Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Monday, 21 November 2011

Maar juffrou sê dit dan...

Franzél het skielik die manier ontdek om te sê J...em as iets baie cool of groot of wat ookal is. 

Mamma:  "Dit is 'n baie lelike woord.  Dit is dieselfde as om Liewe Jesus se naam te gebruik en jy mag dit nie doen nie."
Zellie:  "Maar my maatjies sê dit almal."
Mamma:  "Dan sê jy vir jou maatjies, dit is baie lelik, want hulle sê Liewe Jesus se naam as 'n vloekwoord."
Zellie:  "Dan sê hulle - ag man juffrou sê dit ook as sy by haar huis is..."

Wihan het sy vendetta met sy niggie nog so bietjie verder gevoer en besluit die enigste simpatie wat sy verdien nadat sy van die muurtjie af geval het, is om sopnat gespuit te word met die tuinslang!

Ons het Zellie se danseksamen sertifikate gekry en sy het 88% gekry en 'n goue medalje!!  Mamma is baie trots op jou!


Tuesday, 8 November 2011

Sien jou as ek 5 is!

Ek stap vanoggend saam met Sussie na juffrou Sxxxx se klas toe sodat ons volgende jaar se juffrou kan ontmoed en uitvind of daar enigiets is waaraan ons solank aandag moet gee:

Juffrou Sxxxx:  "Hello, kom jy volgende jaar na my klas toe."
Zellie:  (Steek net haar kop agter my boude uit om te praat.)  "Nee, ek is nog te klein.  (Kom heeltemal agter my boude uit.)  "Sien jy hoe is ek nog te klein."
Juffrou:  "Ja, maar volgende jaar gaan jy mos lekker groot wees."
Zellie:  "Nee, ek is vier (wys 4 vingers)  Ek sal hiernatoe kom as ek vyf is.  (wys 5 vingers)
Juffrou:  "Wanneer word jy vyf?"
Mamma:  "Februarie."
Juffrou:  "O, so jy is een van die ouer kinders.  Jy gaan hier by my vyf word dan sing ons almal vir jou."
Zellie:  "Nee, ek dink ek gaan nog laaaaaaank vier bly!"

Sy het 'n maand lank gehuil voor sy vir juffrou Exxxx en Mxxxxx gelike het.  Hierdie jaar 'n maand lank gehuil voor sy vir juffrou Hxxxxxx gelike het.  As sy eers aanpas raak sy so lief vir hulle dat sy nie weer wil skuif nie.  Dit was laas jaar so en hierdie jaar weer!  Dan gaan ons seker volgende jaar dieselfde paadjie stap!  Wil nie eers aan Graad R en juffrou Mxxxxx dink nie!!  Boetie gaan eendjie klas toe.  Gelukkig is dit mense met wie hy hierdie jaar al baie te doen gehad het, so ek dink hy sal fine wees.

So ja, sien juffrou as ek 5 is!

Monday, 7 November 2011

Groot bed

Wihan slaap van gisteraand af in die groot bed.  Ons het 'n reëling opgesit, kussings onder gepak en sy kotmatrassies langsaan gesit vir in geval!  Hy was gisteroggend al dood opgewonde oor sy bed.  Klim self op en gaan lê op die kussing met beer in sy arms, maak ogies toe asof hy regtig gaan slaap.... en dan loer hy vir jou en lag.  Te dierbaar.  Gistermiddag het hy in die kar aan die slaap geraak en ons het hom net in sy bedjie gaan neerlê.  Gisteraand het hy self in sy bed aan die slaap geraak.  Ons is klaar met die kot!  Kan nie glo my mannetjie lê 'n enkelbed al so vol nie!

Saterdagoggend het ons ontbyt gaan eet by Wimpy.  Die bestuurder kom vra of alles nog reg is en Zellie sê kliphard, "daai oom lyk gusting (disgusting)."  Mamma en Pappa kry amper 'n oorval, preek en verduidelik, sussie huil ens ens ens....

Gister sit ons Lion King en kyk en Mufasa (ek is so pas ingelig dat dit Scar is wat gusting is en nie Mufasa nie!  My lion king kennis is blykbaar nie op standaard nie!!) is besig met sy hiëna bende.

Zellie:  "Daai leeu is gusting."
Mamma:  "Ja, hy is.  Maar ons mag mos nie sê mense is gusting nie, ne."
Zellie:  "Wanneer het ek dit gesê?"
Mamma:  "Jy het dit gister gesê."
Zellie:  "Waar het ek dit gesê?"
Mamma:  "In die Wimpy."
Zellie:  "Vir wie het ek dit gesê?"
Mamma:  "Vir die oom."
Zellie:  "En - was dit 'n mooi oom?"  (Met die nodige "ek weet eintlik ek is reg" uitdrukking!)
Mamma:  "Ja.  Alle mense is mooi.  Mens kry nie lelike mense nie."
Zellie:  "O, skusie Mamma.  Ek het nie geweet die oom is vir jou mooi nie!"

En dit is hoe jy 'n argument verloor!

Tuesday, 1 November 2011

Hoe kan jy twee kinders liefhê?

Baie maklik, dis hoe!  Ek het hierdie by iemand gekry.  Dis so waar...

Loving Two

As I hold your hand basking in the glow of our magical relationship,
I suddenly feel a kick from within,
as if to remind me that our time alone is limited.
And I wonder:
How could I ever love another child as I love you?

Then that other child is born, and I watch you.
I watch the pain you feel at having to share me,
as you’ve never shared me before.
I hear you telling me and others in your own way,
“Please love only me.”
And I hear myself telling you in mine,
“I can’t,” knowing, in fact, that I never can again.

You cry. I cry with you.
I almost see our new baby as an intruder
on the precious relationship we once shared.
A relationship we can never quite have again.
But then, in my own heart,
I find myself attached to that new being,

an immence love growing in the deepest of my heart
and feeling almost guilty.


I’m afraid to let you see me enjoying him.
–as though I am betraying you.
But then I notice your resentment change,
first to curiosity, then to protectiveness,
finally to genuine affection.
More days pass, and we are settling into a new routine.

The memory of days with just the two of us is fading fast.
But something else is replacing those wonderful times we shared, just we two.
There are new times equally as wonderful–only now, we are three.

I watch the love between you grow, the way you look at each other, touch each other.
I watch how he adores you–as I have for so long.
I see how excited you are by each of his new accomplishments.
And I begin to realize that I haven’t taken something from you,
I’ve given something to you more special than any material gift.

I noticed that I am no longer afraid to share my love openly with both of you.
I find that my love for each of you is as different as you are, but equally strong.
And my question is finally answered,
to my amazement…

Yes, I can love another child as much as I love you–
only differently.
And although I realize that you may have to share my time,
share toys, share sweets, grandparents and everything else
I now know you’ll never share my love.

There’s enough of that for both of you
–you each have your own supply.
I love you–both equally differently
and I thank you for blessing my life.

-author unknown

Dit som dit so mooi op en dis 'n boodskap wat ek vir hulle tweetjies hier wil los vir eendag as hulle dalk wonder!  Die vraag moet eerder wees hoe kan jy nie vir al twee of al drie of al tien of al twintig jou kinders lief wees nie...

xxx

Monday, 24 October 2011

Die lang hare tannie

Zellie is mal oor Tangled.  Dit is 'n moderne Rapoensie-storie, regtig baie oulik.  Die naweek het sy hom 'n paar keer gekyk.

Zellie:  "Mamma, hoekom het ek nie lang hare nie?"
Mamma:  "Maar jy het lang hare?"
Zellie:  "Nee, ek het nie, ek soek baie lang hare."
Mamma:  "Lang hare soos Nxxxxxx?"  (Die kind se hare hang op haar boude, sy's 4 so ek kan dit nie verstaan nie!!)
Zellie:  "Nee, man.  Nxxxxx het nie lang hare nie.  Lang hare soos die lang hare tannie (Raponsel)."  (Raponsel se hare in die storie is baie baie baie baie lank!  Sy kan dit reg rondom haar draai van kop tot tone en dan is meer as die helfte nog oor!)
Mamma:  "Nee, man.  Wat wil jy met sulke lang hare maak?  Jy sal nie lekker kan swem of swaai of slaap of speel nie."
Zellie:  "Ek sal nie nodig hê om dit te doen nie, want ek sal heeldag aan my hare van die huis se dak af swaai!"

Ons kyk National Geographic.  Wihan se favourite.  Elke keer as daar 'n leeu of 'n beer of 'n tier op kom raak hy mal van opgewondenheid!

Zellie:  "Het julle geweet wat eet wolwe?"
Mamma:  "Nee, wat eet wolwe?"
Zellie:  "Hulle eet drie varkies en rooikappies!"

Natuurlik!  Hoe kon ek vergeet het.....

Potter het laas week nog drie tande by gekry en ons staan nou op twaalf.  Nog net die vier oogtande en die vier twee-jaar tande dan is ek klaar met tande sny!!  Dankie tog!!  En die baltic amber werk.  Die vorige keer toe hy drie tande op een slag gesny het, was hy twee keer op antibiotika met bronchitus en baie slegte middeloorontsteking.  Hy het baie sleg diarree gehad en verskriklike brandboudjies.  Erger as wat Zellie nog ooit gehad het en die eerste keer in sy lewe wat hy brandboudjies gehad het.  Sy ogies het ook verskriklik gedra en ek moes hom drie dae uit die skool uit hou as gevolg daarvan.  Zellie se ogies het ook altyd gedra as sy tande gesny het.

Hierdie keer het hy drie op een slag gesny en hoewel dit nogsteeds seer is - hy was klouerig en het sleg geslaap, was daar geen ander simptome nie.  Geen loopneus nie, nie gekwyl nie, nie een keer gehoes nie, nie diarree nie, nie koors nie, sy ogies het nie een keer gedra nie.  My seun kan maar sy krale hou! 

Friday, 21 October 2011

Dankie vir die kuier, hoor

Gisteraand kom 'n wildvreemde agent na ons huis om die aanbod te teken (hy het nog nie kinders nie!) en die volgende gebeur:

Zellie kruip 'n paar keer tussen sy bene deur net om hom te laat weet hy's baie welkom in ons huis (dink kat wat skuur!).  Sy het dit terloops al met my baas ook gedoen! 
Zellie:  "Het jy bietjie hier by ons kom kuier?"
Agent:  "Ja, ek kuier mos nou bietjie hier by julle."  (Duidelik ongemaklik!)
Zellie:  "Ons is baie bly dat jy vir ons kom kuier het.  Sit."

Wihan het op die slaapbank geklim en in sy eetstoeltjie geklim van daar af sodat hy sy jelly tots in 'n stoel kan eet.  Hy is per slot van sake nie 'n barbaar wat op die mat sit en eet nie...

Uiteindelik klaar tussen Wihan wat Otto vir die hond probeer voer, Zellie wat by ons by die tafel kom sit en meer gesê kry as enige iemand anders en so omtrent nege vloermoere deur Wi omdat niemand hom wil optel nie en hy heeltemal alleen op die aardbol is, is die agent uiteindelik op pad uit.

Zellie:  "Het jy klaar by ons gekuier?"
Agent:  "Ja, ek gaan nou huis toe."
Zellie:  "Ons is bly dat jy by ons kom kuier het.  Jy moet nou vinnig huis toe ry, anders word dit donker en dan word dit weer lig en dan het jy nie gedoedoe nie en dan gaan jy vreeslik vaak wees."  (Met die nodige pruilmondjie, skewe koppie en simpatieke ogies..."

Thursday, 20 October 2011

Die Kersverhaal - deur Zellie

Zellie:  "Mamma, het jy geweet Liewe Jesus se mamma is Maria en Sy Pappa is Josef en Hy is in 'n stal gebore?" 
Mamma:  "Jy is so slim!  Dis hoekom ons Kersfees hou."
Zellie:  "En weet jy wat het Josef toe gedoen?"
Mamma:  "Nee, wat het hy gedoen?"
Zellie:  "Hyyyyy heeeeet (sy't die manier om haar woorde laaaaank uit te rek terwyl sy besig is om die verhaaltjie uit te dink - koop tyd!) vir Tarzan so sterk gemaak dat hy die leeu wat vlieg en wat in die stal ingekom het dood kon maak.  Maria het niks gedoen nie - net babatjies gehê."

Sal ons hom Oukersaand vertel wanneer ons almal by die boom sit!

Vanoggend besig om klaar te maak vir skool:

Mamma:  "Wihan, jy gaan van die bed af val.  Sit stil of klim af, moenie spring nie."
Zellie:  "Ja Mamma, Wihan is mos 'n stoute klein helletjie."
Mamma:  "Nee, hy is nie.  Dis lelik om dit te sê.  Hy is net 'n babatjie wat wil speel."
Zellie:  "Nee Mamma, altyd as boetie so speel dan sê jy, sjoe maar jy is 'n stoute klein helletjie."

Oooops......

Vanoggend was die laaste strooi.  Vandag is fotodag en om daardie twee alleen klaar te kry en skoon te hou sodat hulle na iets meer lyk as gewoonlik is 'n MISSIE.  Sussie het 'n rok aan met 'n wit skipant (WIT JA!).  Boetie sy moosite khaki broek en knopie-hemp.  Boetie het cocopops in die hande gekry en homself met chocelate besmeer.  Sussie wou nie daardie rok gehad het nie, maar haar konsert rok!  Ek is sooooo bly Pappa kom vandag huis toe.  Regtigwaar, genoeg is genoeg!

Wednesday, 19 October 2011

Probeer net jou beste

Gesprek in die kar op pad huis toe gister middag:

Zellie:  "Mamma, my maatjies sê ek sing nie mooi nie."
Mamma:  "Sê vir hulle jy sing vir jou Mamma en Pappa en Ouma en Oupa en Boetie baie mooi."
Ek sit die radio bietjie harder vir 'n lekker liedjie.  Wihan het die manier om saam te sing, met sy "huh-huh-huh"  beweeg die koppie, klap handjies elke ding.

Mamma:  "Mooi, Wiwi, jy sing so mooi."
Zellie:  "Hy sing nie vir my mooi nie."
Mamma:  "Hy sing vir Mamma mooi.  Mens mag nie sê iemand anders sing lelik nie."
Zellie:  "Nee, hy hoef nie perfek te sing nie, maar ek kan hoor hy gee nie sy beste nie."

(Baie jammer om te sê, maar huh-huh IS nie net sy beste nie, dis sy ENIGSTE!)

Vanoggend kom klim sy half ses by my in die bed, sommer al klaar huilerig, want Pappa is heel week nie hier nie:
Zellie:  "Mamma, ek is vreeslik baie lief vir jou, maar ek wil nou net my Pappa hê..."

Wihan is blykbaar klaar met die kot.  As jy die oggend in die kamer kom en jou kind se bene steek uit waar hy die kot se hele naat oopgeskop het, is dit tyd vir die groot bed!
 

Wednesday, 12 October 2011

Hy Lewe!!!!!

Vanoggend het 'n dooie ladybird redelike drama in ons ou huisie veroorsaak! 
Zellie:  "Mamma, kyk dis 'n ladybird, (pruilmondjie) ag jitte...Ek gaan hom skool toe vat, want Axxxxx is verskriklik lief vir ladybirds."
Mamma:  "My Skapie, dis 'n dooie ladybird.  Mamma dink nie Axxxx is so baie lief vir dooie ladybirds nie.  Gooi hom buite."
Zellie:  "Nee, toemaar Mamma, hy sal opstaan.  Liewe Jesus sal laat hy opstaan."
Mamma:  "My Engel, ek dink nie Liewe Jesus laat lady birds opstaan nie."

Eventually is hy saam skool toe.  Terwyl ons ry:
Zellie:  "Mamma, kyk!  Hy loop oor my handjie, hy het opgestaan!"
Mamma:  (Nadat ek sien hy's wragtig lewendig!)  "Ek sien my skapie.  Moet hom nou nie doodmaak nie, ne.  Saggies vat."  (Weet nie lekker wat om te sê oor die ladybird wat opgestaan het nie!)
Zellie:  (Sing uit volle bors!)  "Hy lewe, gemaak om met vlerkies te swewe!" 

By die skool het sy op 'n stoel parkeer by die ingang en vir almal wat verby kom die ladybird gewys.  Sy't nie eers saamgestap na boetie se klas toe nie, vir die eerste keer ooit.  Toe ek by die skool weg is het sy die ladybird aan Mxxxxx oorhandig.  Axxxxx het hom toe nooit eers gesien nie.  Ek wonder of die opgestaande nog lewe....  Ek twyfel......

Monday, 10 October 2011

Moms to boys work from son up till son down...

Ek het nooit geweet hoe waar hierdie sêding is voordat daardie klein Potter-otter-mannetjie oor my pad gekom het nie!  Hy is besig...  Hy is ongelooflik verskriklik baie bedrywig en besig en aan die gang en stout...  ja my 16 maande oue seuntjie is S-T-O-U-T - en hy weet dit...

As ek kos maak, moet hy saam kos maak...  met regte kos... in regte potte!  My aartappels is sy speelgoed - vir sy kospotte, vir ronddra in lepels, vir voer vir die hond.  Ek tel aartappels op plekke op waar geen aartappel ooit behoort te wees nie!  Hy gooi hulle, rol hulle, kou hulle, sit hulle in my laaie, in die skottelgoedwasser, in die tuimeldroër...  As ek kos maak is hy hier om my voete en hy roer die aartappels met 'n lepel dat jy net sien stukke spat.  Elke kort-kort moet ek hom eers optel dat hy kan sien waarmee ek besig is, dan is dit huh-huh en dan gaat ons weer aan met ons potte.  Hy pak nie een of twee potte uit nie.  Hy pak elke liewe pot in die kas uit - tot die groot swaar ysterpot en die stoompot moet saamspeel.  As ek hulle teruggepak het is dit net 'n uitnodiging om van voor af te speel.

Hulle het hierdie naweek water ontdek.  Twee skottels en hulle speeltafel vol water met koppies en lepels en swemklere.  Wat kan nou lekkerder wees.  En as mannetjie dan nog tussenin kan tuin nat maak is dit eers wonderlik.  Hy doen nogal nie 'n slegte job nie.  Staan so ewe doodstil dat die boom eers nat word en beweeg dan na die volgende een toe.

As hulle tweetjies stil raak kan jy maar weet hulle jaag nonsens aan.  Gister het hy sy kamer met vicks gesmeer.  Orals.  Die matras, kot, muur, mat, homself, sy hemp, die beer.  Die hele huis ruik vanoggend nog na vicks.  En sussie reken sy het "per ongeluk die houertjie vir hom oopgemaak"  en "ons moet 'n huisie kry waar daar niks is waarmee boetie kan stout wees nie sodat sy nie heeltyd raas kry nie."  Ek raas met sussie toe ek op die vicks afkom, maar Wihan hardloop reguit na sy kot toe, deur die deurtjie en gaan lê op sy kussing.  Hy het nog heeltyd hier gelê.  Die pretspul was natuurlik nadat hulle twee hele rolle toiletpapier afgerol het!

Gisteraand het hy so sesuur se kant op my skoot kom lê en heeltemal buite normale roetine 'n slapie gevat.  Kom ons sê maar net hy was 10uur nog wakker.  Dan gaan hy kamer toe om 'n beer te gaan haal, dan kom val hy met sy kombers langs my neer om te slaap, lê vir tien sekondes, spring op om 'n ander beer te gaan haal, val neer om te probeer slaap.  Hy het op die mat probeer slaap en op die vloer probeer slaap en op sy pa probeer slaap, maar sy ogies wil net nie toe gaan nie.  Op 'n stadium toe ons vir sussie in die bed gaan sit, kom hy uit sy kot uit gekruip met die pan wat hy netnou daar gaan bêre het.  Hy het tot met die pan probeer slaap!!

Ag en die drukkies...  hy het geleer as hy op jou afstorm met oop armpies en jou 'n stywe drukkie gee is alles vergewe.  Mamma kry gewoonlik 'n stywe om die lyf drukkie met koppie teen my maag gedruk wanneer ek hom op ons bed aantrek.  Pappie kry 'n drukkie met twee vingertjies in sy pens en sussie kry 'n druk met die skouer as hy haar uit die pad uit stamp om by Mamma uit te kom!

My tweetjies raak nou lief vir mekaar.  Sy kan nie wag dat hy opstaan sodat sy sy kot se deurtjie kan oopzip vir hom om te ontsnap nie.  AS sy in die gang af is is hy vinnig agterna.  Hulle hou handjies vas en gesels en speel en as hy tog net iets disgusting kan doen sodat sussie lag, lag hy uit sy magie uit!  Dit is mooi om te sien hoe hulle verhouding ontwikkel.  "Mamma, ek is baie lief vir my boetie.  Kyk net sy cutiful ogies!"