Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Thursday, 31 May 2012

Van Oumas en Babas

Vanoggend op pad klas toe het ek en Zellie die volgende gesprek gehad.

Zellie:  ''Mamma, wanneer gaan Pappa se Mamma se babatjie gebore word?  Is hy nog by Liewe Jesus?''
Mamma:  ''Ouma gaan nie 'n babatjie hê nie.''
Zellie:  ''Is.  Sy is al baie oud en sy gaan 'n babatjie hê en die mense gaan nie vir haar lag nie.''
Mamma:  ''Nee man.  Wie sê Ouma gaan 'n babatjie hê?''
Zellie:  ''Gaan die Engel dan na Ouma toe gaan en vir haar sê - jy gaan nog baie lank wag voor ek vir jou 'n babatjie gee?''
Mamma:  ????!!!!!!

Bespreek ons gesprek in die klas met Sandra en vind toe die volgende uit:  Hulle het gister geleer van Sagaria en Elisabet wat al baie oud was toe hulle met Johannes die Doper swanger geraak het en dat hulle bang was die mense gaan vir hulle lag.  Juffrou het toe verduidelik dat Oupas en Oumas nie meer babatjies het nie, omdat hulle kinders klaar groot is en dat Elisabet 'n babatjie moes hê omdat God 'n baie spesiale doel met hom gehad het en dit besluit het.

Zellie het besluit Ouma Elsa pas die profiel en sy moet ook 'n babatjie hê met 'n baie spesiale doel!! 

Wednesday, 30 May 2012

Baba vermoor

In die laaste week is 'n 5 maande oue baba vermoor in 'n huisrooftog waarin 'n cd speler en juwele geneem is.  5 Maande oud.  Hy kan nog nie kruip, behoorlik regop sit of een enkele woord sê nie.  Hy is gister begrawe.  'n Pa het sy baba se kissie in 'n kerk in gedra en daardie kind is weg.  Vir niks.  Geen rede nie.  Geen sin in wat gebeur het nie.

Ek huil elke keer as ek hierdie lees en ek wonder of ons reg in ons koppe is om hier rond te hang en te wag en kyk wat nog alles gaan gebeur.  My seun se naam en daardie arme baba is omtrent presies dieselfde.  Elke keer as ek dit hoor word ek yskoud en naar en ek kan nie help om te huil nie. 




En die mees nuuswaardige storie in ons koerante die laaste week was 'n naakskildery van die president...  So lank as wat daar nie gevolge is vir hierdie tipe dade nie, sal hierdie tipe goed nie ophou gebeur nie. 

Hoe wurg jy 'n 5 maande oue babatjie...  Ek weet nie hoe staan mens op en gaan aan met jou lewe na so iets nie.  Hoe glo jy weer in enige iets....

Monday, 21 May 2012

Sussie se alleen kuier by Oupa en Ouma

Laas week het ek 'n kursus gehad in Pretoria en ek en die kiddies het by Ouma gaan kuier.  Donderdag het die onafwendbare gebeur en Sussie het geweier om huis toe te kom.  Oupa was op pad terug van Postmasburg af en sy was vas van plan om daar te bly en vir hom te wag.  Oupa sou haar dan Saterdag halfpad bring en sy sou net twee slapies weg wees.



Mamma is maar met 'n baie swaar hart daar weg en was seker dat sy sou huil voordat ek by die huis is.  Mamma het nie rekening gehou met al die lekker dinge wat by Oupa en Ouma se huis gebeur as kindertjies alleen daar kuier nie.  Soos om Spur toe te gaan in die middel van die week...


Ons het nie ophou glimlag vir ten minste die eerste dag nie.  Al die rondry en al die aandag was net te veel om te verwerk en Sussie het behoorlik gestraal...


Saam met Oupa kan ons op allerhande goeters klim...


En aan allerhande goeters hang...


Ons kan roomys eet vir middagete...  Daai gesiggie sê duidelik dat sy dit self nie mooi kan glo nie...


En net toe ek dink dit kan nie beter raak nie het daar 'n maatjie kom kuier.  Enetjie wat baie soos ek lyk en baie soos ek is.  En sy praat terug met my, so anders as Boetie wat hom meestal afvee aan my.  Boetie hoe maak 'n skaap... Me  en 'n hond...  Me  en 'n kat...  Me   en 'n haas...  Me...


Ek het darem my tande geborsel tussen al die sweets en roomys deur...


Intussen het Boeta alleen agter gebly en moes Mamma en Pappa hulle self maar met hom vermaak.


Vir die olifante was hy doodbang.  Let wel dat hulle ten minste 'n halwe rugbyveld weg is, maar nou ja.  Duidelik is ons nie 'n grootwildjagter nie.


Mamma en Pappa het die statiese elektrisiteit snaaks gevind...  Boetie nie so baie nie...


Mamma en Pappa het gedink die stoeltjie agter op die fiets is 'n goeie idee... Boetie nie so baie nie...




Intussen het die vreugde vir Sussie nie opgehou nie en sy het nog 'n treinrit ook by haar lys van gebeurtenisse gesit...


Sondagoggend wou dit lyk of sy tog bly is om huis toe te gaan, maar dit het toe nou net 'n paar minute gehou.  Teen die tyd wat hulle moes huis toe ry sou sy eerder by Ouma wou agterbly.  Vanoggend het sy met groot vreugde vir almal in haar klas vertel dat sy saam met Oupa en Ouma willestuin toe gaan en dat sy alleen daar gekuier het en dat sy weer alleen soontoe wil gaan.  Sy het nie eers die gewone roetine van vingertjies en drukkies en soentjies en hi-5s met Mamma gedoen of vir Mamma by die venster gewaai nie....  Miskien omdat Mamma alweer vanoggend moes baklei omdat haar pap nie geëet nie en haar skoene nie aangetrek en haar tande nie geborsel is nie....  Nie altyd so lekker om die Mamma te wees nie, ne!!


Dankie Oupa en Ouma.  Sy het dit baie geniet.  Gisteraand kondig sy so ewe aan dat haar tande seker gaan vrot van al die lekkergoed wat sy geëet het.  Ek vra hoekom sy so baie sweets eet.  Sy reken Ouma is so baie lief vir haar dat sy dit sommer alles self uitgedink het...  Ek is seker ja....

Monday, 14 May 2012

Moedersdag nawekie

Ons het 'n bedrywige naweek gehad.  Saterdag 'n damestee vir die skool en Pappa het kinders opgepas.  Dit het heel goed gegaan, behalwe vir die feit dat hy elke keer vergeet dat hulle eintlik moet eet ook....

Die "blomme"  (Niks mors nie want my kiddies eet BAIE appels!!)




Vir Moedersdag het die kinders by die skool vir ons voorskote gemaak - te pragtig, maar sal dit nooit ooit regtig kan gebruik om vet van my klere af te hou nie!!!




En ek het pajamas gekry en mooi stewels en ontbyt.  Baie lekker daggie gehad.

Ek en Sussie het gister 'n gesprek gehad.  Ek verduidelik dat ons sagte hartjies moet hê, omdat Jesus ons so gemaak het en ons moet sag wees met mense om ons.  Ons mag nie met ander kinders lelik wees of vir hulle sê hulle mag nie saam speel nie.

Gistermiddag het sy 'n gesprek met haar Ouma en sê vir haar:  "Ouma, ek is besig om in te kleur en nie regtig lus om nou met jou te gesels nie.  Maar ek het 'n glad hartjie en as jy regtig nog met my wil praat sal ek nog bietjie met jou gesels."  Weet nie so mooi of daardie lessie suksesvol was nie, ne.  Volgende sal ons werk aan takt....

Sy sê ook vir haar Ouma:  "Ek het vir Storm weggehardloop, want hy wou my byt en toe hardloop ek in die hek vas.  Maar dit is nie Storm se skuld nie, dis omdat hy 'n vier of 'n vyf rand hond is."  As my ma-hulle maw 'n bietjie duurder hond gekoop het, sou hy nie teen hulle opgespring het nie!

Kyk laas week na foto's van 'n vriendin se seuntjie met sy boeties e skrum-keps op.  My kind word saam met 'n sussie groot, so sy blootstellings verskil nogal heelwat!!


Sussie is mal daaroor om Boeta aan te trek....


En natuurlik kan sy kies waarin sy vir boeta aantrek...


Want sussie borsel tande en sussie stoot haar poppe in hierdie karretjie!  Gelukkig is daar twee karretjies!!


As ek sê gaan trek gou ander klere aan dan was ons my kar is dit die resultaat!!  Mensdom, ek het bedoel 'n ou broek en hemp wat maklik droog word!!


Dit is hoe "Met die verkeerde voet uit die bed uit opgestaan" lyk!


My prinsessie en haar Otto...



Sy het die laaste tyd 'n stapel boeke langs haar bed.  AS sy oor naweke voor ons wakker is sit en lees sy hardop vir haarself stories.  Ek het vir haar boekies gaan koop met kort sinnetjies en prenties.  Sy sal baie maklik leer lees.  Sy herken al klaar van die woordjies in Boeta se boeke.  My meisiekind word groot en pragtig...

Boeta het laas week 'n hele paar middernagtelike rondloopsessies gehad.  Gaan pak kombuiskaste uit 3uur in die oggend.  Sit die sitkamer lig aan en af en aan en af 1uur in die oggend.  Donderdagaand het Mamma genoeg gehad en begin pak uitdeel.  Donderag-nag 4 keer pak gekry,  Vrydag 3 keer, Saterdag 1 keer en laas nag deurgeslaap. 
Van die bottel af - check!

Slaap deur - check!  (Hoop dit hou, maar glo hy het nou die boodskap gekry.)
Stel darem al belang in praat - herhaal meeste goed wat jy vir hom sê en maak dieregeluide na.
Nou vir potty train.

En eet - mense kan hierdie kind wegpak vandat hy nie meer melk drink nie!!!  Hy het gisteraand die volgende geëet van 17:30 tot 8:30 en die helfte daarvan nie eers in my huis nie.  Die mense dink seker die kind kry nooit kos nie!!
-  Dieselfde hoeveelheid pasta as sy sussie;  (Sussie het ook hierna niks verder geëet nie)
-  'n Stuk wors wat sussie nie eers geëet het nie;
-  'n Halwe houer Nestle puffs;  ('n Houer hou gewoonlik 'n week!)
-  'n Hand vol rosyntjies;
-  'n Piesang;
-  Sewe van daardie klein blokkies kasies;  (Nie driehoekies nie, klein blokkies!!)
-  Twee tuck beskuitjies met marmite;
-  'n Hand vol flings.

Vanoggend het hy 'n bak pap saam met sussie geëet en by die skool eet hy nog 'n bak of twee!  Hy glo ook hy moet twee keer middagete kry en as hy wakker word soek hy sy broodjie onmiddelik!!

Na 'n kind wat van liefde en yoghurt oorleef het en nou nog doen is dit 'n aanpassing!

Wednesday, 2 May 2012

Ons laaaaang nawekie

Ons het omtrent 'n baie lekker langnaweek gehad.  Het by klomp verskillende vriende uitgekom en sommer net lekker baie dinge gedoen en genoeg gerus.

Ons het eers by maatjies gekuier wat hierdie cool ryding het.  Hulle seuntjie van 16 maande kan nie die pedaal by kom nie, maar staan en ry sommer en as daardie outjie spoed vang gooi hy sy koppie so agter toe en grin van oor tot oor!  Baie sweet!


Ons is Gold Reef City toe saam met ander vriende.  Lekkerrrrr.  Die groter kinders het dit baie geniet, maar boetie was oorweldig deur al die rides.  Hy het op een ding gery en die res van die dag elke keer as hy iets hoor wegtrek op my skoot gespring en my vasgeklou.  Tot die trein was te veel vir hom en hy het sy kop teen my lyf gedruk en sy hand oor sy oë gehou as ons wegtrek!


Kyk net hierdie konsentrasie!  Elke keer as die karretjie om die draai gaan draai hulle altwee vir 'n vale asof hulle regtig enige beheer het oor die pad wat die outjie loop!  Te flippin oulik!



Zellie buk eintlik vorentoe sodat ek hulle altwee in die foto kan kry, maar alles wat my sussie doen moet ek ook doen!!!!  Hy is 'n verskriklike na-aper deesdae!


En toe gaan kuier ons by NOG vriende met hierdie cool ryding!  Kan nie glo daar bestaan sulke cool goeters daar buite en ek het nie een nie!!


Aan die einde van die naweek was ons doodmoeg, maar baie gelukkig.  Sommer net 'n baie lekker naweek gewees.  Weer bietjie by al ons vriende uitgekom - daar is net nie meer tyd vir kuier nie en mens het vriende wat naby jou bly so nodig.  Ons het al so baie keer op vriende se knoppie moes druk.  Mens kan nie net jou vriende onthou as jy hulle nodig het nie...


Vandag weer terug skool toe.  Boeta het al gehuil toe sy Pa by die deur uitstap.  Hy is so erg oor sy pa die laaste tyd en kon nie verstaan dat ons vandag weer uitmekaar uit spat na ons verskillende werke en klassies toe nie!  Ai tog, mens leef maar eintlik net vir die tydjies wat mens saam met hulle het..... 

En nadat ons die naweek gehoor het van 'n seuntjie van 9 wat skielik in 'n fratsongeluk oorlede is en 'n Mamma van 26 wat aan 'n hartaanval oorlede is en wie se baba maar 2 jaar oud is besef mens net weer hoeveel jy die tyd met hulle moet koester...  Hulle bly maar God se geskenkies aan ons, maar ons is die enigste mense wat kan besluit wat ons met daardie geskenkies gaan doen....

Lief julle emmers vol, my Monsters....

Sy naam is Storm...

Storm... klink nogal soos 'n sierlike pikswart Arabierperd met 'n geslagsregister so lank soos my arm, ne... 



Toe nou nie!!  Storm is 'n pavement special met 'n pels soos staalwol en 'n hart soos 'n Arabierperd.  So 'n rukkie terug het Storm weggeraak - uitgehardloop en geweier om terug te gaan in die erf in.  Nadat ek reeds laat vir werk op en af agter hom aangehol, hom met my skoen gegooi en geskreeu het soos 'n "banshee" het ek met groot geskel aangekondig dat ek hoop hy loop weg en kom in sy lewe nie weer terug nie!  Zellie was devestated.  Sy is so ontsteld skool toe en ek het daardie middag uit skuldgevoel uit 'n uur en 'n half rondgery op soek na Storm.  Ek het hom gekry omtrent vier blokke van ons huis af en hy het onmiddelik soos 'n pyl uit 'n boog in die kar gespring toe ek die deur oop maak.  Die boonste foto is geneem toe ons by die huis gekom het.

Storm het al gesorg vir baie humor in ons huis.  So 'n rukkie terug het Zellie se nefie saam met ons huis toe gery en sy het die hele pad vir hom vertel dat sy ook 'n mooi hondjie het wie se naam Storm is.  (Die ander mooi hondjie waarmee vergelyk word is Ouma se Pekenese!).  Toe sy by die huis dood opgewonde uit die kar uit spring en STorm kom om die draai gehardloop het sy ewe geskok uitgeroep:
"Storm, hoekom is jou hare nou so deurmekaar!!" 
Asof hy nie so gelyk het toe ons vyf dae vantevore by die huis weg is nie!!

'n Rukkie gelede het hulle 'n liedjie by die skool gesing oor 'n Jackie en Sussie wou weet of sy 'n Jackie het.  Ek het gesê "Nee, jy het 'n pavement special."

Die naweek het sy eers vriende van ons ingelig dat haar hond 'n "Spaceship special" is en toe ewe verontwaardig baklei omdat hulle vir haar lag omdat sy nie "Vyfrand special" reg kan sê nie!  Ek sukkel nog om te besluit watter een die beste beskrywing vir die hond is!  Ons sal nooit weer 'n mongrel iets anders noem nie!!