Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Monday, 24 October 2011

Die lang hare tannie

Zellie is mal oor Tangled.  Dit is 'n moderne Rapoensie-storie, regtig baie oulik.  Die naweek het sy hom 'n paar keer gekyk.

Zellie:  "Mamma, hoekom het ek nie lang hare nie?"
Mamma:  "Maar jy het lang hare?"
Zellie:  "Nee, ek het nie, ek soek baie lang hare."
Mamma:  "Lang hare soos Nxxxxxx?"  (Die kind se hare hang op haar boude, sy's 4 so ek kan dit nie verstaan nie!!)
Zellie:  "Nee, man.  Nxxxxx het nie lang hare nie.  Lang hare soos die lang hare tannie (Raponsel)."  (Raponsel se hare in die storie is baie baie baie baie lank!  Sy kan dit reg rondom haar draai van kop tot tone en dan is meer as die helfte nog oor!)
Mamma:  "Nee, man.  Wat wil jy met sulke lang hare maak?  Jy sal nie lekker kan swem of swaai of slaap of speel nie."
Zellie:  "Ek sal nie nodig hê om dit te doen nie, want ek sal heeldag aan my hare van die huis se dak af swaai!"

Ons kyk National Geographic.  Wihan se favourite.  Elke keer as daar 'n leeu of 'n beer of 'n tier op kom raak hy mal van opgewondenheid!

Zellie:  "Het julle geweet wat eet wolwe?"
Mamma:  "Nee, wat eet wolwe?"
Zellie:  "Hulle eet drie varkies en rooikappies!"

Natuurlik!  Hoe kon ek vergeet het.....

Potter het laas week nog drie tande by gekry en ons staan nou op twaalf.  Nog net die vier oogtande en die vier twee-jaar tande dan is ek klaar met tande sny!!  Dankie tog!!  En die baltic amber werk.  Die vorige keer toe hy drie tande op een slag gesny het, was hy twee keer op antibiotika met bronchitus en baie slegte middeloorontsteking.  Hy het baie sleg diarree gehad en verskriklike brandboudjies.  Erger as wat Zellie nog ooit gehad het en die eerste keer in sy lewe wat hy brandboudjies gehad het.  Sy ogies het ook verskriklik gedra en ek moes hom drie dae uit die skool uit hou as gevolg daarvan.  Zellie se ogies het ook altyd gedra as sy tande gesny het.

Hierdie keer het hy drie op een slag gesny en hoewel dit nogsteeds seer is - hy was klouerig en het sleg geslaap, was daar geen ander simptome nie.  Geen loopneus nie, nie gekwyl nie, nie een keer gehoes nie, nie diarree nie, nie koors nie, sy ogies het nie een keer gedra nie.  My seun kan maar sy krale hou! 

Friday, 21 October 2011

Dankie vir die kuier, hoor

Gisteraand kom 'n wildvreemde agent na ons huis om die aanbod te teken (hy het nog nie kinders nie!) en die volgende gebeur:

Zellie kruip 'n paar keer tussen sy bene deur net om hom te laat weet hy's baie welkom in ons huis (dink kat wat skuur!).  Sy het dit terloops al met my baas ook gedoen! 
Zellie:  "Het jy bietjie hier by ons kom kuier?"
Agent:  "Ja, ek kuier mos nou bietjie hier by julle."  (Duidelik ongemaklik!)
Zellie:  "Ons is baie bly dat jy vir ons kom kuier het.  Sit."

Wihan het op die slaapbank geklim en in sy eetstoeltjie geklim van daar af sodat hy sy jelly tots in 'n stoel kan eet.  Hy is per slot van sake nie 'n barbaar wat op die mat sit en eet nie...

Uiteindelik klaar tussen Wihan wat Otto vir die hond probeer voer, Zellie wat by ons by die tafel kom sit en meer gesê kry as enige iemand anders en so omtrent nege vloermoere deur Wi omdat niemand hom wil optel nie en hy heeltemal alleen op die aardbol is, is die agent uiteindelik op pad uit.

Zellie:  "Het jy klaar by ons gekuier?"
Agent:  "Ja, ek gaan nou huis toe."
Zellie:  "Ons is bly dat jy by ons kom kuier het.  Jy moet nou vinnig huis toe ry, anders word dit donker en dan word dit weer lig en dan het jy nie gedoedoe nie en dan gaan jy vreeslik vaak wees."  (Met die nodige pruilmondjie, skewe koppie en simpatieke ogies..."

Thursday, 20 October 2011

Die Kersverhaal - deur Zellie

Zellie:  "Mamma, het jy geweet Liewe Jesus se mamma is Maria en Sy Pappa is Josef en Hy is in 'n stal gebore?" 
Mamma:  "Jy is so slim!  Dis hoekom ons Kersfees hou."
Zellie:  "En weet jy wat het Josef toe gedoen?"
Mamma:  "Nee, wat het hy gedoen?"
Zellie:  "Hyyyyy heeeeet (sy't die manier om haar woorde laaaaank uit te rek terwyl sy besig is om die verhaaltjie uit te dink - koop tyd!) vir Tarzan so sterk gemaak dat hy die leeu wat vlieg en wat in die stal ingekom het dood kon maak.  Maria het niks gedoen nie - net babatjies gehê."

Sal ons hom Oukersaand vertel wanneer ons almal by die boom sit!

Vanoggend besig om klaar te maak vir skool:

Mamma:  "Wihan, jy gaan van die bed af val.  Sit stil of klim af, moenie spring nie."
Zellie:  "Ja Mamma, Wihan is mos 'n stoute klein helletjie."
Mamma:  "Nee, hy is nie.  Dis lelik om dit te sê.  Hy is net 'n babatjie wat wil speel."
Zellie:  "Nee Mamma, altyd as boetie so speel dan sê jy, sjoe maar jy is 'n stoute klein helletjie."

Oooops......

Vanoggend was die laaste strooi.  Vandag is fotodag en om daardie twee alleen klaar te kry en skoon te hou sodat hulle na iets meer lyk as gewoonlik is 'n MISSIE.  Sussie het 'n rok aan met 'n wit skipant (WIT JA!).  Boetie sy moosite khaki broek en knopie-hemp.  Boetie het cocopops in die hande gekry en homself met chocelate besmeer.  Sussie wou nie daardie rok gehad het nie, maar haar konsert rok!  Ek is sooooo bly Pappa kom vandag huis toe.  Regtigwaar, genoeg is genoeg!

Wednesday, 19 October 2011

Probeer net jou beste

Gesprek in die kar op pad huis toe gister middag:

Zellie:  "Mamma, my maatjies sê ek sing nie mooi nie."
Mamma:  "Sê vir hulle jy sing vir jou Mamma en Pappa en Ouma en Oupa en Boetie baie mooi."
Ek sit die radio bietjie harder vir 'n lekker liedjie.  Wihan het die manier om saam te sing, met sy "huh-huh-huh"  beweeg die koppie, klap handjies elke ding.

Mamma:  "Mooi, Wiwi, jy sing so mooi."
Zellie:  "Hy sing nie vir my mooi nie."
Mamma:  "Hy sing vir Mamma mooi.  Mens mag nie sê iemand anders sing lelik nie."
Zellie:  "Nee, hy hoef nie perfek te sing nie, maar ek kan hoor hy gee nie sy beste nie."

(Baie jammer om te sê, maar huh-huh IS nie net sy beste nie, dis sy ENIGSTE!)

Vanoggend kom klim sy half ses by my in die bed, sommer al klaar huilerig, want Pappa is heel week nie hier nie:
Zellie:  "Mamma, ek is vreeslik baie lief vir jou, maar ek wil nou net my Pappa hê..."

Wihan is blykbaar klaar met die kot.  As jy die oggend in die kamer kom en jou kind se bene steek uit waar hy die kot se hele naat oopgeskop het, is dit tyd vir die groot bed!
 

Wednesday, 12 October 2011

Hy Lewe!!!!!

Vanoggend het 'n dooie ladybird redelike drama in ons ou huisie veroorsaak! 
Zellie:  "Mamma, kyk dis 'n ladybird, (pruilmondjie) ag jitte...Ek gaan hom skool toe vat, want Axxxxx is verskriklik lief vir ladybirds."
Mamma:  "My Skapie, dis 'n dooie ladybird.  Mamma dink nie Axxxx is so baie lief vir dooie ladybirds nie.  Gooi hom buite."
Zellie:  "Nee, toemaar Mamma, hy sal opstaan.  Liewe Jesus sal laat hy opstaan."
Mamma:  "My Engel, ek dink nie Liewe Jesus laat lady birds opstaan nie."

Eventually is hy saam skool toe.  Terwyl ons ry:
Zellie:  "Mamma, kyk!  Hy loop oor my handjie, hy het opgestaan!"
Mamma:  (Nadat ek sien hy's wragtig lewendig!)  "Ek sien my skapie.  Moet hom nou nie doodmaak nie, ne.  Saggies vat."  (Weet nie lekker wat om te sê oor die ladybird wat opgestaan het nie!)
Zellie:  (Sing uit volle bors!)  "Hy lewe, gemaak om met vlerkies te swewe!" 

By die skool het sy op 'n stoel parkeer by die ingang en vir almal wat verby kom die ladybird gewys.  Sy't nie eers saamgestap na boetie se klas toe nie, vir die eerste keer ooit.  Toe ek by die skool weg is het sy die ladybird aan Mxxxxx oorhandig.  Axxxxx het hom toe nooit eers gesien nie.  Ek wonder of die opgestaande nog lewe....  Ek twyfel......

Monday, 10 October 2011

Moms to boys work from son up till son down...

Ek het nooit geweet hoe waar hierdie sêding is voordat daardie klein Potter-otter-mannetjie oor my pad gekom het nie!  Hy is besig...  Hy is ongelooflik verskriklik baie bedrywig en besig en aan die gang en stout...  ja my 16 maande oue seuntjie is S-T-O-U-T - en hy weet dit...

As ek kos maak, moet hy saam kos maak...  met regte kos... in regte potte!  My aartappels is sy speelgoed - vir sy kospotte, vir ronddra in lepels, vir voer vir die hond.  Ek tel aartappels op plekke op waar geen aartappel ooit behoort te wees nie!  Hy gooi hulle, rol hulle, kou hulle, sit hulle in my laaie, in die skottelgoedwasser, in die tuimeldroër...  As ek kos maak is hy hier om my voete en hy roer die aartappels met 'n lepel dat jy net sien stukke spat.  Elke kort-kort moet ek hom eers optel dat hy kan sien waarmee ek besig is, dan is dit huh-huh en dan gaat ons weer aan met ons potte.  Hy pak nie een of twee potte uit nie.  Hy pak elke liewe pot in die kas uit - tot die groot swaar ysterpot en die stoompot moet saamspeel.  As ek hulle teruggepak het is dit net 'n uitnodiging om van voor af te speel.

Hulle het hierdie naweek water ontdek.  Twee skottels en hulle speeltafel vol water met koppies en lepels en swemklere.  Wat kan nou lekkerder wees.  En as mannetjie dan nog tussenin kan tuin nat maak is dit eers wonderlik.  Hy doen nogal nie 'n slegte job nie.  Staan so ewe doodstil dat die boom eers nat word en beweeg dan na die volgende een toe.

As hulle tweetjies stil raak kan jy maar weet hulle jaag nonsens aan.  Gister het hy sy kamer met vicks gesmeer.  Orals.  Die matras, kot, muur, mat, homself, sy hemp, die beer.  Die hele huis ruik vanoggend nog na vicks.  En sussie reken sy het "per ongeluk die houertjie vir hom oopgemaak"  en "ons moet 'n huisie kry waar daar niks is waarmee boetie kan stout wees nie sodat sy nie heeltyd raas kry nie."  Ek raas met sussie toe ek op die vicks afkom, maar Wihan hardloop reguit na sy kot toe, deur die deurtjie en gaan lê op sy kussing.  Hy het nog heeltyd hier gelê.  Die pretspul was natuurlik nadat hulle twee hele rolle toiletpapier afgerol het!

Gisteraand het hy so sesuur se kant op my skoot kom lê en heeltemal buite normale roetine 'n slapie gevat.  Kom ons sê maar net hy was 10uur nog wakker.  Dan gaan hy kamer toe om 'n beer te gaan haal, dan kom val hy met sy kombers langs my neer om te slaap, lê vir tien sekondes, spring op om 'n ander beer te gaan haal, val neer om te probeer slaap.  Hy het op die mat probeer slaap en op die vloer probeer slaap en op sy pa probeer slaap, maar sy ogies wil net nie toe gaan nie.  Op 'n stadium toe ons vir sussie in die bed gaan sit, kom hy uit sy kot uit gekruip met die pan wat hy netnou daar gaan bêre het.  Hy het tot met die pan probeer slaap!!

Ag en die drukkies...  hy het geleer as hy op jou afstorm met oop armpies en jou 'n stywe drukkie gee is alles vergewe.  Mamma kry gewoonlik 'n stywe om die lyf drukkie met koppie teen my maag gedruk wanneer ek hom op ons bed aantrek.  Pappie kry 'n drukkie met twee vingertjies in sy pens en sussie kry 'n druk met die skouer as hy haar uit die pad uit stamp om by Mamma uit te kom!

My tweetjies raak nou lief vir mekaar.  Sy kan nie wag dat hy opstaan sodat sy sy kot se deurtjie kan oopzip vir hom om te ontsnap nie.  AS sy in die gang af is is hy vinnig agterna.  Hulle hou handjies vas en gesels en speel en as hy tog net iets disgusting kan doen sodat sussie lag, lag hy uit sy magie uit!  Dit is mooi om te sien hoe hulle verhouding ontwikkel.  "Mamma, ek is baie lief vir my boetie.  Kyk net sy cutiful ogies!"

Wednesday, 28 September 2011

Waar leer hulle dit.......

Is 'n mens veronderstel om onmiddelik op die verdediging te gaan wanneer jou kind iets doen wat baie onaanvaarbaar is in alle sosiale, higiëniese en aanvaarbare reëls van 'n beskaafde samelewing en dit word gevolg deur die vraag:  "Waar leer hulle dit?"  (Met die nodige skokkende gesigsuitdrukking en stemtoon!)

Die eerlike waarheid is, ek het absoluut, hoegenaamd GEEN idee nie!

Wihan het die laaste paar weke aanhoudend 'n baie nat hoes (tande) wat verskeie kere in 'n dag eindig in 'n slymerige gemors op sy bed, my bed, die mat, die karstoeltjie, die kombuisvloer, die badkamerwasbak as ek betyds is....   Nou het mannetjie besluit dat hy elke keer as hy hoes, kug of keel skoonmaak moet spoeg - op sy bed, my bed, die mat, die karstoeltjie, die kombuisvloer, die badkamerwasbak.....  Oulike prentjie, boetie waggel in die gang af, kug, stop doodstil, buk vooroor en ghop op die vloer....  En die onafwendbare vraag - "Waar leer hy dit?"  Sjoe, ek weet nie, hy sien seker hoe Mamma en Pappa orals loop en ghop - hoe dan nou anders?!!

Gisteraand is sussie besig om haar tee te drink en Wihan is (natuurlik) besig om die beker uit haar hand uit te probeer slaan met die stofsuier se pyp. 
Zellie:  "Mamma, vat vir boetie weg, hy pla my."
Mamma:  "Wihan, los vir sussie, kom eet jou tjippies.:
Sussie:  "Ja, vat hom weg, ek wil hom nie hê nie."
Mamma:  (Probeer die subbe oorlog verhoed en liefde saai!)  "Is dit nie lekker om met boetie te speel nie?"
Sussie:  "Nee, hy is jou kind.  Ek hou nie van hom nie.  Jy wou hom hê."
En weereens die reaksie van alle oorde!!  "Waar hoor sy dit?"  Gros, ek weet nie!!  Seker by my toe ek gisteraand vir Francois gevra het om hom te vat!  Ek weet nie waar hoor sy 90% van die dinge wat sy kwytraak nie.  Ek pleit onskuldig! 

Op 'n positiewe noot gaan dit beter met Wihan se bors.  Sussie hoes haar longe uit en more aand is konsert!  Hoop nie die dansery laat haar hoes nie!  Hulle twee speel al hoe lekkerder.  As sy 'n koekie het moet "my boetie" of "Wiwi" ook een kry.  Hulle speel op die "slide"  (Klein slide in die huis!).  Sy klim voor en boetie agter.  As sy bo sit gryp sy boetie agter haar rug vas en trek hom op sy maag af!  Hy love dit!

Hy raak nou baie oulik.  Klim self op en draai in sittende posisie, bly regop as hy afgaan.  Regtig te oulik en ons klap hande en hy is te trots.  Besluit natuurlik om dit 'n stappie verder te vat en nou staan hy bo op die slide en dans en klap hande!  Die helletjie weet hy mag nie.  As ek opstaan gaan sit hy vinnig en gly af.  Hy weier ook om op te klim as ek daar staan.  Dan hardloop hy weg en kruip agter die bank weg.  As hy sien ek gee pad kom hy uit met hierdie moewiese stoute grynslag op sy bakkies en begin klim!  Staan Mamma op klim hy net daar af en hol weer weg.  Staan Mamma nie op nie staan hy op die bopunt van die slide en dans!!  Ek weet spring is volgende.  Dis hoe hy operate!  En nee, weereens nie iets wat hy by my, Pappa of sy doodrustige sussie gesien het nie!!

Gisteraand nadat ek 'n storie oor feetjies moes uitdink, bybel lees en 'n bybel liedjie sing, bid sussie vir ons:
Liewe Jesus, dankie dat jy vir my 'n Mamma gemaak het en 'n Pappa gemaak het en 'n Boetie gemaak het en 'n Sussie gaan maak.  (Nice try, Mamma het gelukkig 'n verskriklike dik vel!)  Dankie vir my huis en twee badkamers en twee toilette.  (Dink julle die huis soek ding beinvloed my kind se sin van waardes!)  :-) 

Wednesday, 21 September 2011

Leeus, spoke en Bloubolleweeste.....

Ons het die naweek die kinders Magaliesberge toe gevat.  Wat 'n fees.  Ons almal het dit ongelooflik baie geniet.  Ons het op 'n plaas gebly in die oulikste huisies.  Lekker ruim met groot groen grasperke en 'n swart labrator (Mokke) wat mal was oor die kinders (en hulle oor hom!)

Wihan se senuwees was die grootste deel van die naweek aan flarde.  Eers bespring die kat hom by Goblin's cove, toe is hy doodbang vir die groot standbeeld van die tande, toe is dit al die nou gangetjies en geverfde goedjies in die restaurant....  Shame.  Speel so bietjie met die sand, draai om en skreeu.  Huil klaar.  Speel so bietjie in die sand, draai om en skreeu.....  Saterdag by Maropeng is ons eers deur die tonnel van evolusie met die bootjie.  Hierdie keer was Zellie histeries.  Wihan het net baie styf vasgehou aan my arms.  In die museum self klim hy ewe dapper die trappos op boontoe, klim is mos sy middelnaam, en kyk vas in 'n skedel met 'n groot grynslag op sy gesig.... slat amper gat oorkop en gil soos 'n dogtertjie!!!  Nog 'n paar grys hare by.  Dit is verskriklik oulik daar.  Vrek duur, maar regtig goed in stand gehou.  Sal graag die kinders weer wil vat as hulle ouer is en kan verstaan waaroor dit gaan.  Daar is tot skedels en allerhande bene en goeters in die sandput begrawe wat die kinders kan uitgrou.  Regtig baie oulik.

Wihan het Sterkfontein grotte misgeslaap.  Hopeloos te vaak vir die avontuur ook nog.  Francois is af met Sussie.  Sy reken my:  "Ek was nie eers bang nie, want die oom praat so "Englipsh" en dan verstaan ek nie eers as hy van die spoke vertel nie!"  Klink dit nou nie baie na 'n woord waarop haar oupa Japie vreeslik trots sal wees nie!!

Sondag is ons Lion and Rhino park toe.  Baie diere naby aan die pad - regtig oulik vir die kinders.  Jy sien heeltyd iets en hulle raak nie gefrustreerd nie.  Daar is 'n groot verskeidenheid diere - elande, blouwildebeeste, swartwitpense, springbokke, gemsbokke, baster gemsbokke, tsessebes, leeus, luiperds, jagluiperds, wit leeus, wilde honde, volstruise....  Kort-kort is daar iets om na te kyk (in Wihan se geval om na te ha ha...  met gepaste gepunte vingertjie natuurlik.)  O,ja en sussie het die meeste gehou van die Blou bolleweeste! 

In die creche waar die kinders met die baba diertjies kan speel het alles besluit Wihan is net die regte bite-size vir 'n maaltyd.  Die leeuwelpies (2 maande oud), tierwelpies (4 maande oud) en die Maribu stork het gegaan vir hom.  Die voël was die ergste, reguit vir sy oë gegaan.  Gelukkig was ek naby aan hom.  Ek het nie gedink hulle sal sommer 'n kind aanval nie.  Die gidse sê dit maak nie saak hoe mak hulle is nie, enigiets kleiner as hulle self is prooi.  Gisteraand kyk ons National Geographic...  Wihan lag vir al die diere en wys vingertjie en ha-ha en as daar 'n leeu opkom gee hy een gil en begin huil!  Hy is nog nie reg vir diepste donker Afrika nie, ne!!

Op pad terug Maandag het ons nog vir ou laas kerse gemaak by Blauwbank general stores.  Regtig nice en spotgoedkoop.  Sal enige tyd weer soontoe gaan.  Ek sal heeldag daar staan en kerse dip.  Tot Pappa het enetjie gemaak! 

Zellie was omtrent in trane toe ons moes ry.  Wou net vir Mokke saam bring huis toe, want sy het nie eers so 'n groot hond nie...

Ek moet foto's by sit...  sal dit doen sodra ek afgelaai het.

Monday, 12 September 2011

Tien jaar later

Ons kyk gisteraand na 'n dokumentêr oor 11 September 2001.  Dis mos engels en sussie sal nie verstaan wat gebeur nie.  Verkeerd....  Na so 'n rukkie val sy weg met "as ek die vliegtuig so sien kom, dan sê ek vir my mamma en dan sê ek vir my pappa en dan sal ons baie vinnig hardloop voor dit brand en voor die rook kom en dan is ons ver weg en dan sal ons nie eers so seer kry as die slegte mense kom en hulle skiet die gebou en dit brand so en en en en en ..... "  Nou-ja, toe kyk ons die res van die aand Tom en Jerry en slaap gisteraand met die gordyne oop!  Sy is baie bang, maar sal nie meer bang wees as ek die gordyne oop maak nie.  (Kon nie gisteraand verstaan hoekom nie, maar dink vanoggend dat sy waarskynlik dink dat sy dan die vliegtuig sal sien aan kom...  :-(  ) 

Mens kan darem maar nie hulle vermoë om te verstaan en in te neem onderskat nie. Dit is nogsteeds 'n gebeurtenis wat te groot en te tragies is om te verwerk of op te som.  Elke keer as jy 'n program daaroor kyk is daar nuwe feite wat jou skok.  Beeldmateriaal van iemand wat in die Pentagon gebrand het, die weermagoffisier wat praat van die soldaat met altwee oë uit wat hy uit die puin gered het, die man wat van bo die verdieping van impak kon vlug met 'n erg beseerde vrou terwyl meer as 200 mense by hom verby is op pad boontoe waar die helikopters hulle sou kom red... :-(

En tien jaar later gaan my kind wat toe nog nie eers gebore is nie angsbevange bed toe omdat ook sy nie kan verstaan hoe 'n mens so sleg kan wees nie...

Ek en Francois praat gisteraand so oor die mense wat daar was met kinders en Zellie wat so aanhou dat ons haar sou beskerm het as sy daar was.  Hoe verskriklik moet dit nie wees om in so 'n tipe situasie te wees en jou kind nie te kan beskerm nie.  Wat doen jy in daai vliegtuig met jou kind as jy weet hy gaan neerstort.  Terwyl almal huil en hy/sy doodbang aan jou vasklou vir beskerming.  Soos hy maar gewoond is om te doen as die weer swaar is of die hond hom wil byt of hy 'n nagmerrie gehad het...  Wat doen jy in situasie waar jou kind angsbevange is en jy weet hierdie keer het jy nie die antwoord of die vermoë om dit beter te maak nie.  Bring trane in my oë en 'n knop in my keel wat ek nie weggesluk kry nie. Kan net bid:  "Here, asb moet my nooit magteloos maak as dit by my kinders kom nie..."  Ek dink nie 'n mens verstaan dat jy vir iemand liewer as jouself kan wees totdat jy kinders het nie...

Friday, 9 September 2011

Tot hare sny is drama!

Hierdie laaste week is verskriklik met altwee kinders!  Wihan is siek - alweer.  Wihan is op antibiotika - alweer.  Wihan huil oor alles - alweer.

Franzél tjop af omdat hy al die aandag kry en dan begin sy ongelooflik emosioneel raak en H U I L  O O R  A L L E S....  En ek meen ALLES!  Gistermiddag by die skool gehuil omdat ek haar kom haal en nie Pappa nie.  By die dokter gehuil omdat boetie dokter toe gaan en nie sy nie.  By die huis gehuil omdat Pappa die hond geslaan het.  Gehuil omdat die hond haar 'gebyt' het.  Gehuil omdat sy nog nie kos gekry het nie.  Gehuil omdat ek gesê het sy moet haar kos eet.  Gehuil omdat sy raas gekry het omdat sy nie haar kos geëet het nie.  Gehuil omdat boetie aan haar gesig gevat het (hy't my geslaan, Mamma whaaaaaaaaa!)  En ek meen hartverskeurend, snot-en-trane, ugly cry huil.  Die gesiggie trek so, dit lyk of sy van rubber gemaak is.  Ek moet nog 'n foto neem!  Dan probeer ek haar kry om te lag en dan huil sy eers.  En dan lag sy bietjie en dan huil sy nog harder!  Ek was naderhand lus en begin loop en draai nooit ooit weer om nie!

Vanoggend probeer ek nou regtig my bes om nie die kraantjie oop te draai nie.  As sy eers begin het is daar nie einde nie!  Besig om haar hare te vleg het ons die volgende gesprek:
Franzél:  "Eiiiinnnnnaaaaaa,  jy maak my seer, kyk hoe loop my trane nou."
Mamma:  (Dink, net nie trane nie, net nie trane nie, net nie die flippin trane nie.)  Sê:  "Toemaar my skapie.  More gaan ons jou haartjies sny en die tannies gaan dit was en droog blaas en dan gaan dit baie makliker kam." 
Franzél:  "En hulle gaan dit kleur ook."
Mamma:  "Nee, net Mammas kleur hare."
Franzél:  "Whaaaaaaa....... maar ek hou van Pienk hare.  Ek wil so bitter graag pienk hare hê!!!!!  Hoekom mag ek nie eers pienk hare hê nie??!!!"
Mamma:  "Het jy al ooit 'n dogtertjie gesien met pienk hare"
Franzél:  "Nee.  Hoekom mag ek nie die eerste ou enetjie wees nie!!!!????  Whaaaa....."

Grrrrrrrrrrrrrrrrrr.   En toe kry sy koud en toe is daar nie 'n pleister vir haar eina nie en toe vat Wihan haar snoepiegeld en toe is ons in trane skool toe en toe hardloop sy vir die derde keer hierdie week agter my aan toe ek by die klas se deur uit stap...  (Ja, in TRANE!)

Hulle sê jou dogtertjie op 5 is jou dogter op 16.  Dit behoort heel goed uit te werk.  Sy gaan te besig wees om te huil om haar te steur aan seuns, dwelms, drank ......... 

Ek moet net hierdie naweek tyd maak vir iets spesiaals saam met haar doen.  Dit is nie normaal nie.  Kan nie wees nie!