Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Tuesday, 11 December 2012

Arme vakansieskoolkinders...

Daar is darem nie 'n aakliger tyd om jou kinders by 'n skool te moet gaan aflaai as Desember nie.  Die hele wêreld en sy maats is op vakansie of lê lekker by die huis rond en hulle moet elke liewe oggend soos gewoonlik skool toe gaan.  Daar is omtrent 50 kinders in die hele skool, hulle gewone maatjies is nie daar nie, die juffrouens is geirriteerd omdat hulle daar moet wees en daar is net mooi niks om hulle besig te hou nie.  Hulle kyk of tv of speel buite en dis dit.  Op 'n dag soos vandag sit hulle heel dag op die klipharde bankies en tv kyk en as hulle dit waag om te gesels skreeu iemand op hulle, want die ander maatjies kan nie hoor nie.  Kan daar 'n groter straf wees vir 'n kind.  Ek kan nie dink hoe my mannetjie volgende jaar daar bo gaan reg kom nie.  Hy kyk glad nie eers tv nie!!  Hy sal doodgaan as hy die hele dag daar moet kierts regop sit en tv kyk.

Arme Sussa was so ver in haar hele skool loopbaan net drie weke nie in vakansies by die skool nie.  Ons hou buite seisoen vakansie en ons kan nie elke skoolvakansie af vat nie.  Selfs met my wat van die huis af werk kan ek hulle nie hier hou en enige vorm van werk gedoen kry nie.  Veral Boeta los my nie vir 'n sekonde uit nie.  En hy is nie meer dom nie, so ek kan nie meer vir Sussa uit hou en hom alleen skool toe stuur nie.  Hy freak behoorlik uit, want hy weet sy is by die huis en hy moet skool toe gaan.  Nou dat hulle boonop bo gaan speel sal hy onmiddelik sien sy is nie by die skool nie, maar hy is.

Vandag voel ek sommer net super sleg, want Boeta was nou regtig glad nie lus om in te gaan nie.  Die ou voetjies sleep sommer al van die hek af.  Toe ek by die huis die sleutel vat begin hy sommer dadelik huil "nie ly nie, nie ly nie".  Weet al dit beteken skool toe...

Eendag as ek groot is gaan ek glad nie nodig hê om te werk nie....  Net jammer my kinders sal dan ook al groot wees en dit gaan hulle niks help nie, ne....