Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Thursday, 29 November 2012

Sussa se eerste kersfeeslysie...

By die mall is 'n groot posbus waarin die kinders briefies vir kersvader kan pos en dan skryf hy terug.  Ek vertel vanoggend vir Sussa ons moet vanmiddag 'n briefie skryf, so sy moet solank dink wat sy wil hê.

Sussa: "'n neukenaar (rekenaar!), 'n Barbie en 'n pophuis."
Mamma:  "Jy het 'n Barbie en 'n pophuis waarmee jy nooit speel nie?"
Sussa:  "Ja, maar ek speel nie met Barbie nie, want sy is alleen en die pophuis is die feetjies s'n.  Die Barbies soek hulle eie pophuis..."

Regtig??  En dit nadat ons toe ons omtrent twee jaar terug die pophuis gekoop het haar moes probeer oortuig dat dit 'n feetjie huis is om haar te kry om met die ding te speel.  Iets wat nog nooit gebeur het nie.

Mamma:  "Ek dink die feetjies kan maar uit trek dan trek die Barbies in die huis in?"
Sussa:  "MAMMA!!  NEE!!!  Ons kan nie sommer net die feetjies se huis vat nie.  Waar gaan hulle in die aande slaap!"

Let wel dit is denkbeeldige feetjies.  Die enigste rede hoekom die pophuis in haar kamer staan is sodat die denkbeeldige feetjies in hom kan slaap in die aand.  So af en toe sit ek rys mier vlerkies in hom en dan is sy morsdood opgewonde oor die feetjie wat groter vlerkies gekry het.  En af en toe gooi Boeta alles uit die pophuis uit, probeer binne in klim en dra dan die meubels die wereld vol, probeer op die bedjie lê en op die stoeltjies sit.  Dit is die enigste gebruik vir 'n pophuis wat nie vir haar Barbies gebruik mag word nie!!!

En Wihan het uiteindelik uitgevind hoe om die skuld op iemand anders te pak.  Hy kom met sy stukkende stroper by my en raak heeltemal histeries, omdat Mamma nie die nodige wonderwerk kan laat gebeur om hom weer te genees of uit die dood uit te laat opstaan nie!!

Mamma:  "Ek kan hom nie reg maak nie.  Jy't hom gebreek so dit is jou eie skuld."
Boeta:  "Sussie hom gebleek."
Mamma:  "Sussa het jy hom gebreek?"
Sussa:  "Nee!!"
Boeta:  "Sussie hom gebleek.  SUSSIE!!!"  Met die nodige vingertjie in die lig en kwaai houding!  "Had pak kly!"  En toe slaan hy ook sommer vir Sussa!!
Mamma:  "Wihan, jok jy?"
Boeta:  "Sussie jok!!"

Oulik ne! 

 

Wednesday, 28 November 2012

Die mees onlangse sê goed...

Wihan begin nou die praat-ding behoorlik onder die knie kry en ons begin nou lekker lag vir wat hy kwyt raak.

Laas week het hy besluit 'n pynappel is 'n eina-appel.  Baie akkurate beskrywing!

As ons hom roep antwoord hy elke liewe keer "Huh!! WAT?!"  Bitter ongeskik, maar toemaar!

En sy heel nuutste is dat alles "AWESOME" is!!  Pappa, joe awesome!  Mamma, joe awesome!  Dis awesome!  Kan sien wie het 'n ouer sussie, né!

Sy nuutste gunsteling tydverdryf is om vroeg op te staan en dan by sy Sussie in die bed te gaan klim.  Hulle twee speel dan omtrent 'n hond uit 'n bos uit.  Sy lees vir hom en hulle gesêls en dan is dit 'n tragedie as hulle moet klaar maak vir skool, want hulle speel dan nou so lekker!

Pappa trap vanoggend op Sussa se voet.  Sy was omtrent histeries en reken my "Dit is okay as jy op my voet trap, maar Pappa het taxis aan!!"  En sy begin nou groot word, want sy was bitter ontstoke omdat ek vir haar lag.  "Ek wou net gesê het tekkies, mamma!"  Maar taxis is so 'n goeie beskrywing vir sy nr 12 skoene!!  Nie skepe nie, taxis...

Ons het rapporte gekry die laaste twee dae.  Sussa het baie goed gevaar hierdie jaar.  Haar skool rapport is perfek, sukkel met niks nie, is baie soet in die klas en speel lekker met die maatjies.  Al haar buitemuurse aktiwiteite ook baie baie goed.  Trots op my meisiekind wat so groot word.

Boeta se rapport was 'n bietjie teenstrydig...  Maar dit is seker nie regtig 'n maklike taak om vir 'n kiind van 2 'n sinvolle rapport te probeer gee nie.  Veral nie as hy soos Boeta is wat weier om deel te neem by die skool nie.  Ons glo volgende jaar sal baie beter gaan.  Hy het die laaste maand mooi gevorder en baie meer selfvertroue gekry. 

Hierdie jaar is nou baie vinnig besig om sy laaste paar treë te stap en ons sien baie uit na ons wildtuin vakansietjie oor kerstyd.  Nou nog net die tonne werk wat voor dan gedoen moet word agter die rug kry.  En verkieslik voor die skool die 14de sluit en hulle tweetjies voltyds hier by die huis rond dwaal...

Monday, 19 November 2012

Wat geld nie kan koop nie...

As 'n mens 5 jaar oud is, is daar blykbaar nie veel wat geld nie kan koop nie.

Ek en sussie het vanoggend 'n gesprek oor haar snoepiegeld wat ons moet inbetaal:
Zel:  Ek sal sommer my eie geldjies vat Mamma.
Mamma:  Dis reg, maar dan is jou geldjies op, ne.  (Haar gunsteling ding om met haar geld te doen is om dit vir die karwagte te gee!!  Sy raak histeries as ek my geld gee....)
Zel:  Ek het 'n baie goeie idee, Mamma.  As ons van nou af dorp toe gaan, dan kan ek my eie geldjies sommer gebruik vir sweets, want jy het nooit geld nie.
Mamma:  Dis oulik, maar jou geld is nou op.  Jy het dit vir die snoepie gebruik...
Zel:  Ja, man, maar as ons by die winkel kom dan koop jy by die Tannie vir my my eie geld.

En daar is die oplossing vir elkeen van ons en Suid-Afrika se probleme...  Koop net vir julle nog geld!

Gister is ons in Witbank by Highveld mall en Sussa stap met oom Gerhard aan die hand.  Sy dink op los sy hand om na iets te kyk en ons stop om vir haar te wag, maar sy dink ons het aangestap, storm verby ons en gryp 'n swart man se hand.  Ons loop en lag vir haar, maar dit vat haar seker 50m voor sy besef wat aangaan!  Kom ons sê maar net die swart man was erg benoud en baie verlig toe ons almal lekker lag!  Natuurlik was sussa kwaad vir ons ALMAL!!

Sussa is omtrent vrygewig met die komplimente ook deesdae.  Sy het Vrydag vir haar tannies onderskeidelik gesê een raak oud, een raak mal en iemand was sommer 'n bietjie stadig ook...  Ons werk aan wat 'n mens mag en nie mag sê nie hierdie week!!

Boeta is weer op 'n goeie stadium die laaste week waar ek begin hoop kry dat hy tog iewers uit sy dop uit gaan kruip en nie altyd so skaam sal wees nie.  Waar hy laas naweek by 'n partytjie nie een keer langs my gee pad het om op die springkasteel of watergelybaan te speel nie en Sondag in die kerk op my skoot gesit het met altwee my arms vasgeklem het hy gister by Spur uitgestorm en saam met maats gaan speel.  Hy het sy sussie kom haal as sy in kom want hulle moet '' buite peel''.  Gisteraand met die gemeente kerssangaand het hy in 'n donker kerk met net fairy lights en kerse op die gallery voor by die ander kinders op die mat gaan sit om beter te kan sien en vanoggend al die pad na sy klas toe gestap en sy tas self in sy rakkie gaan sit sonder trane. 

As mens bid vir iets en dit gebeur moet mens seker leer om net dankbaar te wees en nie heeltyd te wonder hoe lank dit gaan hou nie, ne...  Ek is so bang vir daardie hart-se-punt-seunskind van my.  Na my selfstandige meisiekind met tonne selfvertroue is dit 'n ander speletjie om hom groot te maak.  My hart breek vir my kind wat by die skool 'n mensie is wat ek glad nie herken nie.  Om elke oggend 'n huilende seuntjie af te laai wat glad nie oop maak vir enige iemand nie en die hele dag net uit sien na wanneer ek hom weer kom haal breek 'n ma se hart.  Om dit vir 11 maande aanmekaar te doen is sielsdodend....  Ek bid regtig vir 'n beter jaar vir hom volgende jaar.

Thursday, 27 September 2012

My Boetie is awesome!!

Ek het die kinders vroeg gaan haal, want vanaand is konsert en almal moet tof en aantrek.  Sussie kon nie wag om vir my te vertel nie: 

''Mamma, ons mag vanoggend gesit en kyk het hoe dans my Boetie se klassie en hulle is awesome, Mamma!  My Boetie was awesome!  Hy het nie eers gehuil nie en hy het tot gedans en gemaak net soos al die ander maatjies!  My mondjie het sommer so self begin glimlag en al my maatjies het gesien dis my Boetie.  Hulle almal het gesê my Boetie dans so awesome!  High 5, Boetie!  Daardie klein kindertjies dans die heel beste in die hele wêreld!''

Ek onthou nog Sussa se heel eerste konsert so goed.  Dit is darem so spesiaal as daardie klein lyfies so dapper op die verhoog stap voor honderde mense en hulle deeltjie doen!  Mens kan nie glo hulle kan so oulik wees en dat die laaste een nie in trane uitbars nie.  Vanaand het ek weer 'n klein lyfie tussen hulle.  Ek is net so opgewonde soos sy Sussa!

En Sussa is net so opgewonde want sy dans met haar beste maatjie en hy moet sy been so hou en dan gaan sit ek op hom en dan val ons karplaks agteroor en dan lag ons so vreeslik lekker!  Ek preek nog van sy moenie op hom neerval nie en nie haar volle gewig op hom neersit nie.  Maar sy reken hulle lag baie lekker as hulle so reg agteroor val!!  Sal interessant wees om te sien hoe dit vanaand gaan!

Tuesday, 25 September 2012

Ons was berge toe...

Sussie glo nogsteeds vas ons het berge toe getrek.  As mens kyk na die hoeveelheid bagasie wat ons in die kar gelaai het, het ons amper - darem net vir die naweek.  Gister op pad terug het sy met elke kar wat verby kom en vol gelaai is gesê "kyk daardie mense het ook berge toe getrek!"

Die kinders het dit baie geniet.  Baie plek vir rondhardloop, parkie sommer naby die tent, maatjies en 'n lekker geplaveide paadjie waar hulle kon fietsies ry.  Ja, daardie irriterende fietsies wat ons so gehaat het!  Maar darem net vir 'n paar minute op 'n slag en nie al om dieselfde ou oom se tent nie!  Ons het lekker in die warm water swembad geswem - tot Boeta het dit gate uit geniet.  Hy het my tot toegelaat om hom net onder sy magie vas te hou terwyl hy met sy arms en beentjies skop.  Dit is 'n baie groot stap vir my mannetjie wat verlede seisoen nog verwoed aan my vasgeklou het.  Miskien kan ons hom tog volgende jaar inskryf vir swemlesse.  Sussa kom al baie mooi reg en swem die swembad deur met haar eerste probeerslag.  Daarna is sy moeg en spartel sy behoorlik om net kop bo water te hou.  Belangrikste is dat sy nie soos 'n klip sink wanneer sy onder die water gaan nie. 

Natuurlik bring 'n naweek met gedeelde ablusie-geriewe en my bekkige meisiekind altyd ietsie om oor te lag vir lank na die tyd.  Saterdag is sy in die badkamer besig en ek sit buite op die bankie en wag vir haar om klaar te maak.
Sy hoor 'n deur toe gaan en vra:  "Mamma, gaan jy ook piepie?"
Mamma:  "Nee, ek sit hier buite en wag vir jou."
Sussa:  "Mamma, is dit 'n ander tannie wat piepie?"
Mamma:  "Ja Sussa, maak nou klaar."
Sussa:  "Mamma, hoekom piepie die Tannie so lank?"
Mamma:  "......Zellie.  Shht en maak klaar."
Sussa:  "Tannie, my Mamma sê as mens so vreeslik lank wag om te piepie kry mens goggas in jou blasie!"
Toe gaan Mamma maar saam met haar in die hokkie in en wag tot die tannie loop voor ons uit kom!!!

 
Elke keer as Boeta agterkom Sussa is parkie toe sonder hom was daar drama.  Dan hardloop hy agter haar aan!  

 
Daar is onder die bome gepotjie train en teen die bome ook so paar keer.  Nie een glipsie vir die hele naweek nie.  En dit terwyl ons besig was en op 'n vreemde plek.  Ma se groot man!
 
 
Dit is hoe 'n kar gepak word as 'n gesin van vier gaan kamp sonder 'n waentjie.  Tot die skopfiets, scooter en potjie was in!
 


 
Hierdie is die duidelikste foto wat ek van Sussa het.  Sy het meeste van die tyd geweier om vir my te kyk vir 'n foto en was hier kwaad omdat ons nie in die swembad was nie...

 
As hierdie tasse ingelaai word is ek by.  Weet mos nou al julle vergeet my orals waar ons gaan!

 
 
Dit was 'n lekker naweek.  Doodmoeg huis toe gekom, want Boeta slaap glad nie in die tent met die wind wat so raas teen die tent nie.  Het letterlik elke halfuur wakker geword!   Hierdie is 'n besige week.  Donderdagaand is konsert en ons kan nie wag nie.  Sussa het heel naweek vir ons al die konsert liedjies gesing en verduidelik wat hulle nou eintlik moet doen. Kan nie wag nie en dit is Boeta se eerste een.  Dit behoort baie interessant te wees.
 

Wednesday, 19 September 2012

Ons trek!! Berge toe!!!

Ons het die fout gemaak om vir Sussa te sê dat ons die naweek gaan kamp en bergklim.  Sy het besluit dat ons gaan trek - berge toe.  En sy het dit vir almal vertel wat sy by die skool teëkom.

Maandag bel oom W*** vir Pappa en vra hoekom sê ons nie vir hulle ons trek nie.  Vanoggend by die skool het twee mense my voorgekeer en gesê hulle hoor ons trek berge toe!!  Wat sal ons sê...  Wonder wat word nog alles verdraai aan die hele wêreld oorgedra en waaroor hulle te ordentlik is om verder uit te vra!

Vanoggend sê S***, een van die Pappas vir my my hare lyk mooi so donker.  Haak Sussa af, skud haar haartjies oor haar skouer en sê "dankie, ek weet!!"  En dit is die tweede keer die week wat sy dit doen!  Die vorige keer het sy vir juffrou N*** gevra "Myne, ag dankie!"

Gisteraand praat sy met Oupa Japie op die foon en hoor sy tand het gebreek.  Sy reken "Oupa moet die tand in sy skoen sit dan bring die muis vir jou twee geldjies!"

Ten minste kry ons die selfvertroue gedeelte van haar opvoeding mooi reg... 

Monday, 17 September 2012

So 'n stoute Babatjie!

Sussa wou gisteraand ewe ernstig by ons weet hoekom Liewe Jesus tog so 'n stoute babatjie in Mamma se maag vir ons gestuur het!!  Met goeie rede, want Boeta is omtrent daarop uit om haar te verpes!

Hy probeer haar nat piepie in die bad, steel haar Otto en weier om hom terug te gee, jaag haar, stoei met haar, spring op haar, trek haar hare, lek haar ore, steel haar tafeltjie terwyl sy eet, vat haar bakkie wasbak toe terwyl sy nog besig is om te probeer eet, weier om sy chips met haar te deel.  Maar sy geniet hom eintlik baie!!  Hulle speel en gil en lag die grootste deel van die dag en soek mekaar as een nie daar is nie.  As ek in die middae vir boeta by die skool gaan oplaai staan hy by die hekkie en deur loer en roep vir "Sussie".  Baie sweet!

Sussa is te oulik met al haar gediggies en liedjies.  Kan nie glo hoeveel goed sy ken nie - en dit is lang gediggies wat sy opsê met gevoel!  Ek wil die woorde neerskryf soos sy dit opse want dit is regtig sweet.  Die een dink ek onthou ek reg!

Brand, brand,
skreeu du Randt,
waar, waar,
vra de Jager,
in die Skuur,
sê die vuur,
wie gaan kyk,
vra van Wyk,
die toeters blaas,
die brandweer raas
en die mense hardloop saam!

Dan is daar nog Trippe Trappe tone, Die kameelperd en iets van die boer se bone en 'n kweperlat.
O ja en die Koekie seep wat 'n ongeluk gehad het!  Sy sê hom verskriklik oulik.  Ek moet haar eintlik opneem en dit bêre, want dis baie sweet!

O ja en die telliedjie van die papajas aan die tak.  Tel agteruit van 5 af en weer terug en sy hou kop.  My slimste slim kind!  Ek love haar juffrou van hierdie jaar.  Sy kry verskriklik baie reg met die kiddies en Sussa blom behoorlik in haar klas.  Sy het al kleinkinders en ek dink sy het die geduld en liefde wat die jonger juffrouens baie keer kort kom. Gaan volgende jaar vir juffrou Sxxxx mis.  Sy moet net nog daar wees as Boeta na daai klassie toe moet gaan!
 

Tuesday, 11 September 2012

Wie jok nou eintlik...

Sussie:  "Mamma, ek dink M*** vertel vir my stories."
Mamma:  "Hoekom dink jy so?"
Sussie:  "Sy sê haar oupa sê daar is manga slange in hulle erf wat mens spoeg?"
Mamma:  "Praat sy nie dalk van 'n tuinslang wat water spoeg nie? :-)"
Sussie:  "Nee.  En sy sê toe haar Oupa een oggend wakker word toe is daar twee leeus by die kamer venster."
Mamma:  "Ja, ek dink ook dit is dalk 'n storie..."
Sussie:  "En sy sê haar oupa moes in die grond grou vir wurms om te eet, want hy het nie kos gehad nie."

Is ek die enigste een wat dink M*** se oupa is die een wat die stories vertel???

Wihan se gunsteling nuwe woord is "bam!'"  Nie soos in skiet nie, soos in bang met 'n m!!  Hy sal in die gang begin afloop, skielik besef dis donker, omspring en terughol tv kamer toe en dan heel ernstig vir ons sê "Nee, ekke nou bam!"  En hy is baie bewus van wat "ja" en "nee" beteken.

Is jy lief vir Mamma?  Ja.
Is jy lief vir Pappa?  Ja.
Is jy lief vir Sussie? Ja.
Is Sussie lief vir jou?  Dan soek hy vir Sussie en vra "Sussie?"

Raak nou 'n regte klein mensie.  Nogsteeds onmoontlik stout, maar as jy nou vir hom vra of hy pak wil hê, hou hy sy boude vas en sê "NEE!"

 

Monday, 10 September 2012

Mamma verniel my tande...

Vanoggend terwyl ek besig is om sussie se hare te kam:
Sussa:  "Mamma, onthou jy hoe het jy gesê as ek so hard op my tande kners gaan hulle kraak en dan gaan die tandarts met my raas?"
Mamma:  "Ja, dis regtig so.  Mens moenie harde goedjies kou soos ys en harde toffies nie en mens moenie op jou tande kners nie."
Sussa:  "As ek nou weer tandarts toe gaan en sy sê my tande is so baie gebreek, gaan ek vir haar sê dit is omdat jy my hare so seer kam!"

Die naweek was dit uiteindelik amper somer!  Die kinders het hulle morsdood moeg buite gespeel en hulle omtrent doodmoeg baljaar.  Boeta het gistermiddag geslaap van 2 tot 5 en gisteraand 8uur was hy weer uit soos 'n kers.

By die kwekery.  Hulle altwee se gunsteling plek.  Daar is trollies om op te ry en visse om te voer en soos Boeta sê 'n "Bam kat" wat hy met die besem kan jaag!

 
Daar is niks lekkerder as om met water te speel nie!  Daardie water was vir seker nie baie warm nie, maar hulle het darem beurte gemaak om mekaar nat te spuit!

 
Hier het ons warm water in die skottel getap - lekkerrrrrrr....
 

 

 

Wednesday, 5 September 2012

Wat ons die laaste paar weke gedoen het.

Ons het by Oom Jaco en Tannie Michelle se nuwe huis gaan kuier in Ermelo.  Hier bond oom Francois en Melissa bietjie.

 
Die niggies ry donkiekar by die bazaar.  Wihan het uitgefreak.  Na ons hom op die roller coaster by Gold Reef City gesit het dink hy alles gaan met hom wegjaag!

 
Die winter van 7 Augustus!!  Die warmste wat hulle die hele winter nog aangetrek was! 
 

 
Raai by wie leer my kinders om eers die "labels" te lees voor hulle iets eet of drink.  Die pies is fine, maar die sap is "dodgy"!

 
Boeta het sy Y-bike gevind en ons moes behoorlik keer dat hy by die deur uit jaag met hom.  Dit is sy nuutste beste maatjie en hy kom so mooi reg!

 
Sussa wil so baie graag 'n Woefie hê...  Miskien een van die dae.

 
Boeta het sy pa gevind en wil net heeltyd saam met hom buite in die tuin werk en by hom slaap.  Wonderlik - bietjie baie nodige rus en vrede vir Mamma!!

 
Johannesburg dieretuin - my twee mooi kiddies het hoenders gejaag, maatjies gemaak en op die groot lorrie gery!