"Ek gaan vir my pienk Mamma vra om strikkies aan al my panties te sit, want dan weet ek ook hoe om dit aan te trek..." Sal die bestelling insit by die pienk Mamma. Ons weet mos nou wie dit is!!
Hierdie huis-soek-en-dalk-trekkery werk behoorlik met haar ou koppie. Laas week praat ons in die kar oor die droomhuis en die nagmerrie-prys. Besluit toe ons sal eerder nou bietjie meer betaal vir wat ons regtig wil hê as wat ons oor 'n paar jaar weer kostes moet aangaan om te trek. Al moet ons dan nou 'n rukkie sonder vleis bly. (Ons almal sê dit, né!)
Fast forward na Maandag. Ek gaan Spar toe met die kids en koop brood en melk. Op pad terug huis toe besef Zellie skielik ons het nie vleis gekoop nie en sy FLIP. "Mamma, ek wil vleisies hê. Ek is honger vir vleisies." Ek moes omtrent verduidelik dat daar vleis by die huis is. Die feit dat sy nooit ooit ooit ooit ooit vleis eet nie het glad nie by haar opgekom nie. Uiteindelik sit sy so terug teen die sitplek en sê: "Ek dink ons moet maar die trap-huisie koop en dan bid ons maar vir die Heretjie tot ons weer vleisies kan koop..."
Gisteraand in die bad begin sy uitvra oor wat dan nou eintlik van ons huis gaan word as ons in 'n ander huis gaan bly? Ek verduidelik dat ons nou naby Jaco en Michelle gaan bly en dat sy dalk na 'n nuwe skooltjie toe gaan. "Gaan Jaco en Michelle in ons huisie kom bly?" "Of ons kan by die damhuisie ook gaan bly? Ghaaaa??" (Het julle nou nog nie eers daaraan gedink nie! Dis mos ook 'n opsie!) Die damhuisie is die woonstel in Margate waar ons op verlof was in Mei-maand!!
Ek sê net weereens... kyk wat jy voor die kinders sê...