Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Wednesday, 2 May 2012

Sy naam is Storm...

Storm... klink nogal soos 'n sierlike pikswart Arabierperd met 'n geslagsregister so lank soos my arm, ne... 



Toe nou nie!!  Storm is 'n pavement special met 'n pels soos staalwol en 'n hart soos 'n Arabierperd.  So 'n rukkie terug het Storm weggeraak - uitgehardloop en geweier om terug te gaan in die erf in.  Nadat ek reeds laat vir werk op en af agter hom aangehol, hom met my skoen gegooi en geskreeu het soos 'n "banshee" het ek met groot geskel aangekondig dat ek hoop hy loop weg en kom in sy lewe nie weer terug nie!  Zellie was devestated.  Sy is so ontsteld skool toe en ek het daardie middag uit skuldgevoel uit 'n uur en 'n half rondgery op soek na Storm.  Ek het hom gekry omtrent vier blokke van ons huis af en hy het onmiddelik soos 'n pyl uit 'n boog in die kar gespring toe ek die deur oop maak.  Die boonste foto is geneem toe ons by die huis gekom het.

Storm het al gesorg vir baie humor in ons huis.  So 'n rukkie terug het Zellie se nefie saam met ons huis toe gery en sy het die hele pad vir hom vertel dat sy ook 'n mooi hondjie het wie se naam Storm is.  (Die ander mooi hondjie waarmee vergelyk word is Ouma se Pekenese!).  Toe sy by die huis dood opgewonde uit die kar uit spring en STorm kom om die draai gehardloop het sy ewe geskok uitgeroep:
"Storm, hoekom is jou hare nou so deurmekaar!!" 
Asof hy nie so gelyk het toe ons vyf dae vantevore by die huis weg is nie!!

'n Rukkie gelede het hulle 'n liedjie by die skool gesing oor 'n Jackie en Sussie wou weet of sy 'n Jackie het.  Ek het gesê "Nee, jy het 'n pavement special."

Die naweek het sy eers vriende van ons ingelig dat haar hond 'n "Spaceship special" is en toe ewe verontwaardig baklei omdat hulle vir haar lag omdat sy nie "Vyfrand special" reg kan sê nie!  Ek sukkel nog om te besluit watter een die beste beskrywing vir die hond is!  Ons sal nooit weer 'n mongrel iets anders noem nie!!