Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Wednesday, 28 September 2011

Waar leer hulle dit.......

Is 'n mens veronderstel om onmiddelik op die verdediging te gaan wanneer jou kind iets doen wat baie onaanvaarbaar is in alle sosiale, higiëniese en aanvaarbare reëls van 'n beskaafde samelewing en dit word gevolg deur die vraag:  "Waar leer hulle dit?"  (Met die nodige skokkende gesigsuitdrukking en stemtoon!)

Die eerlike waarheid is, ek het absoluut, hoegenaamd GEEN idee nie!

Wihan het die laaste paar weke aanhoudend 'n baie nat hoes (tande) wat verskeie kere in 'n dag eindig in 'n slymerige gemors op sy bed, my bed, die mat, die karstoeltjie, die kombuisvloer, die badkamerwasbak as ek betyds is....   Nou het mannetjie besluit dat hy elke keer as hy hoes, kug of keel skoonmaak moet spoeg - op sy bed, my bed, die mat, die karstoeltjie, die kombuisvloer, die badkamerwasbak.....  Oulike prentjie, boetie waggel in die gang af, kug, stop doodstil, buk vooroor en ghop op die vloer....  En die onafwendbare vraag - "Waar leer hy dit?"  Sjoe, ek weet nie, hy sien seker hoe Mamma en Pappa orals loop en ghop - hoe dan nou anders?!!

Gisteraand is sussie besig om haar tee te drink en Wihan is (natuurlik) besig om die beker uit haar hand uit te probeer slaan met die stofsuier se pyp. 
Zellie:  "Mamma, vat vir boetie weg, hy pla my."
Mamma:  "Wihan, los vir sussie, kom eet jou tjippies.:
Sussie:  "Ja, vat hom weg, ek wil hom nie hê nie."
Mamma:  (Probeer die subbe oorlog verhoed en liefde saai!)  "Is dit nie lekker om met boetie te speel nie?"
Sussie:  "Nee, hy is jou kind.  Ek hou nie van hom nie.  Jy wou hom hê."
En weereens die reaksie van alle oorde!!  "Waar hoor sy dit?"  Gros, ek weet nie!!  Seker by my toe ek gisteraand vir Francois gevra het om hom te vat!  Ek weet nie waar hoor sy 90% van die dinge wat sy kwytraak nie.  Ek pleit onskuldig! 

Op 'n positiewe noot gaan dit beter met Wihan se bors.  Sussie hoes haar longe uit en more aand is konsert!  Hoop nie die dansery laat haar hoes nie!  Hulle twee speel al hoe lekkerder.  As sy 'n koekie het moet "my boetie" of "Wiwi" ook een kry.  Hulle speel op die "slide"  (Klein slide in die huis!).  Sy klim voor en boetie agter.  As sy bo sit gryp sy boetie agter haar rug vas en trek hom op sy maag af!  Hy love dit!

Hy raak nou baie oulik.  Klim self op en draai in sittende posisie, bly regop as hy afgaan.  Regtig te oulik en ons klap hande en hy is te trots.  Besluit natuurlik om dit 'n stappie verder te vat en nou staan hy bo op die slide en dans en klap hande!  Die helletjie weet hy mag nie.  As ek opstaan gaan sit hy vinnig en gly af.  Hy weier ook om op te klim as ek daar staan.  Dan hardloop hy weg en kruip agter die bank weg.  As hy sien ek gee pad kom hy uit met hierdie moewiese stoute grynslag op sy bakkies en begin klim!  Staan Mamma op klim hy net daar af en hol weer weg.  Staan Mamma nie op nie staan hy op die bopunt van die slide en dans!!  Ek weet spring is volgende.  Dis hoe hy operate!  En nee, weereens nie iets wat hy by my, Pappa of sy doodrustige sussie gesien het nie!!

Gisteraand nadat ek 'n storie oor feetjies moes uitdink, bybel lees en 'n bybel liedjie sing, bid sussie vir ons:
Liewe Jesus, dankie dat jy vir my 'n Mamma gemaak het en 'n Pappa gemaak het en 'n Boetie gemaak het en 'n Sussie gaan maak.  (Nice try, Mamma het gelukkig 'n verskriklike dik vel!)  Dankie vir my huis en twee badkamers en twee toilette.  (Dink julle die huis soek ding beinvloed my kind se sin van waardes!)  :-) 

Wednesday, 21 September 2011

Leeus, spoke en Bloubolleweeste.....

Ons het die naweek die kinders Magaliesberge toe gevat.  Wat 'n fees.  Ons almal het dit ongelooflik baie geniet.  Ons het op 'n plaas gebly in die oulikste huisies.  Lekker ruim met groot groen grasperke en 'n swart labrator (Mokke) wat mal was oor die kinders (en hulle oor hom!)

Wihan se senuwees was die grootste deel van die naweek aan flarde.  Eers bespring die kat hom by Goblin's cove, toe is hy doodbang vir die groot standbeeld van die tande, toe is dit al die nou gangetjies en geverfde goedjies in die restaurant....  Shame.  Speel so bietjie met die sand, draai om en skreeu.  Huil klaar.  Speel so bietjie in die sand, draai om en skreeu.....  Saterdag by Maropeng is ons eers deur die tonnel van evolusie met die bootjie.  Hierdie keer was Zellie histeries.  Wihan het net baie styf vasgehou aan my arms.  In die museum self klim hy ewe dapper die trappos op boontoe, klim is mos sy middelnaam, en kyk vas in 'n skedel met 'n groot grynslag op sy gesig.... slat amper gat oorkop en gil soos 'n dogtertjie!!!  Nog 'n paar grys hare by.  Dit is verskriklik oulik daar.  Vrek duur, maar regtig goed in stand gehou.  Sal graag die kinders weer wil vat as hulle ouer is en kan verstaan waaroor dit gaan.  Daar is tot skedels en allerhande bene en goeters in die sandput begrawe wat die kinders kan uitgrou.  Regtig baie oulik.

Wihan het Sterkfontein grotte misgeslaap.  Hopeloos te vaak vir die avontuur ook nog.  Francois is af met Sussie.  Sy reken my:  "Ek was nie eers bang nie, want die oom praat so "Englipsh" en dan verstaan ek nie eers as hy van die spoke vertel nie!"  Klink dit nou nie baie na 'n woord waarop haar oupa Japie vreeslik trots sal wees nie!!

Sondag is ons Lion and Rhino park toe.  Baie diere naby aan die pad - regtig oulik vir die kinders.  Jy sien heeltyd iets en hulle raak nie gefrustreerd nie.  Daar is 'n groot verskeidenheid diere - elande, blouwildebeeste, swartwitpense, springbokke, gemsbokke, baster gemsbokke, tsessebes, leeus, luiperds, jagluiperds, wit leeus, wilde honde, volstruise....  Kort-kort is daar iets om na te kyk (in Wihan se geval om na te ha ha...  met gepaste gepunte vingertjie natuurlik.)  O,ja en sussie het die meeste gehou van die Blou bolleweeste! 

In die creche waar die kinders met die baba diertjies kan speel het alles besluit Wihan is net die regte bite-size vir 'n maaltyd.  Die leeuwelpies (2 maande oud), tierwelpies (4 maande oud) en die Maribu stork het gegaan vir hom.  Die voël was die ergste, reguit vir sy oë gegaan.  Gelukkig was ek naby aan hom.  Ek het nie gedink hulle sal sommer 'n kind aanval nie.  Die gidse sê dit maak nie saak hoe mak hulle is nie, enigiets kleiner as hulle self is prooi.  Gisteraand kyk ons National Geographic...  Wihan lag vir al die diere en wys vingertjie en ha-ha en as daar 'n leeu opkom gee hy een gil en begin huil!  Hy is nog nie reg vir diepste donker Afrika nie, ne!!

Op pad terug Maandag het ons nog vir ou laas kerse gemaak by Blauwbank general stores.  Regtig nice en spotgoedkoop.  Sal enige tyd weer soontoe gaan.  Ek sal heeldag daar staan en kerse dip.  Tot Pappa het enetjie gemaak! 

Zellie was omtrent in trane toe ons moes ry.  Wou net vir Mokke saam bring huis toe, want sy het nie eers so 'n groot hond nie...

Ek moet foto's by sit...  sal dit doen sodra ek afgelaai het.

Monday, 12 September 2011

Tien jaar later

Ons kyk gisteraand na 'n dokumentêr oor 11 September 2001.  Dis mos engels en sussie sal nie verstaan wat gebeur nie.  Verkeerd....  Na so 'n rukkie val sy weg met "as ek die vliegtuig so sien kom, dan sê ek vir my mamma en dan sê ek vir my pappa en dan sal ons baie vinnig hardloop voor dit brand en voor die rook kom en dan is ons ver weg en dan sal ons nie eers so seer kry as die slegte mense kom en hulle skiet die gebou en dit brand so en en en en en ..... "  Nou-ja, toe kyk ons die res van die aand Tom en Jerry en slaap gisteraand met die gordyne oop!  Sy is baie bang, maar sal nie meer bang wees as ek die gordyne oop maak nie.  (Kon nie gisteraand verstaan hoekom nie, maar dink vanoggend dat sy waarskynlik dink dat sy dan die vliegtuig sal sien aan kom...  :-(  ) 

Mens kan darem maar nie hulle vermoë om te verstaan en in te neem onderskat nie. Dit is nogsteeds 'n gebeurtenis wat te groot en te tragies is om te verwerk of op te som.  Elke keer as jy 'n program daaroor kyk is daar nuwe feite wat jou skok.  Beeldmateriaal van iemand wat in die Pentagon gebrand het, die weermagoffisier wat praat van die soldaat met altwee oë uit wat hy uit die puin gered het, die man wat van bo die verdieping van impak kon vlug met 'n erg beseerde vrou terwyl meer as 200 mense by hom verby is op pad boontoe waar die helikopters hulle sou kom red... :-(

En tien jaar later gaan my kind wat toe nog nie eers gebore is nie angsbevange bed toe omdat ook sy nie kan verstaan hoe 'n mens so sleg kan wees nie...

Ek en Francois praat gisteraand so oor die mense wat daar was met kinders en Zellie wat so aanhou dat ons haar sou beskerm het as sy daar was.  Hoe verskriklik moet dit nie wees om in so 'n tipe situasie te wees en jou kind nie te kan beskerm nie.  Wat doen jy in daai vliegtuig met jou kind as jy weet hy gaan neerstort.  Terwyl almal huil en hy/sy doodbang aan jou vasklou vir beskerming.  Soos hy maar gewoond is om te doen as die weer swaar is of die hond hom wil byt of hy 'n nagmerrie gehad het...  Wat doen jy in situasie waar jou kind angsbevange is en jy weet hierdie keer het jy nie die antwoord of die vermoë om dit beter te maak nie.  Bring trane in my oë en 'n knop in my keel wat ek nie weggesluk kry nie. Kan net bid:  "Here, asb moet my nooit magteloos maak as dit by my kinders kom nie..."  Ek dink nie 'n mens verstaan dat jy vir iemand liewer as jouself kan wees totdat jy kinders het nie...

Friday, 9 September 2011

Tot hare sny is drama!

Hierdie laaste week is verskriklik met altwee kinders!  Wihan is siek - alweer.  Wihan is op antibiotika - alweer.  Wihan huil oor alles - alweer.

Franzél tjop af omdat hy al die aandag kry en dan begin sy ongelooflik emosioneel raak en H U I L  O O R  A L L E S....  En ek meen ALLES!  Gistermiddag by die skool gehuil omdat ek haar kom haal en nie Pappa nie.  By die dokter gehuil omdat boetie dokter toe gaan en nie sy nie.  By die huis gehuil omdat Pappa die hond geslaan het.  Gehuil omdat die hond haar 'gebyt' het.  Gehuil omdat sy nog nie kos gekry het nie.  Gehuil omdat ek gesê het sy moet haar kos eet.  Gehuil omdat sy raas gekry het omdat sy nie haar kos geëet het nie.  Gehuil omdat boetie aan haar gesig gevat het (hy't my geslaan, Mamma whaaaaaaaaa!)  En ek meen hartverskeurend, snot-en-trane, ugly cry huil.  Die gesiggie trek so, dit lyk of sy van rubber gemaak is.  Ek moet nog 'n foto neem!  Dan probeer ek haar kry om te lag en dan huil sy eers.  En dan lag sy bietjie en dan huil sy nog harder!  Ek was naderhand lus en begin loop en draai nooit ooit weer om nie!

Vanoggend probeer ek nou regtig my bes om nie die kraantjie oop te draai nie.  As sy eers begin het is daar nie einde nie!  Besig om haar hare te vleg het ons die volgende gesprek:
Franzél:  "Eiiiinnnnnaaaaaa,  jy maak my seer, kyk hoe loop my trane nou."
Mamma:  (Dink, net nie trane nie, net nie trane nie, net nie die flippin trane nie.)  Sê:  "Toemaar my skapie.  More gaan ons jou haartjies sny en die tannies gaan dit was en droog blaas en dan gaan dit baie makliker kam." 
Franzél:  "En hulle gaan dit kleur ook."
Mamma:  "Nee, net Mammas kleur hare."
Franzél:  "Whaaaaaaa....... maar ek hou van Pienk hare.  Ek wil so bitter graag pienk hare hê!!!!!  Hoekom mag ek nie eers pienk hare hê nie??!!!"
Mamma:  "Het jy al ooit 'n dogtertjie gesien met pienk hare"
Franzél:  "Nee.  Hoekom mag ek nie die eerste ou enetjie wees nie!!!!????  Whaaaa....."

Grrrrrrrrrrrrrrrrrr.   En toe kry sy koud en toe is daar nie 'n pleister vir haar eina nie en toe vat Wihan haar snoepiegeld en toe is ons in trane skool toe en toe hardloop sy vir die derde keer hierdie week agter my aan toe ek by die klas se deur uit stap...  (Ja, in TRANE!)

Hulle sê jou dogtertjie op 5 is jou dogter op 16.  Dit behoort heel goed uit te werk.  Sy gaan te besig wees om te huil om haar te steur aan seuns, dwelms, drank ......... 

Ek moet net hierdie naweek tyd maak vir iets spesiaals saam met haar doen.  Dit is nie normaal nie.  Kan nie wees nie!

Tuesday, 6 September 2011

Mamma, het jy geweet.....

Franzél:  "Maar, Mamma, het jy geweet **** het gister by die skool chilli sous gekry?"
Mamma: "Hoekom?"
Franzél:  "Want hy het vir ons gesê sy pa het vir hom gesê hy gaan hom dood b*sem....."

Eina...  Wonder hoeveel kinders het gisteraand met die storie by die huis aangekom!! 

Dit is lekker as mens sien iets wat jy in hulle koppies probeer inprent het, het gewerk.  Ek sit al vir haar 'n hoed in skool toe en smeer sonroom vandat sy kon loop.  Meestal het sy hom op as ek by die skool kom, partykeer vergeet sy.  Vandag het hulle weer begin swem.  Op pad by die deur uit met haar sak vra sy ek moet asb haar hoed onthou en vir haar sonroom in haar sak sit sodat sy weer kan aansmeer as sy klaar geswem het.  Want, "Dis nou lente en ek wil nie hê my neusie moet bloedrooi brand nie..."

Ons is 'n treë nader aan ons doel.  So ver gebeur die dinge teen 'n behoorlike spoed.  Hopelik is dit 'n teken dat ons die regte ding doen en dat ons almal uiteindelik daarby sal baat.