Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Saturday, 11 February 2012

Sussie se 5de Verjaarsdag!

Sy het 'n fiets vir haar verjaarsdag gekry en as dit lyk of sy nie baie gelukkig was nie, sy was nie!  Die fiets is glo te groot.  Sy het in die laaste week eers begin om op hom te ry buite die huis.  Was net dood bang.

Die skool het cupcakes gekry en party packs.

Oupa Japie en Ouma Santie se Wollekophondjie was die hoogtepunt van die partytjie.

Die verjaarsdagkoek nadat ek al pogings aangewend het om hom te red.  Ek gaan die foto van wat ek wou gehad het nie eers hierby sit nie.  Kom ons sê maar net van nou af bak ek self.  Ek sal vir seker 'n beter job doen.

Die tafels en eetgoed nadat die kiddies al so bietjie daar deur is.

Besig om te eet.

Boeta se partytjie het eers begin nadat die wettige gaste die toneel verlaat het!


Die meeste van die verjaarsdag-gaste by mekaar.  Hier kort 4 maatjies.

So 'n partytjie maak 'n mens moeg man!

En die Sondag wou hulle altwee met alle mag saam met Oupa en Ouma huis toe gaan.  Weet nie of die trekpleister vir sussie op haar skoot sit en of sy op die se skoot sit nie!

Wednesday, 8 February 2012

Vyf jaar oud!!!

Ek het nou die laaste foto's bygesit!!

My Prinses, Pikkewyn, Poekeloetjie, Poepies, Bekkie, Blommie, Prinses Fiefie is more 5 jaar oud.  Kan ek maar die holrug-geryde "waar is die tyd heen" opmerking hier plaas.  Ek kan nie aan iets beter dink om te sê nie en kan nie eers begin probeer om die knop in my keel en die pyn in my hart te verduidelik nie.

Hier is jy 10 weke oud en net mooi niks lus vir enige vorm van stimulasie nie!  Jy wou net vasgehou en liefgehê word en hier sit Mamma jou sommer net neer met 'n plastiek speelding as geselskap!

Jy was 'n regte Pappa se dogtertjie.  Hier is jy omtrent 6 maande oud.

Hier is jy omtrent 7/8 maande oud en 'n lekker ou pokkeltjie.


Pappa se 30ste verjaarsdag.  Jy is 19 maande oud.


Jou eerste Kersfees.  Omtrent 20 maande oud.


Hier is jy en die getroue Otto op jou eerste verjaarsdag.  Op hierdie foto lyk jy ook vir my verskriklik baie na Wihan.  Net bietjie ronder wangetjies!


Hier het jy net so paar dae geloop.  Omtrent drie weke na jou eerste verjaarsdag.


Jou tweede verjaarsdag.  Ek onthou die dag.  Ek onthou wat jy aangehad het, hoe dit gevoel het om jou aan te trek, hoe ek moes sukkel om die kroon van jou kop af te kry...


Ek onthou hoe opgewonde ons was toe ons die aand voor die tyd jou huisie opgeslaan het en jou gesig toe jy hom die eerste keer gesien het.


Hierdie foto is 'n maand na jou derde verjaarsdag geneem op tannie Madelein se troue.


Hier is jy omtrent 3 en 'n half.  So omtrent twee maande nadat boetie gebore is op pad na jou skoolkonsert toe.


Op 3 en 'n half net na boetie se geboorte.


Net na jou vierde verjaarsdag- lekker laf!  Mamma kyk hoe dans ek.


Op 4 en 'n half by Goblin's Cove.  Lekker roomys!


Desember met jou danseksamen. 


Kersfees - lekker!  En kyk die fyn gesiggie, die knopkennetjie en die dimpels.  Kan nie glo my baba is 'n meisiekind nie!


Die naweek wat nou verby is.  Amper vyf jaar oud en dis wat ons kry as ons vir 'n smile vra.

 
Ek wens vir jou net die beste, want jy is wonderlik en onskuldig en jy verdien niks minder nie.  Jy is my slimkop-babbelbekkie-malkop-prinsessie wat nog gister middag in jou onderklere deur die sproeier gehardloop het (VOOR in die erf!), jy geniet dit om modderkoekies te bak, laf te wees en lag uit jou maag uit vir jou Boetie as hy laf is.  Ek hoop dat ek nie eendag sal terugkyk op dit wat jy nou is en wens ek het jou meer geniet en meer saam met jou kind gewees nie.  Ek onderneem om elke treë van jou kindwees saam met jou te geniet en hoop dat dit so lank as moontlik sal hou!  Lief vir jou. 

Tuesday, 7 February 2012

Sarkasme is blykbaar oorerflik!

Ek gaan nou uit na waar sussie in die modder speel.

Mamma:  ''Waar is Boeta?''
Zellie:  ''Ek dink hy het self vorentoe gegaan en die slot oopgemaak en die klein hekkie oopgemaak en in die straat in weggeloop.''
Mamma:  ''Nee, ek dink darem nie heeltemal so nie.  Hy moet hier iewers wees.''
Zellie:  ''Nou ja, gaan soek hom.''

Dit is presies hoe ek iemand sal antwoord wat vir my dom vrae vra terwyl ek beter dinge het om te doen!!

Wihan het geleer om ''WOW'' te sê.  Te cute, hy klink soos 'n klein baba leeutjie wat probeer brul!

Monday, 6 February 2012

My Babbelbekkie en ons kampnaweek

Ons het die kinders die naweek Badplaas toe gevat saam met vriende en was dit nou 'n fees!  Ons het gekamp en die kinders het floreer daarop om 'n hele naweek buite te wees en buite te eet en buite te slaap.  Wihan het gegrinnik vandat hy in die oggend sy ogies oop maak totdat hy gaan slaap.  Franzél het op die glybane gegly totdat haar pa eenvoudig net nie meer kon by hou nie.  En daar is sand - baie sand!  Wihan en Michelle het elkeen die hele naweek met 'n plastiek bekertjie en teelepel geloop en sand skep en uitgooi, skep en uitgooi.

Franzél se sêgoed is natuurlik saam op ons uitstappie en hier is 'n paar juweeltjies!

In die badkamer Saterdagoggend is daar 'n blanke vrou en 'n swart dogtertjie wat staan en tande borsel.
Franzél:  "Hello Tannie.  Is dit jou kind?"
Tannie:  "Nee my liefie.  Dit is nie my kind nie."
Franzél:  "O, want sy lyk nét soos jy."

Sy het haar 3d Tweetie t-hemp aan:
Tm:  "O, maar ek is mál oor jou hemp."
Franzél:  "Hy maak my ook mál, tannie."

Sy het ook Saterdagaand gereken sy het sonbrand op haar tong en ons moet net kyk, ons sal sien!

Wihan het in die baba-swembadjie gehardloop en gespeel.  Ek was nogal verbaas om te sien dat hy soveel selfvertroue het terwyl hy Saterdag nog soos 'n neet aan my arm vasgeklou het.  Tm was in die water, ek, F en R het op die kant gesit.  Daar was seker so ses kinders in die swembad en nog omtrent ses grootmense op die kant.  Voor al die mense het Wihan se koppie onder die water verdwyn en ek was die enigste persoon wat dit gesien het.  Ek was binne vyf sekondes by hom en het besef dat alhoewel hy kan staan, hy probeer om homself met sy armpies op te stoot en dus heeltyd sy eie kop onder die water hou.  Die water was maar omtrent tot by sy heupe, maar hy kon nie weer self op kom nie.  Ek en Francois het vooraf besluit hy kyk na sussie en ek na boetie sodat iemand se oë heeltyd op Wihan sal wees.  Dit wys jou net dat die grootmense om 'n swembad elkeen hulle eie kind dophou.  Mens kan nooit daarop staatmaak dat daar baie grootmense is en dat jou kind daarom nie sal verdrink nie.

Op pad huis toe het hulle altwee al geslaap voor ons by die hek uit is.  Morsdood moeg gespeel!

Friday, 3 February 2012

Kinders en kinders...

Dit is verskriklik interessant om so saam met 'n kind groot te word en te sien hoe hulle waarneming van wat om hulle aan gaan en die mense om hulle verander.  Ongelukkig verander hulle sin vir waardes ook en partykeer voel dit of my hart vir 'n oomblik gaan staan as ek luister na my dogtertjie van vier se vrae en waaraan sy blootgestel word.  (Meestal kom hierdie inligting en sienings van ander maatjies van haar ouderdom af en ek wonder hoe dit gebeur.)

Van die sinnetjies wat my sedert haar vierde verjaarsdag al amper agteroor laat slaan het sluit die volgende in:

*  Ons kan nie met xxxx speel nie, want xxxx sê haar gesig is te lelik.
(Ek mag verkeerd wees, maar ek het 'n prentjie in my kop van Mamma en Pappa wat in die kar by mense weg ry en praat oor hoe lelik iemand is.  Watter maatstaf bepaal wie is lelik en wie is mooi en hoe leer jy dit vir jou kind?  Is dit 'n doelbewuste poging?  Sussie kyk, dit is mooi en dit is lelik?)

*  Mamma, xxxxx sê hy gaan na my huis toe kom en vir my honde gif gee dat hulle kan doodgaan.
(Hier dink ek dat dit dalk iets is wat met sy eie honde gebeur het en dat hy dit nou sien as die ergste ding wat met iemand kan gebeur.  Ek hoop dit is dit en dat Pappa nie vir honde gif ingee nie?  As jou kat/hond weer op my erf kom vergiftig ek hom en boetie staan grootoog en luister??)

*  Mamma, sien jy daardie oom het 'n oorbel.  Hy is nou 'n dogtertjie.  En dogtertjies met kort hare is
    seuntjies.  Ek het ook al gekry ons speel nie met xxxx nie, want haar hare is te kort!!
 (Nee, nee, nee!  Ons is nie kleibeeldjies wat almal uit dieselfde vorm gegiet word nie!  Mens sê nie vir jou   kind, dit is wat 'n dogtertjie/seuntjie doen en dit is wat hy/sy aantrek en dit is hoe hy/sy optree en klaar nie.  Blykbaar het ons nie nodig om dit te doen nie, want die gemeenskap wat ons kinders grootmaak leer hulle sommer namens ons!)

*  Die skelms gaan in die aand na ons huis toe kom en dan breek hulle die deur oop en hulle skiet ons dood.
 (Iewers daar buite is 'n volwasse persoon/persone wat voor hulle kinders praat oor misdaad en geweld en wat nie verder kan dink as wat hulle neuse lank is nie.  Dit maak my woedend dat daardie ouer se keuse om met sy kind van vier te praat daaroor my kind onveilig laat voel in haar eie huis en dat sy nou praat van mense wat na jou huis toe kom om jou dood te skiet.  Ek besef dit is die realiteit, maar ek dink daar is sekere realiteite wat 'n kind van vier nie in die gesig kan kyk nie.  Ons kan nie ons kinders in vrees laat leef oor iets wat miskien dalk eendag kan gebeur en meer waarskynlik nie sal gebeur nie.)

*  Mamma, ek gaan nie daardie hemp aantrek nie.  xxx sê dit is 'n seuntjie hemp/lelike hemp/ou hemp of dit
    is stukkende skoene (die voorpunt is geskraap).
(Nou staan jy by die kruispad, neem ek standpunt in en sê dit is onbelangrik, maak nie saak wat jy aan het nie, dis wat binne is wat saak maak - trek vir haar die klere aan en stuur haar skool toe.  Terwyl ek weet   vandag speel xxxx en xxxx nie met haar nie, want sy is nie "reg" aangetrek nie?  Nee, ek trek vir haar iets aan wat vir xxxx meer aanvaarbaar is.....  Hoe sal mens ooit hierdie kringloop breek.  En wat as dit al is wat daardie kind het?  As Mamma nie kan winkel toe gaan en koop wat vir xxxx en xxxx aanvaarbaar is nie.  Sy trek haarself nou aan en kies haar eie klere, maar daar is definitief klere in haar kas wat sy nooit ooit aantrek nie.  Ek het vir haar 'n WP rugby-hempie gekoop omdat Pappa WP ondersteun en sy weier om dit aan te trek, want dis blou.  Sy het dit in Boetie se laai gaan sit.  :-(  )

*  Rassisme. 
*  Mamma, hoekom is al die tuinooms swart?  (Antwoord - hulle is nie almal swart nie.  Mense doen verskillende werke en daar is swart dokters en daar is wit mense wat met hulle hande werk.  Ek het geen idee of ek reg antwoord nie.  Kan ek vir haar verduidelik van apartheid en dat hulle nie ander opsies het nie?)
*  Mamma, swart mense ry met fietse omdat hulle nie geld vir karre het nie. 
*  Mamma, swart mense breek by ons huise in. 
My kind wat nog almal oom en tannie en geen onderskeid getref het tussen swart en wit nie, begin al hoe meer vrae vra waarvoor ek nie antwoorde het nie.  En sy sê dinge wat my yskoud maak en ek weet dis net die begin.  Sy begin nou haar voelers uitsteek na ons en hulle.  Gaan daar ooit 'n geslag wees wat toegelaat word om net natuurlik hulle gang te gaan sonder dat vooroordeel in hulle koppe in gehipnotiseer word?

Ek kan 'n hele boek vol skryf, maar gaan ophou by hierdie.  Die hartseer is, jy kan jou kind leer net soos wat jy wil, maar op die ou einde van die dag is dit wat daar buite deur kinders soos hulle aan hulle vertel word wet.  En elkeen van hulle se gedagtes word gevorm deur grootmense met vooroordele en onverdraagsaamheid en selfs haat in hulle harte en gedagtes. 

En dan is ek moeg vir die opvatting dat my kind in 'n "snob" skool is en dat dit is hoekom dit gebeur.  Ek ken onderwysers in kleuterskole, laerskole, hoërskole en die stories laat jou nekhare regop staan.  Ek ken hoeveel ouers met kinders in verskillende kleuterskole en skole en almal neem deel aan hierdie gesprek.

Ek het al by ander mense gehoor van:
*  Die seuntjie van drie wat die dogtertjie geklap het en dan wanneer daar vir hom gesê word mens slaan nie aan dogtertjies nie sê, "ek mag want my pa mag."
*  Kinders wat speletjies met mekaar speel, want dis wat Pappa met my doen.
*  Kinders in Graad 2 wat vir die ander maatjies wys hoe om gom te snuif.

Die vraagstukke in verskillende skole gaan verskil, maar uiteindelik gaan al hierdie kinders met hulle verskillende opvattings en opvoedings tog by mekaar in een skool gegooi word.  Ek dink ons as ouers moet nou meer betrokke as ooit wees.  Jy moet letterlik met jou kind die pad stap en hoop en bid hy kom as 'n heel mens anderkant uit.

Dit wat ons nou sien is as gevolg van ons geslag ouers wat grootgeword het as snobs of "grease monkeys" soos ons dit genoem het.  Jy was of die een of die ander.  Daar was nog nooit werklik 'n middeweg nie.  Nou is ons ouers vir kinders wat ons voorbeeld nastreef.  Dit begin net al hoe jonger en jonger.  Wat se tipe ouers gaan hulle wees?  Hoe gaan ons kleinkinders grootword?

Ek het nooit gedink ek sal nou al begin bid "Here, beskerm my kind en help haar om die regte pad te loop nie."  Ek dink nie enige ouer wat by sy kinders betrokke is en met hulle gesels oor wat hulle by die skool doen en met wie hulle speel en hoekom of hoekom nie kan stry dat hierdie dinge gebeur nie.  Ek dink dit gebeur op elke speelgrond in hierdie hele land. Net jy as ouer kan jou kind waardes leer.  Niemand gaan jou daardie guns bewys nie. 

Jy sal ook jou kind moet leer om homself te handhaaf en op te staan teen wat verkeerd is.  Sussie het hierdie week vir 'n maatjie wat 'n ander maatjie gespot het gesê dat hy Liewe Jesus se hartjie baie seer maak as hy dit doen. Ons oefen verskillende scenarios en ek leer haar hoe om op te treë en wat om te sê.  Ek twyfel of dit aan die betrokke kind 'n verskil gemaak het.  Maar ek hoop dat ek my kind iets geleer het wat haar karakter bou.  En ek is trots op haar omdat sy die moed gehad het om betrokke te raak en op te staan vir haar maatjie.  Ons is nou besig met "Ek kan jou nie hoor nie" draai om en stap weg wanneer iemand met jou lelik is."  Dis so maklik om as grootmens vir jou kind raad te gee teen boelies, want ons weet hulle sal ophou as hulle nie reaksie kry nie.  Ongelukkig is kinders kwesbaar en emosioneel onvolwasse.  Ek hoop ek kan haar leer om 'n bietjie van 'n dikker vel te hê.

Mag ek nooit die ma wees van die kind wat 'n ander een afknou of verneder en dit aflag nie...  Dit is waar alles begin...

Wednesday, 1 February 2012

Ons Praat! (Bietjie maar darem!)

Wihan tel skielik woordjies op asof hy dalk regtig mag belangstel om eendag te begin praat. 

Gisteraand leer ek vir Zellie swem - sy kom ongelooflik mooi reg nou al - swem die breedte van ons swembad deur sonder vlerkies en raak al hoe sterker!  Sy raak moeg en skreeu "Mamma help!"  Ek het vir boetie in my arms en Wihan skreeu ewe benoud "Mamma help!"

Gisteraand is daar 'n program op National Geographic oor diere wat kamtig met mekaar praat.  Dis regte diere wat afgeneem word en dan word dialoog bygesit wat pas by wat hulle besig is om te doen.  Hulle wys 'n trop leeus en Wihan reken ewe opgewonde dis "Kieties!".  As die apies speel en rondspring lag hy uit sy maag uit en beduie en babbel.  Dis te cool.  Hy kyk glad nie tv nie, maar diere fasineer hom nogal vir 'n rukkie.

Maandagmiddag het ek by hulle gesit terwyl hulle in die klein swembadjie speel.  Wihan love dit om my voete nat te gooi en dan moet ek nou kamtig vreeslik groot skrik.  Gistermiddag is ek besig om kos te maak voor die stoof en die volgende oomblik staan ek in 'n plas water! Hierdie keer het ek regtig groot geskrik!  As ek dan nie na die water toe wil kom nie sal hierdie boertjie sy eie plan maak.  Hy het dit nog twee keer gedoen voor hy besef het die hou op sy doek en die NEE MOENIE, beteken MOENIE!

Dit gaan beter met die vriend waaroor ek gister geskryf het.  Hy sal hopelik vandag uit intensief uit kom en is buite gevaar.  Hopelik sal hy Saterdag terug wees in die dorp.  Ons is saam met hulle baie dankbaar.  Ons het regtig groot geskrik.  Ons hoop dat die oorsaak ook sommer heeltemal uitgesorteer sal word en dat hulle nie net die simptome sal behandel soos so baie keer gebeur nie.