Laas week het ek 'n kursus gehad in Pretoria en ek en die kiddies het by Ouma gaan kuier. Donderdag het die onafwendbare gebeur en Sussie het geweier om huis toe te kom. Oupa was op pad terug van Postmasburg af en sy was vas van plan om daar te bly en vir hom te wag. Oupa sou haar dan Saterdag halfpad bring en sy sou net twee slapies weg wees.
Mamma is maar met 'n baie swaar hart daar weg en was seker dat sy sou huil voordat ek by die huis is. Mamma het nie rekening gehou met al die lekker dinge wat by Oupa en Ouma se huis gebeur as kindertjies alleen daar kuier nie. Soos om Spur toe te gaan in die middel van die week...
Ons het nie ophou glimlag vir ten minste die eerste dag nie. Al die rondry en al die aandag was net te veel om te verwerk en Sussie het behoorlik gestraal...
Saam met Oupa kan ons op allerhande goeters klim...
En aan allerhande goeters hang...
Ons kan roomys eet vir middagete... Daai gesiggie sê duidelik dat sy dit self nie mooi kan glo nie...
En net toe ek dink dit kan nie beter raak nie het daar 'n maatjie kom kuier. Enetjie wat baie soos ek lyk en baie soos ek is. En sy praat terug met my, so anders as Boetie wat hom meestal afvee aan my. Boetie hoe maak 'n skaap... Me en 'n hond... Me en 'n kat... Me en 'n haas... Me...
Ek het darem my tande geborsel tussen al die sweets en roomys deur...
Intussen het Boeta alleen agter gebly en moes Mamma en Pappa hulle self maar met hom vermaak.
Vir die olifante was hy doodbang. Let wel dat hulle ten minste 'n halwe rugbyveld weg is, maar nou ja. Duidelik is ons nie 'n grootwildjagter nie.
Mamma en Pappa het die statiese elektrisiteit snaaks gevind... Boetie nie so baie nie...
Mamma en Pappa het gedink die stoeltjie agter op die fiets is 'n goeie idee... Boetie nie so baie nie...
Intussen het die vreugde vir Sussie nie opgehou nie en sy het nog 'n treinrit ook by haar lys van gebeurtenisse gesit...
Sondagoggend wou dit lyk of sy tog bly is om huis toe te gaan, maar dit het toe nou net 'n paar minute gehou. Teen die tyd wat hulle moes huis toe ry sou sy eerder by Ouma wou agterbly. Vanoggend het sy met groot vreugde vir almal in haar klas vertel dat sy saam met Oupa en Ouma willestuin toe gaan en dat sy alleen daar gekuier het en dat sy weer alleen soontoe wil gaan. Sy het nie eers die gewone roetine van vingertjies en drukkies en soentjies en hi-5s met Mamma gedoen of vir Mamma by die venster gewaai nie.... Miskien omdat Mamma alweer vanoggend moes baklei omdat haar pap nie geëet nie en haar skoene nie aangetrek en haar tande nie geborsel is nie.... Nie altyd so lekker om die Mamma te wees nie, ne!!
Dankie Oupa en Ouma. Sy het dit baie geniet. Gisteraand kondig sy so ewe aan dat haar tande seker gaan vrot van al die lekkergoed wat sy geëet het. Ek vra hoekom sy so baie sweets eet. Sy reken Ouma is so baie lief vir haar dat sy dit sommer alles self uitgedink het... Ek is seker ja....