Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Monday, 26 March 2012

Dit is dis-gus-ting!

Ry nounet op pad van die skool af by 'n huis verby waar 'n hoender buite rondloop.

Zellie:  ''Ag Mamma, kyk die hoendertjie!''
Mamma:  ''Ag jitte.  Kom ons vang hom dan eet ons hom.''
Zellie:  ''Nee!  Ek sal al sy kieme kry!!''
Mamma:  ''Maar jy eet dan altyd hoender.''
Zellie:  ''Is nie!  Waar?''
Mamma:  ''Jy hou van hoender balletjies.''
Zellie:  ''O, ja.  Sulke hoender hou ek van.''
Mamma:  ''Nou kom ons vang hom dan maak ons hoender balletjies van hom?''
Zellie:  ''Mamma!  Dit is dis-gus-ting om hoendertjies wat rondloop en koekelekoe maak te vang en te eet!  Jy MAG dit NIE doen NIE!!''
Mamma:  ''Hou jy van skaaptjops?''
Zellie:  ''Ek gaan bitter kwaad wees as Pappa 'n skapie vang en tjops van hom maak!''

Hoe sê hulle... Ignorance is bliss!!

En nog 'n paar foto's net omdat ek kan!!


''Dis okay Mamma.  Ek gaan net vier slapies by Oupa en Ouma kuier!  Moenie te veel verlang en huil nie!''


Dis hoe Boeta vir Sussie boelie! Hy trek haar onderstebo en dan keer hy dat sy weer regop kom!


 

Sien ek kan smile vir foto's.  MAar net vir my Ma!


Die woorde wat jy die meeste hoor as jy twee kinders het is ''En nou my beurt!''

Friday, 23 March 2012

Dis lekker by die see

Aan die begin was Boeta maar bietjie vreemd in die nuwe huis en moes heeltyd by my wees!  Dit is al manier hoe ek kon skottelgoed was...

Sussa het vir Boeta leer smile...  wed julle kon dit nie sien nie!!

Aan die begin was ons maar skrikkerig vir die see en het eerder op die strand gesit en eet.

Sussa het die see, sand en water te veel geniet, selfs nadat sy met 'n bloublasie kennis gemaak het.

Na so dag of twee het Boeta begin mak raak en ondersoek instel na die nuwe omgewing.

Sussa het geswem soos 'n vis.

Uitsig uit ons woonstel uit.  Daardie strand daar onder is privaat en lieflik in die laat middag en aande.  Mense loop na donker nog daar rond en dis baie veilig.  Lieflik.

Dit is 'n jissie maar hierdie vis is lekker gesig.

Dit is hoe ek lyk nadat ek sussa se kos met die hamer geslaan het.

En dis hoe sussa lyk nadat ek haark os met die hamer geslaan het...

Die maan oor die see vanaf ons stoepie.

Sonsopkoms... met kinders sien jy nogal die son op kom!

Hier het ons eers ons eie klein poeletjie gegrou vir boeta om in te swem.  Hy was te bang vir die golwe.



Toe ontdek ons daar is rotse om te klim.  Almal was verbaas oor hoe goed hy klim en klouter vir sy ouderdom.

Hierdie see ding maak 'n mens dood moeg.

Maatjies en Ushaka.

Boeta grou self sy gat bietjie dieper.

Net na hierdie foto het 'n golf oom WJ omgeslaan en hy moes so keer vir die kinders dat hy self op 'n rots beland het.

Dis mos nou ingerig of hoe! Wat meer wil mens he.

Bye-bye see.  Sien jou volgende jaar weer!

Boeta se eerste kampnaweek!!

 Die karavaan was vir die Bothas die coolste ding wat hulle nog gesien het!  En geen poging is aangewend om dit weg te steek nie.

As mens na die alternatief en waaraan hulle gewoond is kyk, is dit geen wonder nie...


Party van ons het bietjie explore...

Daar is kos gemaak...

Party van ons het geëet...

Terwyl ander van ons gemaak het of hulle eet...

Daar is bietjie gerus en ontspan...


En daar is BAIE in die stof gespeel!!

Klink perfek, ne!

Kersfees

Sussie het gedink Kersvader is die beste ding wat nog ooit met haar gebeur het.

Boetie het gedink dit is die ergste ding wat nog ooit met hom gebeur het!!

Maar die geskenke was cool.  Ek sal dit hou, dankie!

Foto Tsunami

Terwyl ek nou die see foto's aflaai ontdek ek dat ek nog nooit foto's van ons kampnaweek en sussie se verjaarsdagpartytjie gelaai het nie.  Maak reg vir 'n oordosis foto's!!

En ek is terug.... uiteindelik!

Die laaste maand of wat was lekker besig, lekker deurmekaar en lekker lekker!  Ons is pas terug van verlof af en het 'n heerlike twee weke by die see gehad.  Ek sal die foto's oor die naweek aflaai en opsit, vir nou net 'n vinnige update.

Sussie het deesdae 'n verskriklike fassinasie met twee dinge:  Vreemdelinge en die dood.

Dit het vanselfsprekend nou al gely tot enkele komiese, verskeie histeriese en ontelbare skaamkry oomblikke.  (Ek besef skielik dat ek nie kan spel nie... te lank op die strand gesit met my tone in die sand...)

By die see het sy ons ewe trots meegedeel dat vreemdelinge mense is met swart klere en hoede en dat mens moet skreeu en hardloop as hulle naby kom.  Nou ja, daar is 'n hele paar tekortkominge in hierdie definisie so ons het ons ouerlike plig gedoen en die prentjie bietjie begin inkleur:

Mamma:  Vreemdelinge is enige mens wat jy nie ken nie.  Hy gaan net soos die mense lyk wat jy ken, maar jy gaan nie sy naam ken nie.
Zellie:  Mense met kinders is nie vreemdelinge nie.
Mamma:  Ja, mense met kinders is vreemdelinge as jy nie hulle name ken nie.
Zellie:  Nou maar hoekom gee Liewe Jesus dan vir vreemdelinge kinders?

Die hekwag was vanselfsprekend 'n vreemdeling en is die res van die vakansie gegroet met ''Hello vreemdeling''.  Ons het een lekker gevalletjie gehad waar sy in die Spar vir 'n oom weggehardloop het terwyl sy kliphard gil ''Help, vreemdeling!!!''

As Francois met haar raas oor iets sê sy vir hom:  ''Ek gaan in die winkel vir jou weghardloop en hard skreeu Vreemdeling dat die polisie jou kom vang.''

Die laaste tyd het sy my begin uitvra oor hoekom ek nie ook 'n Oupa het soos Pappa nie.  Ek het verduidelik dat altwee my Oupas en my een Ouma en een van Pappa se Oupas en een van sy Oumas oorlede is.  Natuurlik wou sy weet hoekom en ek het gesê hulle het oud geword.  FOUT!!!

Ons gaan na Ouma Grietjie toe Maandag en Franzél sien haar geleentheid.  Sy gaan staan styf teen Ouma se been en kyk so ewe versigtig rond voor sy vra:  ''Ouma Grietjie.  Jy is al baie oud, ne.  En as mens oud word, gaan jy dood.''  Ek het nie geweet waar om my kop in te steek nie.  In die eerste plek verstaan sy nie dat die dood permanent is nie.  Sy dink jy word weer gesond.  In die tweede plek verstaan sy nie dat enige iemand kan doodgaan nie, want ek wil nie onnodige vrese in haar koppie sit nie.

Op pad huis toe preek ek maar oor hoedat ons nie weet wanneer ons gaan doodgaan nie en dat net Liewe Jesus besluit om ons te kom haal. En dan gaan ons na Hom toe en dit is 'n baie lekker plek om te wees.

Gister gaan haal ek haar by die skool en die eerste sinnetjie is:
Zellie:  Mamma, kyk hier by my been het ek al begin oud word.
Mamma:  Nee, man.  Jy is nog sommer 'n baba!
Zellie:  Nee man, kyk hier is ek al bietjie oud.  (Dit is 'n geboortemerk waarna sy wys!)
Zellie:  Yes, ek kan nie wag om oud te word nie, want dan sien ek vir Liewe Jesus!!!!!  (Die stemmetjie is doodopgewonde asof sy op pad is Wimpy toe!)
Mamma:  Ja, dis lekker by Liewe Jesus.  Dit is hoekom ons van Hom moet leer en na Sy Woord luister sodat ons eendag by Hom kan wees.
Zellie:  Maar Mamma hoe lyk Liewe Jesus?
Mamma:  Niemand weet hoe Hy lyk nie, my skat.
Zellie:  Maar Mamma, dan is Hy mos eintlik 'n vreemdeling???!!!

Ek gee op.  Ek gaan so waar as wat ek op hierdie stoel agter hierdie rekenaar sit nie daardie kind leer van enige bytjie of blommetjie nie!! 

Boeta raak nou te flippin opvreetbaar oulik.  Hy begin uiteindelik regtig herhaal wat jy vir hom sê en die woordjies kom nou vinniger by as wat ek hulle kan neerskryf.  Hy is nog totaal stom voor vreemde mense en weier om met enige iemand by die skool te praat.  As ons in die aand bad hou hy sy beentjies in die lig en sê ''was voete''.  Alles is ''uitklim.''  As hy wil hê ek moet hom optel of as hy uit die karstoel wil kom of as hy nie 'n baadjie wil aan hê nie is ''uitklim'' die woord om te sê.  Hy sê ''sussie'' nou heeltemal duidelik en roep haar as hy haar nie kan sien nie.  Hy sê ''einaaaaa'' so laaaaank uitgerek.  Hy steek my met die vurk en dan sê hy ''einaaaa!!''  As hy en sy Pappa gesels is dit heeltyd ''Pappa baba, Pappa baba.''

Hy stel baie belang in die potjie en wys vir jou om sy broek uit te trek en gaan sit op die potjie, maar hy verstaan nie heeltemal wat hy moet doen nie.  Gisteroggend het hy opgestaan, gesê klaar en op my vloer gebollie!!!  Ieeeuw!  As hy wil piepie wys hy vir jou jy moet sy doek uittrek, trek sy mondjie so rond en sê sy weergawe van ''ieeuw''.  As hy gebollie het lyk dit behoorlik of hy gaan siek wees soos hy die gesiggie en mondjie trek!

Belowe ek sal foto's laai sodra ek rustig raak.  Vandag moet ek eers bietjie werk doen!!

Saturday, 11 February 2012

Sussie se 5de Verjaarsdag!

Sy het 'n fiets vir haar verjaarsdag gekry en as dit lyk of sy nie baie gelukkig was nie, sy was nie!  Die fiets is glo te groot.  Sy het in die laaste week eers begin om op hom te ry buite die huis.  Was net dood bang.

Die skool het cupcakes gekry en party packs.

Oupa Japie en Ouma Santie se Wollekophondjie was die hoogtepunt van die partytjie.

Die verjaarsdagkoek nadat ek al pogings aangewend het om hom te red.  Ek gaan die foto van wat ek wou gehad het nie eers hierby sit nie.  Kom ons sê maar net van nou af bak ek self.  Ek sal vir seker 'n beter job doen.

Die tafels en eetgoed nadat die kiddies al so bietjie daar deur is.

Besig om te eet.

Boeta se partytjie het eers begin nadat die wettige gaste die toneel verlaat het!


Die meeste van die verjaarsdag-gaste by mekaar.  Hier kort 4 maatjies.

So 'n partytjie maak 'n mens moeg man!

En die Sondag wou hulle altwee met alle mag saam met Oupa en Ouma huis toe gaan.  Weet nie of die trekpleister vir sussie op haar skoot sit en of sy op die se skoot sit nie!

Wednesday, 8 February 2012

Vyf jaar oud!!!

Ek het nou die laaste foto's bygesit!!

My Prinses, Pikkewyn, Poekeloetjie, Poepies, Bekkie, Blommie, Prinses Fiefie is more 5 jaar oud.  Kan ek maar die holrug-geryde "waar is die tyd heen" opmerking hier plaas.  Ek kan nie aan iets beter dink om te sê nie en kan nie eers begin probeer om die knop in my keel en die pyn in my hart te verduidelik nie.

Hier is jy 10 weke oud en net mooi niks lus vir enige vorm van stimulasie nie!  Jy wou net vasgehou en liefgehê word en hier sit Mamma jou sommer net neer met 'n plastiek speelding as geselskap!

Jy was 'n regte Pappa se dogtertjie.  Hier is jy omtrent 6 maande oud.

Hier is jy omtrent 7/8 maande oud en 'n lekker ou pokkeltjie.


Pappa se 30ste verjaarsdag.  Jy is 19 maande oud.


Jou eerste Kersfees.  Omtrent 20 maande oud.


Hier is jy en die getroue Otto op jou eerste verjaarsdag.  Op hierdie foto lyk jy ook vir my verskriklik baie na Wihan.  Net bietjie ronder wangetjies!


Hier het jy net so paar dae geloop.  Omtrent drie weke na jou eerste verjaarsdag.


Jou tweede verjaarsdag.  Ek onthou die dag.  Ek onthou wat jy aangehad het, hoe dit gevoel het om jou aan te trek, hoe ek moes sukkel om die kroon van jou kop af te kry...


Ek onthou hoe opgewonde ons was toe ons die aand voor die tyd jou huisie opgeslaan het en jou gesig toe jy hom die eerste keer gesien het.


Hierdie foto is 'n maand na jou derde verjaarsdag geneem op tannie Madelein se troue.


Hier is jy omtrent 3 en 'n half.  So omtrent twee maande nadat boetie gebore is op pad na jou skoolkonsert toe.


Op 3 en 'n half net na boetie se geboorte.


Net na jou vierde verjaarsdag- lekker laf!  Mamma kyk hoe dans ek.


Op 4 en 'n half by Goblin's Cove.  Lekker roomys!


Desember met jou danseksamen. 


Kersfees - lekker!  En kyk die fyn gesiggie, die knopkennetjie en die dimpels.  Kan nie glo my baba is 'n meisiekind nie!


Die naweek wat nou verby is.  Amper vyf jaar oud en dis wat ons kry as ons vir 'n smile vra.

 
Ek wens vir jou net die beste, want jy is wonderlik en onskuldig en jy verdien niks minder nie.  Jy is my slimkop-babbelbekkie-malkop-prinsessie wat nog gister middag in jou onderklere deur die sproeier gehardloop het (VOOR in die erf!), jy geniet dit om modderkoekies te bak, laf te wees en lag uit jou maag uit vir jou Boetie as hy laf is.  Ek hoop dat ek nie eendag sal terugkyk op dit wat jy nou is en wens ek het jou meer geniet en meer saam met jou kind gewees nie.  Ek onderneem om elke treë van jou kindwees saam met jou te geniet en hoop dat dit so lank as moontlik sal hou!  Lief vir jou.