Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Tuesday, 23 August 2011

"Your son..."

Wihan was gister siekerig en ek het hom dokter toe gevat.  Toe ek terug kom by die werk vra een van my kollegas "How is your son doing?".  Dit is darem maar 'n lekker gevoel.  My seun en my dogter...  Partykeer moet ek eers 'n rukkie stilsit en van voor af gewoond raak aan die idee dat die Here hulle vir my gegee het.  Sommer maar net...  Partykeer as ek so sit en werk is dat asof ek skielik een van hulle ruik of voel hoe hulle in my arms voel en dan verlang ek vir 'n oomblik so verskriklik na hulle.  As ek hulle in die middag gaan haal drafstap ek die stukkie tot by die hekkie en my hart voel soos wanneer jy jonk verlief is op iemand en op pad is om die deur oop te maak.  (Ja, hulle maak my moedeloos moeg ook en dis blerrie harde werk, maar nogsteeds...  ek sal sê dis 80/20 vir die goed en die sleg.)  Ek was nou die dag by toe iemand oor die foon vir haar tiener sê dat sy nooit kinders sou gehad het as sy geweet het hoe dit sou wees nie...  Mag ek nooit ooit so iets vir hulle sê nie, selfs al is dit in 'n oomblik van kwaad of moedeloos wees.  Sal ek hulle teruggee en die lewe sonder hulle vat... NOOIT.

Monday, 22 August 2011

Ai tog, die Trappie huis!

Die huis is gister middag geskou (en dit het BAIE goed gegaan - hou duime vas).  Gisteroggend tussen al die hoo-hah om die huis skoon te maak en die tuin aan die kant te kry en bespiegel oor hoeveel mense gaan kom en of ons 'n koper gaan kry sit Zellie by die eetkamer tafel met haar spaarvarkie en pak hopies geld.  "Toemaar Mamma, ek sal my varkie se geldjies by sit, dan koop ons die trappie huis!"

Toe die agente die middag daar kom storm sy dadelik op hulle af en sê baie trots:  "Julle, ek was flippin siek gewees."  Aarde sluk my in.  Dit kon seker erger gewees het, né??  Né??
Gistermiddag toe ons terug kom by die huis kom die agent na haar toe.  (Dit is 'n ouerige oom en hy is baie erg oor die kinders.)  Zellie het net so vyf minute in die kar geslaap en sê sommer dadelik vir hom:  "Oom, ek is nou bitter kwaai."

Na ons update van die agente het ons die volgende gesprek:
Mamma:  "Wil jy en boetie saam in 'n kamer slaap in die trappiehuis?"  (Dis massiewe kamers, hulle sal verdwaal op hulle eie!)
Franzél:  "Ja.  Maar gaan ons nou in die donker ry?  Ek hou nie daarvan om in die donker te ry nie!"
Mamma:  "Nee man.  Julle gaan volgende jaar saam in 'n kamer slaap in die trappie huis."
Franzél:  "Maar ek en boetie sal mos bitter baie vaak word!"
Mamma het nou nie heeltemal bedoel julle sal dan eers weer slaap nie, maar toemaar!  Klein treëtjies!

Nou nog net so bietjie geduldig wees, hoop, bid en dalk trek ons einde November na ons trappie huis toe!

Monday, 15 August 2011

Toemaar Mamma....

"Ek gaan vir my pienk Mamma vra om strikkies aan al my panties te sit, want dan weet ek ook hoe om dit aan te trek..."  Sal die bestelling insit by die pienk Mamma.  Ons weet mos nou wie dit is!!

Hierdie huis-soek-en-dalk-trekkery werk behoorlik met haar ou koppie.  Laas week praat ons in die kar oor die droomhuis en die nagmerrie-prys.  Besluit toe ons sal eerder nou bietjie meer betaal vir wat ons regtig wil hê as wat ons oor 'n paar jaar weer kostes moet aangaan om te trek.  Al moet ons dan nou 'n rukkie sonder vleis bly. (Ons almal sê dit, né!)

Fast forward na Maandag.  Ek gaan Spar toe met die kids en koop brood en melk.  Op pad terug huis toe besef Zellie skielik ons het nie vleis gekoop nie en sy FLIP.  "Mamma, ek wil vleisies hê.  Ek is honger vir vleisies."  Ek moes omtrent verduidelik dat daar vleis by die huis is.  Die feit dat sy nooit ooit ooit ooit ooit vleis eet nie het glad nie by haar opgekom nie.  Uiteindelik sit sy so terug teen die sitplek en sê:  "Ek dink ons moet maar die trap-huisie koop en dan bid ons maar vir die Heretjie tot ons weer vleisies kan koop..."

Gisteraand in die bad begin sy uitvra oor wat dan nou eintlik van ons huis gaan word as ons in 'n ander huis gaan bly?  Ek verduidelik dat ons nou naby Jaco en Michelle gaan bly en dat sy dalk na 'n nuwe skooltjie toe gaan.  "Gaan Jaco en Michelle in ons huisie kom bly?"  "Of ons kan by die damhuisie ook gaan bly?  Ghaaaa??" (Het julle nou nog nie eers daaraan gedink nie!  Dis mos ook 'n opsie!)  Die damhuisie is die woonstel in Margate waar ons op verlof was in Mei-maand!!

Ek sê net weereens... kyk wat jy voor die kinders sê...

Friday, 12 August 2011

Ma se kind

Wihan soen net sy Mamma op die mond!  As Pappa vra vir 'n aah hou hy vir hom sy wang.  As enigiemand anders vra vir 'n aah hou hy vir hulle die wang.  As Mamma vra vir 'n aah kry sy 'n nat-oop-bek-vol-op-die-mond-soentjie!!  Mamma se slim kind.

Hy raak nou te flippin oulik.  Groei uit sy klere uit.  Elke broek wat ek vir hom aantrek lyk soos 'n knie-broek.  Klim die slide self.  Raas en babbel, maar sê nog niks meer woorde nie.  Hy sê darem al baba ook!  Hy het laas week 'n ooginfeksie gehad.  Eina.  Omtrent gesukkel om daarvan ontslae te raak.  Moes op die ou einde 'n voorskrif kry vir antibiotiese salf.  Gelukkig lyk dit darem vandag of die salfies werk.  Saam met die hou op die wang van self van die muurjtie af probeer klim het dit behoorlik gelyk of hy aangerand word.  Dr du Plessis het amper van sy stoel af geval toe ons daar instap!!  Ons wag maar op die sypaadjie vir die welsyn om hom te kom wegvat.  Kan nou nie meer lank wees nie...

Tuesday, 2 August 2011

Die week se Franzél-ismes

Hierdie kind se redenasie-vermoë verstom my al hoe meer!  Ek vergeet so baie van die goedjies wat sy kwytraak.  Mens lag daaroor en vergeet daarvan.  Ek probeer nou 'n punt daarvan maak om dit dadelik neer te skryf.

Sondag sit sy by die kombuis-tafel saam met Ouma:
Franzél:  "Ouma, weet jy wat is vir my die heel mooiste woord?"  "Sjokelade...."
Ouma:  "Dit raak nooit 'n lelike woord nie."

Maandagaand raas ek met haar, omdat sy nie vir boetie met haar blokkies wil laat speel nie.
Franzél:  "Ten minste laat ek boetie met my goed speel wanneer ek NIE daarmee wil speel nie..."
Mamma is vreeslik dankbaar daaroor, my kind...  :-)

Maandagaand in die bad:
Franzél:  "Hierdie kossies was nou regtig baie sleg."
Mamma: "Ek is baie jammer om te hoor.:
Franzél:  "En ek is baie lief vir jou ook..."

Maandagaand is ons besig om te bid.
Mamma:  "Liewe Jesus, dankie vir Mamma en Pappa en Boetie..."
Franzél:  "Ja en vir Sussie."
Mamma:  "En vir Sussie.  En dankie vir kossies."
Franzél:  "Nee, nie vir kossies nie."

Dinsdagoggend besig om haar pap te eet...
Franzél:  "Ek het vir al my maatjies gesê ek het vir hulle 'n grooooot verrassing!  Hulle gaan op my verjaarsdag koek kry en suigstokkies en sweeties."
Mamma:  "Maar Zella, jy het klaar verjaar.  Jy verjaar eers weer volgende jaar."
Franzél:  "Ja, ek weet, maar ek gaan eendag weer verjaar."

Dit is net wat ek kan onthou.  Elke tweede sin is deesdae 'n wysheid om op te teken!

Thursday, 21 July 2011

Een van daai ma's

Jy weet, die soort wat in die winkel is met kinders wat buite beheer is, haar ignoreer en jou laat wonder hoe die Goeie Vader ooit vir haar twee kosbare bloedjies kon gee terwyl daar soveel ma's is wat graag kinders wil hê en sal weet hoe om hulle te dissiplineer....  Wel, dit was gister ek.

Wihan wil met alle mag self in die winkel loop.  En dan loop hy reguit na die rak toe met die glas medisynebottels en begin afpak terwyl Zellie 'n maatjie raakloop en hulle twee net daar jagertjie tussen die rakke begin speel en luidkeels skreeu.  Op pad na die kasregister met 'n skoppende skreeuende Wihan op die heup terwyl ek drie sakke medisyne (dan drug ek hulle ook nog!!) in my ander hand balanseer en probeer keer dat Wihan dit in die hande kry en stukkend smyt hoor ek Zellie skaterlag, draai om en sien hoe sy die mense na hartelus met badsponse gooi......  

Heel verleë sê ek toe ons uiteindelik voor kom vir die persoon agter my wat geamuseerd staar na Zellie wat elke sjokelade op die rak probeer om te kyk of ek weer gaan nee sê en Wihan wat alles afgooi en kliphard lag - "Hierdie is 'n moeilike ouderdom - hulle verstaan nog nie nee nie."  En haar antwoord - "hulle verstaan baie goed."  Dus weet ek duidelik net nie hoe om die boodskap oor te dra na my kosbare krosie nie!!

Agterna in Spar het Wihan die brood ses keer uit die trollie uit gegooi, Zellie het op sy hand getrap, hy het blou moord geskreeu, Zellie het geskreeu omdat sy nie die strokie mag teken nie en wine gums in die trollie ingesmokkel (HOE?). 

Ek weet nie of die mense wat my agterna gestaar het na my gekyk het met simpatie of verwyt in hulle oë nie...
So een keer 'n maand sweer ek hulle gaan nooit weer saam met my dorp toe nie.  Dit hou gewoonlik so twee dae en dan het ek geen keuse nie!

Storietyd

Gisteraand besluit Zellie sy moet vir my 'n storie lees.  Maak die handjies ewe soos 'n boek en spring weg:
Enige dag lank gelede was daar 'n Rooikappie (ghaaaaaa!met die handjie oor die mond)
Sy gaan na haar ouma toe so (lampie-lampie-deee-lampie-lampie-daaai)
Sy vra ouma hoekom is jou ore en jou hande so groot
En toe sluk die wolf haar in en haar Pappa sny sy keel af en toe is sy weer lewendig.
Uit uit my storie is uit.
Ek waag dit om 'n vragie tussenin in te glip en word ewe ernstig vermaan om haar nie te pla nie, want "ek lees vir jou van die Bybel".   FAIL!

Natuurlik word Mamma toe nou baie bang vir die wolf en Franzél verander die storie.  Haal so ewe 'n ander boek van die kas af en begin lees:
Enige dag lank gelede was daar 'n Rooikappie en toe kruip sy onder die bed vir die wolf weg en toe kom haar Pappa en sny sy keel af en  toe het hy nie eers vir Rooikappie geëet nie!  Moooiiiiii!

En ons dink ons is slim as sy per ongeluk iets op tv sien wat sy nie moet nie en ons verduidelik, dis nie regte bloed nie, dis tamatiesous.  Ons almal dink hulle sien nie reg deur ons nie, ne!

O ja en het julle geweet 'n maatjie by die skool het 'n "Platanna" medalje skool toe gebring.  Dit het my 'n goeie halfuur gevat om uit te vind dit is eintlik "Hanna Montanna!"

Sunday, 17 July 2011

My Pienk Mamma se naam is.....

Vrydagoggend is Pappa Pretoria toe met die bakkie om voorraad te gaan haal.  Met die stakings sukkel hulle om voorraad deur te kry en almal help waar hulle kan.  Toe Franzél daai bokwa van 'n bakkie sien is daar nie 'n manier wat sy skool toe gaan en Pappa los om al die pret te hê nie.  Op die ou einde is sy met haar blommetjie hoed, "cape" en serp voor in die bokwa weg Pretoria toe!  Eers bietjie by Ouma Santie gaan kuier en toe die res van die dag saam met Pappa rondgery.  Om te sê sy was die aand doodmoeg teen die tyd wat sy by die huis gekom het is lig gestel!

Saterdag loop ons in die "mall" en skielik sê sy uit die bloute uit:  "Weet jy wat is my pienk Mamma se naam?  My pienk Mamma is Ouma Santie."  Uiteindelik het die Pienk Mamma wat vir haar alles gee wat sy wil hê en waar alles moontlik is 'n naam!  Wat 'n kompliment vir Ouma Santie!

Monday, 11 July 2011

Sago poeding

Wihan het Sago poeding ontdek en dink dit is die lekkerste goed wat hy in sy lewe nog geëet het.  Gisteraand haal ek die bak uit die yskas uit en hy kom onmiddelik aangestorm en begin "uh-uh-uh en vingertjie wys).  Toe ek die bak in die mikrogolf sit dink hy seker dit is nou vir altyd weg, val op sy ruggie neer (saggies! sit eers op die boudjies en gaan lê dan) en skreeu verdrietig.  Spring op, stamp die voetjies en hop op en af.  Dis net trane en bloedrooi wange, want hy gaan nooit ooit weer van daai poeding kry nie!

Gelukkig het ek en ouma 'n resep uitgewerk wat maklik en vinnig is.  Dit sal dan seker stapelvoedsel in ons huis word! 

Thursday, 7 July 2011

'n Beertjie!

Wihan het na 'n nuwe klassie toe geskuif by die kleuterskool.  Hy is nou 'n Beertjie en nie meer 'n Pikkewyn nie.  Hulle is 8 kinders in die klas wat almal nou net begin loop het.  Te oulik om hulle so saam te sien waggel op die speelgrond!  Die juffrou is baie beindruk met ons groot man.  Sy sê hy is die soetste, maklikste ou seuntjie wat sy nog in haar klas gehad het.  Hy het die eerste dag net so bietjie rondgekyk wat maak die ander en dan saam ingeval.  As hulle op die matrassies lê om te slaap, soek hy die oop enetjie vir homself uit.  As hy sien hulle slaap elkeen met 'n beertjie, staan hy gou op en gaan haal syne.  As hulle op stoeltjies sit en eet sit hy ewe grootmeneer langs hulle.  Hy is baie gelukkig en tevrede by hulle.  Die eerste aand by die huis het hy sommer net oor alles gelag dat jy net die vier tande sien!  Hy wil tog so graag besig gehou word en hulle speel dan tot buite en alles!

My groot seun met sy geel en blou tekkies wat self klas toe loop...  Ek sal 'n foto van hom kry met sy skoene (wat tot aan sy voete bly!) voor hulle vodde geloop is!