Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Friday, 1 June 2012

Hy praat soos 'n mens, Mamma!!

Boetie raak nou 'n mens en Sussie is dood opgewonde daaroor!!

Dinsdagaand lê Sussa onder 'n kombers voor die tv en smeek ons om asseblief haar Otto te bring.  Ons is almal onder komberse en sê natuurlik soos goeie ouers, "nee, gaan haal hom self!"  Sy kla aanhoudend "ek kry koud"  "ek lê lekker"  "ek kyk my storie"  "gaan haal asseblief my Otto".  Uiteindelik storm Boetie kamer toe, kry Otto op haar bed, bring hom vir haar en sê "daar's hy".  Aaaaahhhhhhggggg! 

Gisteraand kom Boeta histeries na my toe aangestorm met sy mou opgetrek, wys verwoed met die vingertjie en sê  "Hy stout.  Eina.  Byt.  Eina.  Hy stout.  Byt."  Sussie het op die harde manier geleer dat Babatjies wat kan praat ook kan skinder! 

Vanoggend ry ons skool toe en ek sê vir haar sy moet vir Boeta woordjies sê dat hy dit ook kan sê.
Hulle sê  "kietie"  "byt"  "woefie"  "jaaaa" "sussie".
Sussie reken "Mamma, hy praat soos 'n regte mens.  Dis te sweet.  Kyk hoe mooi smile hy vir my!"

Verlede week het hulle nie snoepie gekry nie, omdat hulle stout was.  Ek was eintlik nogal upset daaroor, omdat die hele klas dan gestraf word vir 'n paar kinders wat stout is.  My kind is dood bang vir juffrou en snoepie is vir haar ALLES.  Sy begin al Dinsdag middag die slapies tel tot snoepie.

Vanoggend op pad skool toe reken sy my "en as ons vandag nie soos mal mense raas en ons tasse op die stoep neer smyt nie, sal ons snoepie kry!"  Die les is blykbaar geleer. Hoop net almal het dit geleer.  En wat juffrou sê maak sin.  Sy dreig al van Januarie af om snoepie weg te vat en niemand steur hulle meer aan haar nie.  Nou sal hulle weer 'n paar maande onthou sy's ernstig!  Ek sal nie te veel kritiseer nie.  Ek sien vir seker nie kans vir 20 5-jarige kinders nie!!

More is Melissa 2 jaartjies oud.  Ek sal Maandag foto's op sit van haar partytjie.  Geluk met jou verjaarsdag Lissa!