Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Monday, 12 September 2011

Tien jaar later

Ons kyk gisteraand na 'n dokumentêr oor 11 September 2001.  Dis mos engels en sussie sal nie verstaan wat gebeur nie.  Verkeerd....  Na so 'n rukkie val sy weg met "as ek die vliegtuig so sien kom, dan sê ek vir my mamma en dan sê ek vir my pappa en dan sal ons baie vinnig hardloop voor dit brand en voor die rook kom en dan is ons ver weg en dan sal ons nie eers so seer kry as die slegte mense kom en hulle skiet die gebou en dit brand so en en en en en ..... "  Nou-ja, toe kyk ons die res van die aand Tom en Jerry en slaap gisteraand met die gordyne oop!  Sy is baie bang, maar sal nie meer bang wees as ek die gordyne oop maak nie.  (Kon nie gisteraand verstaan hoekom nie, maar dink vanoggend dat sy waarskynlik dink dat sy dan die vliegtuig sal sien aan kom...  :-(  ) 

Mens kan darem maar nie hulle vermoë om te verstaan en in te neem onderskat nie. Dit is nogsteeds 'n gebeurtenis wat te groot en te tragies is om te verwerk of op te som.  Elke keer as jy 'n program daaroor kyk is daar nuwe feite wat jou skok.  Beeldmateriaal van iemand wat in die Pentagon gebrand het, die weermagoffisier wat praat van die soldaat met altwee oë uit wat hy uit die puin gered het, die man wat van bo die verdieping van impak kon vlug met 'n erg beseerde vrou terwyl meer as 200 mense by hom verby is op pad boontoe waar die helikopters hulle sou kom red... :-(

En tien jaar later gaan my kind wat toe nog nie eers gebore is nie angsbevange bed toe omdat ook sy nie kan verstaan hoe 'n mens so sleg kan wees nie...

Ek en Francois praat gisteraand so oor die mense wat daar was met kinders en Zellie wat so aanhou dat ons haar sou beskerm het as sy daar was.  Hoe verskriklik moet dit nie wees om in so 'n tipe situasie te wees en jou kind nie te kan beskerm nie.  Wat doen jy in daai vliegtuig met jou kind as jy weet hy gaan neerstort.  Terwyl almal huil en hy/sy doodbang aan jou vasklou vir beskerming.  Soos hy maar gewoond is om te doen as die weer swaar is of die hond hom wil byt of hy 'n nagmerrie gehad het...  Wat doen jy in situasie waar jou kind angsbevange is en jy weet hierdie keer het jy nie die antwoord of die vermoë om dit beter te maak nie.  Bring trane in my oë en 'n knop in my keel wat ek nie weggesluk kry nie. Kan net bid:  "Here, asb moet my nooit magteloos maak as dit by my kinders kom nie..."  Ek dink nie 'n mens verstaan dat jy vir iemand liewer as jouself kan wees totdat jy kinders het nie...