet klaar maak vir skool, want hulle speel dan nou so lekker!

Pappa trap vanoggend op Sussa se voet.  Sy was omtrent histeries en reken my "Dit is okay as jy op my voet trap, maar Pappa het taxis aan!!"  En sy begin nou groot word, want sy was bitter ontstoke omdat ek vir haar lag.  "Ek wou net gesê het tekkies, mamma!"  Maar taxis is so 'n goeie beskrywing vir sy nr 12 skoene!!  Nie skepe nie, taxis...

Ons het rapporte gekry die laaste twee dae.  Sussa het baie goed gevaar hierdie jaar.  Haar skool rapport is perfek, sukkel met niks nie, is baie soet in die klas en speel lekker met die maatjies.  Al haar buitemuurse aktiwiteite ook baie baie goed.  Trots op my meisiekind wat so groot word.

Boeta se rapport was 'n bietjie teenstrydig...  Maar dit is seker nie regtig 'n maklike taak om vir 'n kiind van 2 'n sinvolle rapport te probeer gee nie.  Veral nie as hy soos Boeta is wat weier om deel te neem by die skool nie.  Ons glo volgende jaar sal baie beter gaan.  Hy het die laaste maand mooi gevorder en baie meer selfvertroue gekry. 

Hierdie jaar is nou baie vinnig besig om sy laaste paar treë te stap en ons sien baie uit na ons wildtuin vakansietjie oor kerstyd.  Nou nog net die tonne werk wat voor dan gedoen moet word agter die rug kry.  En verkieslik voor die skool die 14de sluit en hulle tweetjies voltyds hier by die huis rond dwaal...

Monday, 19 November 2012

Wat geld nie kan koop nie...

As 'n mens 5 jaar oud is, is daar blykbaar nie veel wat geld nie kan koop nie.

Ek en sussie het vanoggend 'n gesprek oor haar snoepiegeld wat ons moet inbetaal:
Zel:  Ek sal sommer my eie geldjies vat Mamma.
Mamma:  Dis reg, maar dan is jou geldjies op, ne.  (Haar gunsteling ding om met haar geld te doen is om dit vir die karwagte te gee!!  Sy raak histeries as ek my geld gee....)
Zel:  Ek het 'n baie goeie idee, Mamma.  As ons van nou af dorp toe gaan, dan kan ek my eie geldjies sommer gebruik vir sweets, want jy het nooit geld nie.
Mamma:  Dis oulik, maar jou geld is nou op.  Jy het dit vir die snoepie gebruik...
Zel:  Ja, man, maar as ons by die winkel kom dan koop jy by die Tannie vir my my eie geld.

En daar is die oplossing vir elkeen van ons en Suid-Afrika se probleme...  Koop net vir julle nog geld!

Gister is ons in Witbank by Highveld mall en Sussa stap met oom Gerhard aan die hand.  Sy dink op los sy hand om na iets te kyk en ons stop om vir haar te wag, maar sy dink ons het aangestap, storm verby ons en gryp 'n swart man se hand.  Ons loop en lag vir haar, maar dit vat haar seker 50m voor sy besef wat aangaan!  Kom ons sê maar net die swart man was erg benoud en baie verlig toe ons almal lekker lag!  Natuurlik was sussa kwaad vir ons ALMAL!!

Sussa is omtrent vrygewig met die komplimente ook deesdae.  Sy het Vrydag vir haar tannies onderskeidelik gesê een raak oud, een raak mal en iemand was sommer 'n bietjie stadig ook...  Ons werk aan wat 'n mens mag en nie mag sê nie hierdie week!!

Boeta is weer op 'n goeie stadium die laaste week waar ek begin hoop kry dat hy tog iewers uit sy dop uit gaan kruip en nie altyd so skaam sal wees nie.  Waar hy laas naweek by 'n partytjie nie een keer langs my gee pad het om op die springkasteel of watergelybaan te speel nie en Sondag in die kerk op my skoot gesit het met altwee my arms vasgeklem het hy gister by Spur uitgestorm en saam met maats gaan speel.  Hy het sy sussie kom haal as sy in kom want hulle moet '' buite peel''.  Gisteraand met die gemeente kerssangaand het hy in 'n donker kerk met net fairy lights en kerse op die gallery voor by die ander kinders op die mat gaan sit om beter te kan sien en vanoggend al die pad na sy klas toe gestap en sy tas self in sy rakkie gaan sit sonder trane. 

As mens bid vir iets en dit gebeur moet mens seker leer om net dankbaar te wees en nie heeltyd te wonder hoe lank dit gaan hou nie, ne...  Ek is so bang vir daardie hart-se-punt-seunskind van my.  Na my selfstandige meisiekind met tonne selfvertroue is dit 'n ander speletjie om hom groot te maak.  My hart breek vir my kind wat by die skool 'n mensie is wat ek glad nie herken nie.  Om elke oggend 'n huilende seuntjie af te laai wat glad nie oop maak vir enige iemand nie en die hele dag net uit sien na wanneer ek hom weer kom haal breek 'n ma se hart.  Om dit vir 11 maande aanmekaar te doen is sielsdodend....  Ek bid regtig vir 'n beter jaar vir hom volgende jaar.