Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Wednesday, 18 January 2012

Waterpokkies???

Eerste dag van skool vandag.  Sussie is na haar nuwe klas toe sonder enige trane en sonder om my te groet toe ek loop!!  Sy was so opgewonde om haar maatjies te sien en daar is twee klaspartytjies en twee koeke en twee party packs vir elke kind en 'n wasmasjien en 'n strykplank en 'n pophuis en en en!!  Hoe lekker!  Die vorige twee jaar was elke jaar 'n nagmerrie met trane wat vir weke aangehou het!  Sy't vanoggend baie vroeg opgestaan en gekla haar been is seer en ek het gedink hier kom dit nou.

Die been is al 'n hele paar maande lank aan en af seer.  Eintlik al meer as 'n jaar??  Sy sal 'n paar weke niks makeer nie en dan skielik mank loop en kla haar been is seer en huil van pyn.  Ek het al gedink groeipyne, maar dit is elke keer dieselfde been.  As sy nie een lang en een kort been gaan kry nie, maak dit nie regtig sin nie...

Boetie is huilerig en moeilik en slaap by ons in die bed.  Hy weier om in sy eie bed te bly.  Ek het hom eergisteraand nege keer teruggevat en geraas en hy het elke liewe keer weer agter my aangeloop na my kamer toe.  As ek vir hom sê gaan klim in die bed en doedoe, gaan haal hy die trappie en klim in ons bed!

Vanoggend toe ek hom skool toe vat was daar 'n groterige rooi perfekte ronde kolletjie op sy wang.  By die skool was daar drie.  Toe ek hom vir Adele gee en die ander wang sien was daar vyf op hom.  Drie op sy nek en een op die oor.  En ek weet hy het nie sy 15 of 18 maande inentings gehad nie en een van hulle is die waterpokkie inenting!!  Grrrrrrrrrrrrrrrrrrrr!!!!!!!!  Raai wie gaan more vir sy agterstallige inentings as dit nie die pokke is nie!

Ons is besig om Zellie se verjaarsdagpartytjie te reël en ek is amper meer opgewonde as sy.  Ek weet net nie wat om met die seuntjies te doen op 'n Raponsie (Tangled) partytjie nie.  Pienk en pers koek, pienk tafeldoek, pers stoelrokkies, Chinese papier lanterns in pienk en pers, ses dogtertjies en twee seuntjies!!!  Boetie tel blykbaar nie, want hy moet by die grootmense sit sodat hy nie al die maatjies se sweets opeet nie, Mamma!

Monday, 16 January 2012

Voor ek vergeet!

Zellie kom in van buite af waar sy en boetie in die modder speel.  (Gunsteling aktiwiteit langs die huis onder die perskeboom!)  Weet nie hoekom ons 'n sandput gebou het onder die klimraam nie.  Dis ook hoekom ons nie bodder om sout in die sandput te gooi nie!  Dis moeilik om elke bedding in die erf sout te gooi!

Zellie hou haar hand uit om die rys wat ek besig is om in die pot te gooi te vang.
Mamma:  "Nee, moenie man.  Jou handjies is vuil.  Ons sal doodgaan."
Zellie:  "Wil jy nie doodgaan nie?"
Mamma:  "Nee, nie nou al nie."
Zellie:  "Wil jy eerder nog bietjie langer hierso bly om die hele dag met my te raas?"

Sy't deesdae die manier om mens oop mond te soen, want dit is dan hoe hulle op die tv soen! 

Laaaaaaaang update

Die vakansie is verby en alles is besig om so stadig maar seker terug te val in plek.  Ek werk nou 8 tot 2 en het lekker baie tyd met die kinders.  Ons geniet dit so ver nog baie!  Ons het ook maats gemaak met die bure se kinders en het min of meer heeldag gesiggies wat oor die muur loer!  Ek is seker 'n hele paar goed wat Desember gedoen of gesê is het verlore geraak in my verouderde brein, maar sal maar die paar neerpen wat ek wel kan onthou! 

Ons het 'n week by Oupa en Ouma in Pretoria gekuier en Wihan het hulle vermaak (gemartel!) met alles wat hy kan uitdink, doen en breek!  Hy het 'n paar keer in die  nag opgestaan en by Oupa in die bed gaan klim, iets wat sussie nooit ooit gedoen het nie!  Hy het ten minste twee tuinornamente gebreek (waarvan ek weet!) Oupa help kar was, die ketting in die wasmasjien gegooi om een of ander duister rede, rou noodles met 'n mes oopgesny toe hy sien sy ma gaan nooit weer vir hom kos gee nie, elke keer as hy verby die (toegebind met toue en linte!) kombuiskaste loop sy een arm deurgesteek en met sy ander arm vir oupa gewaai! 

Hy het darem so bietjie meer begin belangstel om te praat.  Sê nou deesdae vir alles "Jaaaa" en roep vir sussie (trek die neusie op 'n plooi) en dan roep hy "sie", hy sê "Oupa" en "ai-ai-ai", "Yeah" as jy hom uit die bed uit laat klim wanneer hy voel hy's nog nie reg om te slaap nie!  Hy het agtergekom dat hy vir sussie kan bang maak met sekere goed en byt dit behoorlik uit.  Hardloop al agter haar aan en probeer dit (Gewoonlik 'n blaar of iets wat soos 'n gogga lyk) teen haar vasdruk.  Hy het begin om wanneer ons in geselskap is te lekker te lag as ek of Pappa lag.  Dit is te sweet, want hy lag presies op die regte tyd en dit klink of hy die gesprek volg.  Hy is besig!  Ongelooflik besig, maar soek baie liefde en drukkies en aandag en is op sy gelukkigste as jy by hom sit en hy op jou kan klim.  My mannetjie raak groot en lank en dra op 18 maande klere vir 'n kind van 2 - 3.  Hy het geleer om ons klimraak (Baie hoog met trappies wat ver uit mekaar uit is) te klim en ons kan hom nie meer alleen buite los vir 'n sekonde nie!  Elke middag as hy van die skool af kom, bly hy eers bietjie in my kar agter die stuurwiel sit, sit die radio aan en harder en dan bollie hy in my kar!!  Selfs die een dag toe ek hulle 'n uur later gaan haal en nog 'n halfuur by die skool gedraai het ook!!  Ek weet nie hoe ek hom in my kar gaan potty train nie, maar dink dit sal werk.

Sussie is besig om te vinnig te groot te raak en baie wys.  Ons leer elke dag ietsie nuuts by haar!  'n Paar goed wat ek kan onthou:

In die kar (na ons al baie ver gery en nog baie voor oor gehad het om te ry) is die kinders altwee aan die skreeu:
Pappa:  "Ag Vader tog!"
Zellie:  "Pappa, wie is jou Vader?"  (Sy vra die laaste tyd aanhoudend hierdie vraag en ons het al verduidelik.  Sy sê ook haar r met hierdie regte oordoende engelse aksent "vadehr".
Zellie:  "Pappa, God is mos jou Vader?"
Pappa:  "Ja."
Zellie:  "Nou maar wat wil jy vir hom sê?"

Vanoggend by die skool loop ons terug na haar klas toe van boetie se klas af:
Zellie:  "Mamma, as kindertjies so groot word dan baklei hulle met hulle mammas en pappas vandat dit lig word totdat dit donker is!" 
Sal nie weet waar leer ons dit nie!

Ons was Nuwejaarsdag by de Voetpadkloof en sy en boetie bly op die muurtjie klim:
Mamma:  "Boetie, klim af daar, jy gaan al jou tande uit val!"
Zellie:  "Toemaar boetie, as jy jou tande uitval, bring die tandemuis vir jou BAIE geld."

Ek moet foto's opsit!  Eintlik moet ek die laaste jaar en 'n half se foto's op sit!  Sal iewers, belowe!  Hierdie "merry-go-round" moet net eers bietjie stadiger begin draai!

Thursday, 24 November 2011

Oor honde...

So 'n paar maande gelede het ons ons 2 Jack Russel tefies weggegee.  Sy het baie aggressief geraak nadat sy kleintjies gehad het en aanhoudend na die kinders gebyt.  Wihan kon nie eers net buite op die gras loop sonder om 'n hap te kry nie.  Ons het mooi vir sussie verduidelik dat Sasha en Wendy na 'n nuwe huis toe is, omdat sy vir haar en boetie byt.

Gister loop ons op pad kar toe 'n draai om honde-bollie.  (Die reuntjie is bang vir sy skaduwee, so ons kon hom hou!  Zellie reken:  "Mamma, ek dink ons moet die hond vir die ander oom gee, want hy bollie net die hele wêreld vol!"  Duidelik kan sy sien wat die voor- en nadele van sekere dinge is!  En duidelik aard sy baie na haar Pa!  (Toemaar, ons sal hom nie regtig weggee nie!)

Tuesday, 22 November 2011

My slim mannetjie

Ons verstom ons die laaste tyd aan boetie se redenasievermoë.  Hy spraak geen sprook nie, maar dom is hy vir seker nie! 

Gisteraand is Pappa in die stort en Wihan staan en kuier aan die ander kant van die stortdeur soos gewoonlik.  Wihan sien Pappa het nie 'n waslap nie en gaan haal vir hom een in die bad.  Hy hou die waslap eers so teen die stortdeur en Francois maak of hy hom probeer vat.  Wihan ruk die waslap weg, maak die deur oop en gooi die waslap vir Pappa! 

Hy bou toringkies met absoluut alles!!  Vanoggend het hy sy gogga-stoot-dingetjie eers op die swart fiets gesit, toe 'n bakkie bo-op, blokkies binne in die bakkie en toe 'n bal bo-op die bakkie.

Gisteraand gee ons vir hom visvingers.  Eers freak hy omdat ek die visvingers in die vrieskas sit om koud te word.  Spring op en af en skreeu en wys met sy vingertjie na die vrieskas en baklei!  Ek haal toe maar die warm visvingers uit en gee dit net so vir hom.  Hy blaas hulle wraggies eers koud voor hy hulle eet.  Trek sommer die neusie so op 'n plooi en blaas dat die spoeg spat!  Hy sal self sy kossies koud maak, man!

Hy begin op 'n stadium sy kos rondgooi en ek sê vir hom "nee".  Hy antwoord dadelik "JA!"

Hy het Vrydag beduie en gemoan tot ek sy doek afhaal en toe baie trots teen Pappa se braaier gepiepie!

Hy doen absoluut alles wat jy vir hom sê.  "Gaan sit op die stoel."  "Gee vir Pappa die boek."  "Kom ons gaan bad."  "Gaan speel buite."   En laat jy net die slag vir hom sê hy kan nie eers so mooi praat soos sussie nie.  Dan haak hy af met 'n klomp "Pappa, pappa, pappa, Pappa's" en hy wen die argument! 

Monday, 21 November 2011

Maar juffrou sê dit dan...

Franzél het skielik die manier ontdek om te sê J...em as iets baie cool of groot of wat ookal is. 

Mamma:  "Dit is 'n baie lelike woord.  Dit is dieselfde as om Liewe Jesus se naam te gebruik en jy mag dit nie doen nie."
Zellie:  "Maar my maatjies sê dit almal."
Mamma:  "Dan sê jy vir jou maatjies, dit is baie lelik, want hulle sê Liewe Jesus se naam as 'n vloekwoord."
Zellie:  "Dan sê hulle - ag man juffrou sê dit ook as sy by haar huis is..."

Wihan het sy vendetta met sy niggie nog so bietjie verder gevoer en besluit die enigste simpatie wat sy verdien nadat sy van die muurtjie af geval het, is om sopnat gespuit te word met die tuinslang!

Ons het Zellie se danseksamen sertifikate gekry en sy het 88% gekry en 'n goue medalje!!  Mamma is baie trots op jou!


Tuesday, 8 November 2011

Sien jou as ek 5 is!

Ek stap vanoggend saam met Sussie na juffrou Sxxxx se klas toe sodat ons volgende jaar se juffrou kan ontmoed en uitvind of daar enigiets is waaraan ons solank aandag moet gee:

Juffrou Sxxxx:  "Hello, kom jy volgende jaar na my klas toe."
Zellie:  (Steek net haar kop agter my boude uit om te praat.)  "Nee, ek is nog te klein.  (Kom heeltemal agter my boude uit.)  "Sien jy hoe is ek nog te klein."
Juffrou:  "Ja, maar volgende jaar gaan jy mos lekker groot wees."
Zellie:  "Nee, ek is vier (wys 4 vingers)  Ek sal hiernatoe kom as ek vyf is.  (wys 5 vingers)
Juffrou:  "Wanneer word jy vyf?"
Mamma:  "Februarie."
Juffrou:  "O, so jy is een van die ouer kinders.  Jy gaan hier by my vyf word dan sing ons almal vir jou."
Zellie:  "Nee, ek dink ek gaan nog laaaaaaank vier bly!"

Sy het 'n maand lank gehuil voor sy vir juffrou Exxxx en Mxxxxx gelike het.  Hierdie jaar 'n maand lank gehuil voor sy vir juffrou Hxxxxxx gelike het.  As sy eers aanpas raak sy so lief vir hulle dat sy nie weer wil skuif nie.  Dit was laas jaar so en hierdie jaar weer!  Dan gaan ons seker volgende jaar dieselfde paadjie stap!  Wil nie eers aan Graad R en juffrou Mxxxxx dink nie!!  Boetie gaan eendjie klas toe.  Gelukkig is dit mense met wie hy hierdie jaar al baie te doen gehad het, so ek dink hy sal fine wees.

So ja, sien juffrou as ek 5 is!

Monday, 7 November 2011

Groot bed

Wihan slaap van gisteraand af in die groot bed.  Ons het 'n reëling opgesit, kussings onder gepak en sy kotmatrassies langsaan gesit vir in geval!  Hy was gisteroggend al dood opgewonde oor sy bed.  Klim self op en gaan lê op die kussing met beer in sy arms, maak ogies toe asof hy regtig gaan slaap.... en dan loer hy vir jou en lag.  Te dierbaar.  Gistermiddag het hy in die kar aan die slaap geraak en ons het hom net in sy bedjie gaan neerlê.  Gisteraand het hy self in sy bed aan die slaap geraak.  Ons is klaar met die kot!  Kan nie glo my mannetjie lê 'n enkelbed al so vol nie!

Saterdagoggend het ons ontbyt gaan eet by Wimpy.  Die bestuurder kom vra of alles nog reg is en Zellie sê kliphard, "daai oom lyk gusting (disgusting)."  Mamma en Pappa kry amper 'n oorval, preek en verduidelik, sussie huil ens ens ens....

Gister sit ons Lion King en kyk en Mufasa (ek is so pas ingelig dat dit Scar is wat gusting is en nie Mufasa nie!  My lion king kennis is blykbaar nie op standaard nie!!) is besig met sy hiëna bende.

Zellie:  "Daai leeu is gusting."
Mamma:  "Ja, hy is.  Maar ons mag mos nie sê mense is gusting nie, ne."
Zellie:  "Wanneer het ek dit gesê?"
Mamma:  "Jy het dit gister gesê."
Zellie:  "Waar het ek dit gesê?"
Mamma:  "In die Wimpy."
Zellie:  "Vir wie het ek dit gesê?"
Mamma:  "Vir die oom."
Zellie:  "En - was dit 'n mooi oom?"  (Met die nodige "ek weet eintlik ek is reg" uitdrukking!)
Mamma:  "Ja.  Alle mense is mooi.  Mens kry nie lelike mense nie."
Zellie:  "O, skusie Mamma.  Ek het nie geweet die oom is vir jou mooi nie!"

En dit is hoe jy 'n argument verloor!

Tuesday, 1 November 2011

Hoe kan jy twee kinders liefhê?

Baie maklik, dis hoe!  Ek het hierdie by iemand gekry.  Dis so waar...

Loving Two

As I hold your hand basking in the glow of our magical relationship,
I suddenly feel a kick from within,
as if to remind me that our time alone is limited.
And I wonder:
How could I ever love another child as I love you?

Then that other child is born, and I watch you.
I watch the pain you feel at having to share me,
as you’ve never shared me before.
I hear you telling me and others in your own way,
“Please love only me.”
And I hear myself telling you in mine,
“I can’t,” knowing, in fact, that I never can again.

You cry. I cry with you.
I almost see our new baby as an intruder
on the precious relationship we once shared.
A relationship we can never quite have again.
But then, in my own heart,
I find myself attached to that new being,

an immence love growing in the deepest of my heart
and feeling almost guilty.


I’m afraid to let you see me enjoying him.
–as though I am betraying you.
But then I notice your resentment change,
first to curiosity, then to protectiveness,
finally to genuine affection.
More days pass, and we are settling into a new routine.

The memory of days with just the two of us is fading fast.
But something else is replacing those wonderful times we shared, just we two.
There are new times equally as wonderful–only now, we are three.

I watch the love between you grow, the way you look at each other, touch each other.
I watch how he adores you–as I have for so long.
I see how excited you are by each of his new accomplishments.
And I begin to realize that I haven’t taken something from you,
I’ve given something to you more special than any material gift.

I noticed that I am no longer afraid to share my love openly with both of you.
I find that my love for each of you is as different as you are, but equally strong.
And my question is finally answered,
to my amazement…

Yes, I can love another child as much as I love you–
only differently.
And although I realize that you may have to share my time,
share toys, share sweets, grandparents and everything else
I now know you’ll never share my love.

There’s enough of that for both of you
–you each have your own supply.
I love you–both equally differently
and I thank you for blessing my life.

-author unknown

Dit som dit so mooi op en dis 'n boodskap wat ek vir hulle tweetjies hier wil los vir eendag as hulle dalk wonder!  Die vraag moet eerder wees hoe kan jy nie vir al twee of al drie of al tien of al twintig jou kinders lief wees nie...

xxx

Monday, 24 October 2011

Die lang hare tannie

Zellie is mal oor Tangled.  Dit is 'n moderne Rapoensie-storie, regtig baie oulik.  Die naweek het sy hom 'n paar keer gekyk.

Zellie:  "Mamma, hoekom het ek nie lang hare nie?"
Mamma:  "Maar jy het lang hare?"
Zellie:  "Nee, ek het nie, ek soek baie lang hare."
Mamma:  "Lang hare soos Nxxxxxx?"  (Die kind se hare hang op haar boude, sy's 4 so ek kan dit nie verstaan nie!!)
Zellie:  "Nee, man.  Nxxxxx het nie lang hare nie.  Lang hare soos die lang hare tannie (Raponsel)."  (Raponsel se hare in die storie is baie baie baie baie lank!  Sy kan dit reg rondom haar draai van kop tot tone en dan is meer as die helfte nog oor!)
Mamma:  "Nee, man.  Wat wil jy met sulke lang hare maak?  Jy sal nie lekker kan swem of swaai of slaap of speel nie."
Zellie:  "Ek sal nie nodig hê om dit te doen nie, want ek sal heeldag aan my hare van die huis se dak af swaai!"

Ons kyk National Geographic.  Wihan se favourite.  Elke keer as daar 'n leeu of 'n beer of 'n tier op kom raak hy mal van opgewondenheid!

Zellie:  "Het julle geweet wat eet wolwe?"
Mamma:  "Nee, wat eet wolwe?"
Zellie:  "Hulle eet drie varkies en rooikappies!"

Natuurlik!  Hoe kon ek vergeet het.....

Potter het laas week nog drie tande by gekry en ons staan nou op twaalf.  Nog net die vier oogtande en die vier twee-jaar tande dan is ek klaar met tande sny!!  Dankie tog!!  En die baltic amber werk.  Die vorige keer toe hy drie tande op een slag gesny het, was hy twee keer op antibiotika met bronchitus en baie slegte middeloorontsteking.  Hy het baie sleg diarree gehad en verskriklike brandboudjies.  Erger as wat Zellie nog ooit gehad het en die eerste keer in sy lewe wat hy brandboudjies gehad het.  Sy ogies het ook verskriklik gedra en ek moes hom drie dae uit die skool uit hou as gevolg daarvan.  Zellie se ogies het ook altyd gedra as sy tande gesny het.

Hierdie keer het hy drie op een slag gesny en hoewel dit nogsteeds seer is - hy was klouerig en het sleg geslaap, was daar geen ander simptome nie.  Geen loopneus nie, nie gekwyl nie, nie een keer gehoes nie, nie diarree nie, nie koors nie, sy ogies het nie een keer gedra nie.  My seun kan maar sy krale hou!