Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Tuesday, 25 September 2012

Ons was berge toe...

Sussie glo nogsteeds vas ons het berge toe getrek.  As mens kyk na die hoeveelheid bagasie wat ons in die kar gelaai het, het ons amper - darem net vir die naweek.  Gister op pad terug het sy met elke kar wat verby kom en vol gelaai is gesê "kyk daardie mense het ook berge toe getrek!"

Die kinders het dit baie geniet.  Baie plek vir rondhardloop, parkie sommer naby die tent, maatjies en 'n lekker geplaveide paadjie waar hulle kon fietsies ry.  Ja, daardie irriterende fietsies wat ons so gehaat het!  Maar darem net vir 'n paar minute op 'n slag en nie al om dieselfde ou oom se tent nie!  Ons het lekker in die warm water swembad geswem - tot Boeta het dit gate uit geniet.  Hy het my tot toegelaat om hom net onder sy magie vas te hou terwyl hy met sy arms en beentjies skop.  Dit is 'n baie groot stap vir my mannetjie wat verlede seisoen nog verwoed aan my vasgeklou het.  Miskien kan ons hom tog volgende jaar inskryf vir swemlesse.  Sussa kom al baie mooi reg en swem die swembad deur met haar eerste probeerslag.  Daarna is sy moeg en spartel sy behoorlik om net kop bo water te hou.  Belangrikste is dat sy nie soos 'n klip sink wanneer sy onder die water gaan nie. 

Natuurlik bring 'n naweek met gedeelde ablusie-geriewe en my bekkige meisiekind altyd ietsie om oor te lag vir lank na die tyd.  Saterdag is sy in die badkamer besig en ek sit buite op die bankie en wag vir haar om klaar te maak.
Sy hoor 'n deur toe gaan en vra:  "Mamma, gaan jy ook piepie?"
Mamma:  "Nee, ek sit hier buite en wag vir jou."
Sussa:  "Mamma, is dit 'n ander tannie wat piepie?"
Mamma:  "Ja Sussa, maak nou klaar."
Sussa:  "Mamma, hoekom piepie die Tannie so lank?"
Mamma:  "......Zellie.  Shht en maak klaar."
Sussa:  "Tannie, my Mamma sê as mens so vreeslik lank wag om te piepie kry mens goggas in jou blasie!"
Toe gaan Mamma maar saam met haar in die hokkie in en wag tot die tannie loop voor ons uit kom!!!

 
Elke keer as Boeta agterkom Sussa is parkie toe sonder hom was daar drama.  Dan hardloop hy agter haar aan!  

 
Daar is onder die bome gepotjie train en teen die bome ook so paar keer.  Nie een glipsie vir die hele naweek nie.  En dit terwyl ons besig was en op 'n vreemde plek.  Ma se groot man!
 
 
Dit is hoe 'n kar gepak word as 'n gesin van vier gaan kamp sonder 'n waentjie.  Tot die skopfiets, scooter en potjie was in!
 


 
Hierdie is die duidelikste foto wat ek van Sussa het.  Sy het meeste van die tyd geweier om vir my te kyk vir 'n foto en was hier kwaad omdat ons nie in die swembad was nie...

 
As hierdie tasse ingelaai word is ek by.  Weet mos nou al julle vergeet my orals waar ons gaan!

 
 
Dit was 'n lekker naweek.  Doodmoeg huis toe gekom, want Boeta slaap glad nie in die tent met die wind wat so raas teen die tent nie.  Het letterlik elke halfuur wakker geword!   Hierdie is 'n besige week.  Donderdagaand is konsert en ons kan nie wag nie.  Sussa het heel naweek vir ons al die konsert liedjies gesing en verduidelik wat hulle nou eintlik moet doen. Kan nie wag nie en dit is Boeta se eerste een.  Dit behoort baie interessant te wees.
 

Wednesday, 19 September 2012

Ons trek!! Berge toe!!!

Ons het die fout gemaak om vir Sussa te sê dat ons die naweek gaan kamp en bergklim.  Sy het besluit dat ons gaan trek - berge toe.  En sy het dit vir almal vertel wat sy by die skool teëkom.

Maandag bel oom W*** vir Pappa en vra hoekom sê ons nie vir hulle ons trek nie.  Vanoggend by die skool het twee mense my voorgekeer en gesê hulle hoor ons trek berge toe!!  Wat sal ons sê...  Wonder wat word nog alles verdraai aan die hele wêreld oorgedra en waaroor hulle te ordentlik is om verder uit te vra!

Vanoggend sê S***, een van die Pappas vir my my hare lyk mooi so donker.  Haak Sussa af, skud haar haartjies oor haar skouer en sê "dankie, ek weet!!"  En dit is die tweede keer die week wat sy dit doen!  Die vorige keer het sy vir juffrou N*** gevra "Myne, ag dankie!"

Gisteraand praat sy met Oupa Japie op die foon en hoor sy tand het gebreek.  Sy reken "Oupa moet die tand in sy skoen sit dan bring die muis vir jou twee geldjies!"

Ten minste kry ons die selfvertroue gedeelte van haar opvoeding mooi reg... 

Monday, 17 September 2012

So 'n stoute Babatjie!

Sussa wou gisteraand ewe ernstig by ons weet hoekom Liewe Jesus tog so 'n stoute babatjie in Mamma se maag vir ons gestuur het!!  Met goeie rede, want Boeta is omtrent daarop uit om haar te verpes!

Hy probeer haar nat piepie in die bad, steel haar Otto en weier om hom terug te gee, jaag haar, stoei met haar, spring op haar, trek haar hare, lek haar ore, steel haar tafeltjie terwyl sy eet, vat haar bakkie wasbak toe terwyl sy nog besig is om te probeer eet, weier om sy chips met haar te deel.  Maar sy geniet hom eintlik baie!!  Hulle speel en gil en lag die grootste deel van die dag en soek mekaar as een nie daar is nie.  As ek in die middae vir boeta by die skool gaan oplaai staan hy by die hekkie en deur loer en roep vir "Sussie".  Baie sweet!

Sussa is te oulik met al haar gediggies en liedjies.  Kan nie glo hoeveel goed sy ken nie - en dit is lang gediggies wat sy opsê met gevoel!  Ek wil die woorde neerskryf soos sy dit opse want dit is regtig sweet.  Die een dink ek onthou ek reg!

Brand, brand,
skreeu du Randt,
waar, waar,
vra de Jager,
in die Skuur,
sê die vuur,
wie gaan kyk,
vra van Wyk,
die toeters blaas,
die brandweer raas
en die mense hardloop saam!

Dan is daar nog Trippe Trappe tone, Die kameelperd en iets van die boer se bone en 'n kweperlat.
O ja en die Koekie seep wat 'n ongeluk gehad het!  Sy sê hom verskriklik oulik.  Ek moet haar eintlik opneem en dit bêre, want dis baie sweet!

O ja en die telliedjie van die papajas aan die tak.  Tel agteruit van 5 af en weer terug en sy hou kop.  My slimste slim kind!  Ek love haar juffrou van hierdie jaar.  Sy kry verskriklik baie reg met die kiddies en Sussa blom behoorlik in haar klas.  Sy het al kleinkinders en ek dink sy het die geduld en liefde wat die jonger juffrouens baie keer kort kom. Gaan volgende jaar vir juffrou Sxxxx mis.  Sy moet net nog daar wees as Boeta na daai klassie toe moet gaan!
 

Tuesday, 11 September 2012

Wie jok nou eintlik...

Sussie:  "Mamma, ek dink M*** vertel vir my stories."
Mamma:  "Hoekom dink jy so?"
Sussie:  "Sy sê haar oupa sê daar is manga slange in hulle erf wat mens spoeg?"
Mamma:  "Praat sy nie dalk van 'n tuinslang wat water spoeg nie? :-)"
Sussie:  "Nee.  En sy sê toe haar Oupa een oggend wakker word toe is daar twee leeus by die kamer venster."
Mamma:  "Ja, ek dink ook dit is dalk 'n storie..."
Sussie:  "En sy sê haar oupa moes in die grond grou vir wurms om te eet, want hy het nie kos gehad nie."

Is ek die enigste een wat dink M*** se oupa is die een wat die stories vertel???

Wihan se gunsteling nuwe woord is "bam!'"  Nie soos in skiet nie, soos in bang met 'n m!!  Hy sal in die gang begin afloop, skielik besef dis donker, omspring en terughol tv kamer toe en dan heel ernstig vir ons sê "Nee, ekke nou bam!"  En hy is baie bewus van wat "ja" en "nee" beteken.

Is jy lief vir Mamma?  Ja.
Is jy lief vir Pappa?  Ja.
Is jy lief vir Sussie? Ja.
Is Sussie lief vir jou?  Dan soek hy vir Sussie en vra "Sussie?"

Raak nou 'n regte klein mensie.  Nogsteeds onmoontlik stout, maar as jy nou vir hom vra of hy pak wil hê, hou hy sy boude vas en sê "NEE!"

 

Monday, 10 September 2012

Mamma verniel my tande...

Vanoggend terwyl ek besig is om sussie se hare te kam:
Sussa:  "Mamma, onthou jy hoe het jy gesê as ek so hard op my tande kners gaan hulle kraak en dan gaan die tandarts met my raas?"
Mamma:  "Ja, dis regtig so.  Mens moenie harde goedjies kou soos ys en harde toffies nie en mens moenie op jou tande kners nie."
Sussa:  "As ek nou weer tandarts toe gaan en sy sê my tande is so baie gebreek, gaan ek vir haar sê dit is omdat jy my hare so seer kam!"

Die naweek was dit uiteindelik amper somer!  Die kinders het hulle morsdood moeg buite gespeel en hulle omtrent doodmoeg baljaar.  Boeta het gistermiddag geslaap van 2 tot 5 en gisteraand 8uur was hy weer uit soos 'n kers.

By die kwekery.  Hulle altwee se gunsteling plek.  Daar is trollies om op te ry en visse om te voer en soos Boeta sê 'n "Bam kat" wat hy met die besem kan jaag!

 
Daar is niks lekkerder as om met water te speel nie!  Daardie water was vir seker nie baie warm nie, maar hulle het darem beurte gemaak om mekaar nat te spuit!

 
Hier het ons warm water in die skottel getap - lekkerrrrrrr....
 

 

 

Wednesday, 5 September 2012

Wat ons die laaste paar weke gedoen het.

Ons het by Oom Jaco en Tannie Michelle se nuwe huis gaan kuier in Ermelo.  Hier bond oom Francois en Melissa bietjie.

 
Die niggies ry donkiekar by die bazaar.  Wihan het uitgefreak.  Na ons hom op die roller coaster by Gold Reef City gesit het dink hy alles gaan met hom wegjaag!

 
Die winter van 7 Augustus!!  Die warmste wat hulle die hele winter nog aangetrek was! 
 

 
Raai by wie leer my kinders om eers die "labels" te lees voor hulle iets eet of drink.  Die pies is fine, maar die sap is "dodgy"!

 
Boeta het sy Y-bike gevind en ons moes behoorlik keer dat hy by die deur uit jaag met hom.  Dit is sy nuutste beste maatjie en hy kom so mooi reg!

 
Sussa wil so baie graag 'n Woefie hê...  Miskien een van die dae.

 
Boeta het sy pa gevind en wil net heeltyd saam met hom buite in die tuin werk en by hom slaap.  Wonderlik - bietjie baie nodige rus en vrede vir Mamma!!

 
Johannesburg dieretuin - my twee mooi kiddies het hoenders gejaag, maatjies gemaak en op die groot lorrie gery! 

 
 

Wednesday, 15 August 2012

My Briljante kind!

Vanoggend toe ons in die klar klim op pad skool toe (laat soos gewoonlik):
Sussie:  "Oopsie Mamma.  Ek moet 'n chocelate papiertjie skool toe vat."
Mamma:  "Ek het nie nou 'n chocelate papier nie.  Jy moet vir my die aand voor die tyd sê.  Dis nou te laat."
Sussie:  "Toemaar Mamma.  Jy kan gou-gou by die winkel stop en een koop.  Ek sal hom opeet voor ons by die skool is en dan het ek 'n papiertjie."
Mamma:  "Nee.  Ons is te laat en jy kan nie so vroeg in die oggend sjokelade eet nie."

By die skool sê ek so ewe vir Juffrou Sxxxx skuus dat Sussie nie 'n papier het nie, maar sy het te laat onthou:
Juffrou Sxxx: "????!!!!!"
Mamma:  "Zellie sê sy moet 'n chocelate papiertjie skool toe bring?"
Juffrou Sxxxx:  ":-)  Nee, ek het gesê hulle moet by die huis kyk wat gebruik hulle wat suiwel in het en dan bring hulle vir my die houertjies en boksies vir ons tafel.:-)"
Ek vertel toe vir Juffrou van my 5jarige se briljante poging.
Juffrou Sxxxx:  "Vat 5!"

Monday, 13 August 2012

Boeta se eerste regte haarsny!

Boeta moes gaan vir sy eerste behoorlike haarsny.  Sussa love dit om hare te sny en was baie opgewonde om vir Tannie Jana te kan gaan kuier.
 
 
Dis baie makliker om die kinders se hare te was op by hierdie wasbakke as op die gewone stoeltjies.
Sussie love dit om daar te lê dat hulle haar kop masseer en hare was!
 
 
Boeta is erg bekommerd oor hierdie proses.

 
Ooh, maar dit is lekker!

 
Wat de duiwel dink julle doen julle met my!

 
Kyk hoe sit ons daar soos Royalty!

 
Al die hare moet af!  Die suigstokkie maak die proses darem meer draaglik.

 
Grootmeneer.  Vreemd hoe hulle skielik groot lyk as die hare af is.


Friday, 10 August 2012

Maatjies!

Dit is so lekker om tyd te hê om "play-dates" te reël met die kinders se maatjies.  Interessant om te hoor waaroor hulle gesels en hoe hulle speel.  Ek kan vir ure net sit en luister! 

Mamma:  "Speel julle lekker?"
Sussie:  "Ja.  Ek is die Mamma met my mooi rokkie en hangertjie."
W:  Ek is die dogtertjie hond met 'n strikkie in my hare en hartjie nekband."
Mamma:  "En wat is Wihan?  Hy sit ewe kiertsregop tussen hulle op die mat."
Sussie:  "Wihan is eintlik niks nie.  Hy speel nie regtig saam nie.  Hy sit net daar, omdat jy met my gaan raas as ek hom wegjaag..."

 
Boeta is tog so opgewonde as daar die slag 'n nuwe gesiggie is om mee te speel.
 

 
En alles moet saam gedoen word.  Hulle kan mos nie sonder hom skoppelmaai nie!

 
Geen groter vreugde as gesigverf nie.  Zellie wou eers 'n kat wees en toe ek halfpad is 'n nar.  So sy is 'n knar as iemand wonder!  W is 'n muis en N is 'n skoenlapper.

 
En toe Boeta wakker word en besef hulle is geverf en nie hy nie, was dit oorlog!!  Kyk hoe deur die weer is hy nog, maar die gesig is klaar geverf!

 
Geen lekkerder speelplek as 'n hoop grond nie.

 
En natuurlik mag niemand swaai as Boeta nie swaai nie!!

 

 

Monday, 6 August 2012

Onmoontlik stoute kinders

Ek was omtrent lanklaas hier!  Kan nie glo die tyd gaan so vinnig verby nie.  Ek sien ek het nogsteeds nie Boeta se partytjie foto's opgesit nie en ons was intussen 'n naweek in Marloth Park.  Ek sal dit iewers doen - belowe!  Vir nou wil ek net eers onlangse sêgoed opsit voordat ek weer vergeet.  Ek vergeet so baie goed en dis hartseer. 

So 'n rukkie terug was ons in Spar waar 'n vrou gestoei het met drie woelige, raserige, besige seuns wat na geen woord wou luister wat sy sê nie.  En natuurlik het my vyfjarige snip besluit om vir haar te sê:  "Tannie, jou kinders is onmoontlik stout!"  Nie net my presiese woorde nie, maar tot die stemtoon was perfek ek! 

Van laas week af het ons skielik besluit ons wil nie meer skool toe gaan nie, want ons wil by Joyce bly.  Sy was die hele skoolvakansie by Joyce en die grootste deel van laas week weer omdat sy siek was.  Sy moes ontdek het dit is baie lekkerder by die huis as by die skool.  Maar die redes waarom sy nie wil skool toe gaan nie en waarom sy huil is die beste.  Toe sy ontdek "juffrou S is kwaai en sy raas en slaan ons" gaan nie vrugte afwerp nie het sy die volgende probeer:
Vrydag:  "Ek wil nie skool toe gaan nie, want daar gaan snoepie wees en ek wil nie so baie sweets eet nie, want dit maak my keeltjie weer van voor af seer."  (En moenie dink om vir haar te sê sy moet dit dan maar in haar tas sit en huis toe bring vir boetie werk nie!) 
Roll on Maandag en"  "Ek wil huis toe gaan, want hier is koek by die skool en ek wil nie koek eet nie!"
(Really, seriously??)  En ek hoop ek ken die oorsaak, want kortisoon het nog altyd met haar koppie gesmokkel.  Ek onthou hoe sy teen omtrent 2 jaar gehuil het oor absoluut alles enkele minute na sy die medisyne gedrink het.  Dankie tog sy't die laastes vanoggend in.  Roll on beter oggende!  Dink net aan die teleurstelling as ons more oggend weer deur presies dieselfde gaan!!!

Boeta probeer alles sê wat sussie sê.  Tamatie is 'n nuwe gunsteling.  Hy sê dit met so frommelneusie en die laaste "tie" op so 'n hoë nootjie!  Opvreetbaar.  En wanneer hy nou sien ek is kwaad vir hom of hy gaan raas kry sê hy dadelik "tamatie!"  Slim, baie slim!  Gisteraand het hy tot krokkedil gesê toe sussie hom vra.

Ons was die naweek in Ermelo en Franzél het sommer dadelik verantwoordelikheid vir Melissa aanvaar.  In die video winkel speel hulle almal in 'n klein huisie.  Ons sê ons gaan loop en sy storm om vir Melissa uit die huisie uit te haal, want "hulle gaan vir jou wegloop."  Loer by die huisie in, sien dis Boetie, kyk rond en sien Melissa - "o, daar's jy!" en hol dood gelukkig deur toe.  Maar Boetie sit nogsteeds in die huisie!!

By die bazaar reken sy vir Melissa ewe vingertjie in die lug:  "Ek dink jy moet nou 'n bietjie daar na hulle toe gaan!" 

En toe ons Melissa by die veiling verloor en begin soek, kom Franzél van doer anderkant af aangestap met haar aan die hand!!

Wens net sy was so 'n goeie baby sitter vir boetie, ne!