Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Monday, 19 November 2012

Wat geld nie kan koop nie...

As 'n mens 5 jaar oud is, is daar blykbaar nie veel wat geld nie kan koop nie.

Ek en sussie het vanoggend 'n gesprek oor haar snoepiegeld wat ons moet inbetaal:
Zel:  Ek sal sommer my eie geldjies vat Mamma.
Mamma:  Dis reg, maar dan is jou geldjies op, ne.  (Haar gunsteling ding om met haar geld te doen is om dit vir die karwagte te gee!!  Sy raak histeries as ek my geld gee....)
Zel:  Ek het 'n baie goeie idee, Mamma.  As ons van nou af dorp toe gaan, dan kan ek my eie geldjies sommer gebruik vir sweets, want jy het nooit geld nie.
Mamma:  Dis oulik, maar jou geld is nou op.  Jy het dit vir die snoepie gebruik...
Zel:  Ja, man, maar as ons by die winkel kom dan koop jy by die Tannie vir my my eie geld.

En daar is die oplossing vir elkeen van ons en Suid-Afrika se probleme...  Koop net vir julle nog geld!

Gister is ons in Witbank by Highveld mall en Sussa stap met oom Gerhard aan die hand.  Sy dink op los sy hand om na iets te kyk en ons stop om vir haar te wag, maar sy dink ons het aangestap, storm verby ons en gryp 'n swart man se hand.  Ons loop en lag vir haar, maar dit vat haar seker 50m voor sy besef wat aangaan!  Kom ons sê maar net die swart man was erg benoud en baie verlig toe ons almal lekker lag!  Natuurlik was sussa kwaad vir ons ALMAL!!

Sussa is omtrent vrygewig met die komplimente ook deesdae.  Sy het Vrydag vir haar tannies onderskeidelik gesê een raak oud, een raak mal en iemand was sommer 'n bietjie stadig ook...  Ons werk aan wat 'n mens mag en nie mag sê nie hierdie week!!

Boeta is weer op 'n goeie stadium die laaste week waar ek begin hoop kry dat hy tog iewers uit sy dop uit gaan kruip en nie altyd so skaam sal wees nie.  Waar hy laas naweek by 'n partytjie nie een keer langs my gee pad het om op die springkasteel of watergelybaan te speel nie en Sondag in die kerk op my skoot gesit het met altwee my arms vasgeklem het hy gister by Spur uitgestorm en saam met maats gaan speel.  Hy het sy sussie kom haal as sy in kom want hulle moet '' buite peel''.  Gisteraand met die gemeente kerssangaand het hy in 'n donker kerk met net fairy lights en kerse op die gallery voor by die ander kinders op die mat gaan sit om beter te kan sien en vanoggend al die pad na sy klas toe gestap en sy tas self in sy rakkie gaan sit sonder trane. 

As mens bid vir iets en dit gebeur moet mens seker leer om net dankbaar te wees en nie heeltyd te wonder hoe lank dit gaan hou nie, ne...  Ek is so bang vir daardie hart-se-punt-seunskind van my.  Na my selfstandige meisiekind met tonne selfvertroue is dit 'n ander speletjie om hom groot te maak.  My hart breek vir my kind wat by die skool 'n mensie is wat ek glad nie herken nie.  Om elke oggend 'n huilende seuntjie af te laai wat glad nie oop maak vir enige iemand nie en die hele dag net uit sien na wanneer ek hom weer kom haal breek 'n ma se hart.  Om dit vir 11 maande aanmekaar te doen is sielsdodend....  Ek bid regtig vir 'n beter jaar vir hom volgende jaar.