Fiefie en Potter

Fiefie en Potter

Thursday, 24 November 2011

Oor honde...

So 'n paar maande gelede het ons ons 2 Jack Russel tefies weggegee.  Sy het baie aggressief geraak nadat sy kleintjies gehad het en aanhoudend na die kinders gebyt.  Wihan kon nie eers net buite op die gras loop sonder om 'n hap te kry nie.  Ons het mooi vir sussie verduidelik dat Sasha en Wendy na 'n nuwe huis toe is, omdat sy vir haar en boetie byt.

Gister loop ons op pad kar toe 'n draai om honde-bollie.  (Die reuntjie is bang vir sy skaduwee, so ons kon hom hou!  Zellie reken:  "Mamma, ek dink ons moet die hond vir die ander oom gee, want hy bollie net die hele wêreld vol!"  Duidelik kan sy sien wat die voor- en nadele van sekere dinge is!  En duidelik aard sy baie na haar Pa!  (Toemaar, ons sal hom nie regtig weggee nie!)

Tuesday, 22 November 2011

My slim mannetjie

Ons verstom ons die laaste tyd aan boetie se redenasievermoë.  Hy spraak geen sprook nie, maar dom is hy vir seker nie! 

Gisteraand is Pappa in die stort en Wihan staan en kuier aan die ander kant van die stortdeur soos gewoonlik.  Wihan sien Pappa het nie 'n waslap nie en gaan haal vir hom een in die bad.  Hy hou die waslap eers so teen die stortdeur en Francois maak of hy hom probeer vat.  Wihan ruk die waslap weg, maak die deur oop en gooi die waslap vir Pappa! 

Hy bou toringkies met absoluut alles!!  Vanoggend het hy sy gogga-stoot-dingetjie eers op die swart fiets gesit, toe 'n bakkie bo-op, blokkies binne in die bakkie en toe 'n bal bo-op die bakkie.

Gisteraand gee ons vir hom visvingers.  Eers freak hy omdat ek die visvingers in die vrieskas sit om koud te word.  Spring op en af en skreeu en wys met sy vingertjie na die vrieskas en baklei!  Ek haal toe maar die warm visvingers uit en gee dit net so vir hom.  Hy blaas hulle wraggies eers koud voor hy hulle eet.  Trek sommer die neusie so op 'n plooi en blaas dat die spoeg spat!  Hy sal self sy kossies koud maak, man!

Hy begin op 'n stadium sy kos rondgooi en ek sê vir hom "nee".  Hy antwoord dadelik "JA!"

Hy het Vrydag beduie en gemoan tot ek sy doek afhaal en toe baie trots teen Pappa se braaier gepiepie!

Hy doen absoluut alles wat jy vir hom sê.  "Gaan sit op die stoel."  "Gee vir Pappa die boek."  "Kom ons gaan bad."  "Gaan speel buite."   En laat jy net die slag vir hom sê hy kan nie eers so mooi praat soos sussie nie.  Dan haak hy af met 'n klomp "Pappa, pappa, pappa, Pappa's" en hy wen die argument! 

Monday, 21 November 2011

Maar juffrou sê dit dan...

Franzél het skielik die manier ontdek om te sê J...em as iets baie cool of groot of wat ookal is. 

Mamma:  "Dit is 'n baie lelike woord.  Dit is dieselfde as om Liewe Jesus se naam te gebruik en jy mag dit nie doen nie."
Zellie:  "Maar my maatjies sê dit almal."
Mamma:  "Dan sê jy vir jou maatjies, dit is baie lelik, want hulle sê Liewe Jesus se naam as 'n vloekwoord."
Zellie:  "Dan sê hulle - ag man juffrou sê dit ook as sy by haar huis is..."

Wihan het sy vendetta met sy niggie nog so bietjie verder gevoer en besluit die enigste simpatie wat sy verdien nadat sy van die muurtjie af geval het, is om sopnat gespuit te word met die tuinslang!

Ons het Zellie se danseksamen sertifikate gekry en sy het 88% gekry en 'n goue medalje!!  Mamma is baie trots op jou!


Tuesday, 8 November 2011

Sien jou as ek 5 is!

Ek stap vanoggend saam met Sussie na juffrou Sxxxx se klas toe sodat ons volgende jaar se juffrou kan ontmoed en uitvind of daar enigiets is waaraan ons solank aandag moet gee:

Juffrou Sxxxx:  "Hello, kom jy volgende jaar na my klas toe."
Zellie:  (Steek net haar kop agter my boude uit om te praat.)  "Nee, ek is nog te klein.  (Kom heeltemal agter my boude uit.)  "Sien jy hoe is ek nog te klein."
Juffrou:  "Ja, maar volgende jaar gaan jy mos lekker groot wees."
Zellie:  "Nee, ek is vier (wys 4 vingers)  Ek sal hiernatoe kom as ek vyf is.  (wys 5 vingers)
Juffrou:  "Wanneer word jy vyf?"
Mamma:  "Februarie."
Juffrou:  "O, so jy is een van die ouer kinders.  Jy gaan hier by my vyf word dan sing ons almal vir jou."
Zellie:  "Nee, ek dink ek gaan nog laaaaaaank vier bly!"

Sy het 'n maand lank gehuil voor sy vir juffrou Exxxx en Mxxxxx gelike het.  Hierdie jaar 'n maand lank gehuil voor sy vir juffrou Hxxxxxx gelike het.  As sy eers aanpas raak sy so lief vir hulle dat sy nie weer wil skuif nie.  Dit was laas jaar so en hierdie jaar weer!  Dan gaan ons seker volgende jaar dieselfde paadjie stap!  Wil nie eers aan Graad R en juffrou Mxxxxx dink nie!!  Boetie gaan eendjie klas toe.  Gelukkig is dit mense met wie hy hierdie jaar al baie te doen gehad het, so ek dink hy sal fine wees.

So ja, sien juffrou as ek 5 is!

Monday, 7 November 2011

Groot bed

Wihan slaap van gisteraand af in die groot bed.  Ons het 'n reëling opgesit, kussings onder gepak en sy kotmatrassies langsaan gesit vir in geval!  Hy was gisteroggend al dood opgewonde oor sy bed.  Klim self op en gaan lê op die kussing met beer in sy arms, maak ogies toe asof hy regtig gaan slaap.... en dan loer hy vir jou en lag.  Te dierbaar.  Gistermiddag het hy in die kar aan die slaap geraak en ons het hom net in sy bedjie gaan neerlê.  Gisteraand het hy self in sy bed aan die slaap geraak.  Ons is klaar met die kot!  Kan nie glo my mannetjie lê 'n enkelbed al so vol nie!

Saterdagoggend het ons ontbyt gaan eet by Wimpy.  Die bestuurder kom vra of alles nog reg is en Zellie sê kliphard, "daai oom lyk gusting (disgusting)."  Mamma en Pappa kry amper 'n oorval, preek en verduidelik, sussie huil ens ens ens....

Gister sit ons Lion King en kyk en Mufasa (ek is so pas ingelig dat dit Scar is wat gusting is en nie Mufasa nie!  My lion king kennis is blykbaar nie op standaard nie!!) is besig met sy hiëna bende.

Zellie:  "Daai leeu is gusting."
Mamma:  "Ja, hy is.  Maar ons mag mos nie sê mense is gusting nie, ne."
Zellie:  "Wanneer het ek dit gesê?"
Mamma:  "Jy het dit gister gesê."
Zellie:  "Waar het ek dit gesê?"
Mamma:  "In die Wimpy."
Zellie:  "Vir wie het ek dit gesê?"
Mamma:  "Vir die oom."
Zellie:  "En - was dit 'n mooi oom?"  (Met die nodige "ek weet eintlik ek is reg" uitdrukking!)
Mamma:  "Ja.  Alle mense is mooi.  Mens kry nie lelike mense nie."
Zellie:  "O, skusie Mamma.  Ek het nie geweet die oom is vir jou mooi nie!"

En dit is hoe jy 'n argument verloor!

Tuesday, 1 November 2011

Hoe kan jy twee kinders liefhê?

Baie maklik, dis hoe!  Ek het hierdie by iemand gekry.  Dis so waar...

Loving Two

As I hold your hand basking in the glow of our magical relationship,
I suddenly feel a kick from within,
as if to remind me that our time alone is limited.
And I wonder:
How could I ever love another child as I love you?

Then that other child is born, and I watch you.
I watch the pain you feel at having to share me,
as you’ve never shared me before.
I hear you telling me and others in your own way,
“Please love only me.”
And I hear myself telling you in mine,
“I can’t,” knowing, in fact, that I never can again.

You cry. I cry with you.
I almost see our new baby as an intruder
on the precious relationship we once shared.
A relationship we can never quite have again.
But then, in my own heart,
I find myself attached to that new being,

an immence love growing in the deepest of my heart
and feeling almost guilty.


I’m afraid to let you see me enjoying him.
–as though I am betraying you.
But then I notice your resentment change,
first to curiosity, then to protectiveness,
finally to genuine affection.
More days pass, and we are settling into a new routine.

The memory of days with just the two of us is fading fast.
But something else is replacing those wonderful times we shared, just we two.
There are new times equally as wonderful–only now, we are three.

I watch the love between you grow, the way you look at each other, touch each other.
I watch how he adores you–as I have for so long.
I see how excited you are by each of his new accomplishments.
And I begin to realize that I haven’t taken something from you,
I’ve given something to you more special than any material gift.

I noticed that I am no longer afraid to share my love openly with both of you.
I find that my love for each of you is as different as you are, but equally strong.
And my question is finally answered,
to my amazement…

Yes, I can love another child as much as I love you–
only differently.
And although I realize that you may have to share my time,
share toys, share sweets, grandparents and everything else
I now know you’ll never share my love.

There’s enough of that for both of you
–you each have your own supply.
I love you–both equally differently
and I thank you for blessing my life.

-author unknown

Dit som dit so mooi op en dis 'n boodskap wat ek vir hulle tweetjies hier wil los vir eendag as hulle dalk wonder!  Die vraag moet eerder wees hoe kan jy nie vir al twee of al drie of al tien of al twintig jou kinders lief wees nie...

xxx

Monday, 24 October 2011

Die lang hare tannie

Zellie is mal oor Tangled.  Dit is 'n moderne Rapoensie-storie, regtig baie oulik.  Die naweek het sy hom 'n paar keer gekyk.

Zellie:  "Mamma, hoekom het ek nie lang hare nie?"
Mamma:  "Maar jy het lang hare?"
Zellie:  "Nee, ek het nie, ek soek baie lang hare."
Mamma:  "Lang hare soos Nxxxxxx?"  (Die kind se hare hang op haar boude, sy's 4 so ek kan dit nie verstaan nie!!)
Zellie:  "Nee, man.  Nxxxxx het nie lang hare nie.  Lang hare soos die lang hare tannie (Raponsel)."  (Raponsel se hare in die storie is baie baie baie baie lank!  Sy kan dit reg rondom haar draai van kop tot tone en dan is meer as die helfte nog oor!)
Mamma:  "Nee, man.  Wat wil jy met sulke lang hare maak?  Jy sal nie lekker kan swem of swaai of slaap of speel nie."
Zellie:  "Ek sal nie nodig hê om dit te doen nie, want ek sal heeldag aan my hare van die huis se dak af swaai!"

Ons kyk National Geographic.  Wihan se favourite.  Elke keer as daar 'n leeu of 'n beer of 'n tier op kom raak hy mal van opgewondenheid!

Zellie:  "Het julle geweet wat eet wolwe?"
Mamma:  "Nee, wat eet wolwe?"
Zellie:  "Hulle eet drie varkies en rooikappies!"

Natuurlik!  Hoe kon ek vergeet het.....

Potter het laas week nog drie tande by gekry en ons staan nou op twaalf.  Nog net die vier oogtande en die vier twee-jaar tande dan is ek klaar met tande sny!!  Dankie tog!!  En die baltic amber werk.  Die vorige keer toe hy drie tande op een slag gesny het, was hy twee keer op antibiotika met bronchitus en baie slegte middeloorontsteking.  Hy het baie sleg diarree gehad en verskriklike brandboudjies.  Erger as wat Zellie nog ooit gehad het en die eerste keer in sy lewe wat hy brandboudjies gehad het.  Sy ogies het ook verskriklik gedra en ek moes hom drie dae uit die skool uit hou as gevolg daarvan.  Zellie se ogies het ook altyd gedra as sy tande gesny het.

Hierdie keer het hy drie op een slag gesny en hoewel dit nogsteeds seer is - hy was klouerig en het sleg geslaap, was daar geen ander simptome nie.  Geen loopneus nie, nie gekwyl nie, nie een keer gehoes nie, nie diarree nie, nie koors nie, sy ogies het nie een keer gedra nie.  My seun kan maar sy krale hou! 

Friday, 21 October 2011

Dankie vir die kuier, hoor

Gisteraand kom 'n wildvreemde agent na ons huis om die aanbod te teken (hy het nog nie kinders nie!) en die volgende gebeur:

Zellie kruip 'n paar keer tussen sy bene deur net om hom te laat weet hy's baie welkom in ons huis (dink kat wat skuur!).  Sy het dit terloops al met my baas ook gedoen! 
Zellie:  "Het jy bietjie hier by ons kom kuier?"
Agent:  "Ja, ek kuier mos nou bietjie hier by julle."  (Duidelik ongemaklik!)
Zellie:  "Ons is baie bly dat jy vir ons kom kuier het.  Sit."

Wihan het op die slaapbank geklim en in sy eetstoeltjie geklim van daar af sodat hy sy jelly tots in 'n stoel kan eet.  Hy is per slot van sake nie 'n barbaar wat op die mat sit en eet nie...

Uiteindelik klaar tussen Wihan wat Otto vir die hond probeer voer, Zellie wat by ons by die tafel kom sit en meer gesê kry as enige iemand anders en so omtrent nege vloermoere deur Wi omdat niemand hom wil optel nie en hy heeltemal alleen op die aardbol is, is die agent uiteindelik op pad uit.

Zellie:  "Het jy klaar by ons gekuier?"
Agent:  "Ja, ek gaan nou huis toe."
Zellie:  "Ons is bly dat jy by ons kom kuier het.  Jy moet nou vinnig huis toe ry, anders word dit donker en dan word dit weer lig en dan het jy nie gedoedoe nie en dan gaan jy vreeslik vaak wees."  (Met die nodige pruilmondjie, skewe koppie en simpatieke ogies..."

Thursday, 20 October 2011

Die Kersverhaal - deur Zellie

Zellie:  "Mamma, het jy geweet Liewe Jesus se mamma is Maria en Sy Pappa is Josef en Hy is in 'n stal gebore?" 
Mamma:  "Jy is so slim!  Dis hoekom ons Kersfees hou."
Zellie:  "En weet jy wat het Josef toe gedoen?"
Mamma:  "Nee, wat het hy gedoen?"
Zellie:  "Hyyyyy heeeeet (sy't die manier om haar woorde laaaaank uit te rek terwyl sy besig is om die verhaaltjie uit te dink - koop tyd!) vir Tarzan so sterk gemaak dat hy die leeu wat vlieg en wat in die stal ingekom het dood kon maak.  Maria het niks gedoen nie - net babatjies gehê."

Sal ons hom Oukersaand vertel wanneer ons almal by die boom sit!

Vanoggend besig om klaar te maak vir skool:

Mamma:  "Wihan, jy gaan van die bed af val.  Sit stil of klim af, moenie spring nie."
Zellie:  "Ja Mamma, Wihan is mos 'n stoute klein helletjie."
Mamma:  "Nee, hy is nie.  Dis lelik om dit te sê.  Hy is net 'n babatjie wat wil speel."
Zellie:  "Nee Mamma, altyd as boetie so speel dan sê jy, sjoe maar jy is 'n stoute klein helletjie."

Oooops......

Vanoggend was die laaste strooi.  Vandag is fotodag en om daardie twee alleen klaar te kry en skoon te hou sodat hulle na iets meer lyk as gewoonlik is 'n MISSIE.  Sussie het 'n rok aan met 'n wit skipant (WIT JA!).  Boetie sy moosite khaki broek en knopie-hemp.  Boetie het cocopops in die hande gekry en homself met chocelate besmeer.  Sussie wou nie daardie rok gehad het nie, maar haar konsert rok!  Ek is sooooo bly Pappa kom vandag huis toe.  Regtigwaar, genoeg is genoeg!

Wednesday, 19 October 2011

Probeer net jou beste

Gesprek in die kar op pad huis toe gister middag:

Zellie:  "Mamma, my maatjies sê ek sing nie mooi nie."
Mamma:  "Sê vir hulle jy sing vir jou Mamma en Pappa en Ouma en Oupa en Boetie baie mooi."
Ek sit die radio bietjie harder vir 'n lekker liedjie.  Wihan het die manier om saam te sing, met sy "huh-huh-huh"  beweeg die koppie, klap handjies elke ding.

Mamma:  "Mooi, Wiwi, jy sing so mooi."
Zellie:  "Hy sing nie vir my mooi nie."
Mamma:  "Hy sing vir Mamma mooi.  Mens mag nie sê iemand anders sing lelik nie."
Zellie:  "Nee, hy hoef nie perfek te sing nie, maar ek kan hoor hy gee nie sy beste nie."

(Baie jammer om te sê, maar huh-huh IS nie net sy beste nie, dis sy ENIGSTE!)

Vanoggend kom klim sy half ses by my in die bed, sommer al klaar huilerig, want Pappa is heel week nie hier nie:
Zellie:  "Mamma, ek is vreeslik baie lief vir jou, maar ek wil nou net my Pappa hê..."

Wihan is blykbaar klaar met die kot.  As jy die oggend in die kamer kom en jou kind se bene steek uit waar hy die kot se hele naat oopgeskop het, is dit tyd vir die groot bed!
 

Wednesday, 12 October 2011

Hy Lewe!!!!!

Vanoggend het 'n dooie ladybird redelike drama in ons ou huisie veroorsaak! 
Zellie:  "Mamma, kyk dis 'n ladybird, (pruilmondjie) ag jitte...Ek gaan hom skool toe vat, want Axxxxx is verskriklik lief vir ladybirds."
Mamma:  "My Skapie, dis 'n dooie ladybird.  Mamma dink nie Axxxx is so baie lief vir dooie ladybirds nie.  Gooi hom buite."
Zellie:  "Nee, toemaar Mamma, hy sal opstaan.  Liewe Jesus sal laat hy opstaan."
Mamma:  "My Engel, ek dink nie Liewe Jesus laat lady birds opstaan nie."

Eventually is hy saam skool toe.  Terwyl ons ry:
Zellie:  "Mamma, kyk!  Hy loop oor my handjie, hy het opgestaan!"
Mamma:  (Nadat ek sien hy's wragtig lewendig!)  "Ek sien my skapie.  Moet hom nou nie doodmaak nie, ne.  Saggies vat."  (Weet nie lekker wat om te sê oor die ladybird wat opgestaan het nie!)
Zellie:  (Sing uit volle bors!)  "Hy lewe, gemaak om met vlerkies te swewe!" 

By die skool het sy op 'n stoel parkeer by die ingang en vir almal wat verby kom die ladybird gewys.  Sy't nie eers saamgestap na boetie se klas toe nie, vir die eerste keer ooit.  Toe ek by die skool weg is het sy die ladybird aan Mxxxxx oorhandig.  Axxxxx het hom toe nooit eers gesien nie.  Ek wonder of die opgestaande nog lewe....  Ek twyfel......

Monday, 10 October 2011

Moms to boys work from son up till son down...

Ek het nooit geweet hoe waar hierdie sêding is voordat daardie klein Potter-otter-mannetjie oor my pad gekom het nie!  Hy is besig...  Hy is ongelooflik verskriklik baie bedrywig en besig en aan die gang en stout...  ja my 16 maande oue seuntjie is S-T-O-U-T - en hy weet dit...

As ek kos maak, moet hy saam kos maak...  met regte kos... in regte potte!  My aartappels is sy speelgoed - vir sy kospotte, vir ronddra in lepels, vir voer vir die hond.  Ek tel aartappels op plekke op waar geen aartappel ooit behoort te wees nie!  Hy gooi hulle, rol hulle, kou hulle, sit hulle in my laaie, in die skottelgoedwasser, in die tuimeldroër...  As ek kos maak is hy hier om my voete en hy roer die aartappels met 'n lepel dat jy net sien stukke spat.  Elke kort-kort moet ek hom eers optel dat hy kan sien waarmee ek besig is, dan is dit huh-huh en dan gaat ons weer aan met ons potte.  Hy pak nie een of twee potte uit nie.  Hy pak elke liewe pot in die kas uit - tot die groot swaar ysterpot en die stoompot moet saamspeel.  As ek hulle teruggepak het is dit net 'n uitnodiging om van voor af te speel.

Hulle het hierdie naweek water ontdek.  Twee skottels en hulle speeltafel vol water met koppies en lepels en swemklere.  Wat kan nou lekkerder wees.  En as mannetjie dan nog tussenin kan tuin nat maak is dit eers wonderlik.  Hy doen nogal nie 'n slegte job nie.  Staan so ewe doodstil dat die boom eers nat word en beweeg dan na die volgende een toe.

As hulle tweetjies stil raak kan jy maar weet hulle jaag nonsens aan.  Gister het hy sy kamer met vicks gesmeer.  Orals.  Die matras, kot, muur, mat, homself, sy hemp, die beer.  Die hele huis ruik vanoggend nog na vicks.  En sussie reken sy het "per ongeluk die houertjie vir hom oopgemaak"  en "ons moet 'n huisie kry waar daar niks is waarmee boetie kan stout wees nie sodat sy nie heeltyd raas kry nie."  Ek raas met sussie toe ek op die vicks afkom, maar Wihan hardloop reguit na sy kot toe, deur die deurtjie en gaan lê op sy kussing.  Hy het nog heeltyd hier gelê.  Die pretspul was natuurlik nadat hulle twee hele rolle toiletpapier afgerol het!

Gisteraand het hy so sesuur se kant op my skoot kom lê en heeltemal buite normale roetine 'n slapie gevat.  Kom ons sê maar net hy was 10uur nog wakker.  Dan gaan hy kamer toe om 'n beer te gaan haal, dan kom val hy met sy kombers langs my neer om te slaap, lê vir tien sekondes, spring op om 'n ander beer te gaan haal, val neer om te probeer slaap.  Hy het op die mat probeer slaap en op die vloer probeer slaap en op sy pa probeer slaap, maar sy ogies wil net nie toe gaan nie.  Op 'n stadium toe ons vir sussie in die bed gaan sit, kom hy uit sy kot uit gekruip met die pan wat hy netnou daar gaan bêre het.  Hy het tot met die pan probeer slaap!!

Ag en die drukkies...  hy het geleer as hy op jou afstorm met oop armpies en jou 'n stywe drukkie gee is alles vergewe.  Mamma kry gewoonlik 'n stywe om die lyf drukkie met koppie teen my maag gedruk wanneer ek hom op ons bed aantrek.  Pappie kry 'n drukkie met twee vingertjies in sy pens en sussie kry 'n druk met die skouer as hy haar uit die pad uit stamp om by Mamma uit te kom!

My tweetjies raak nou lief vir mekaar.  Sy kan nie wag dat hy opstaan sodat sy sy kot se deurtjie kan oopzip vir hom om te ontsnap nie.  AS sy in die gang af is is hy vinnig agterna.  Hulle hou handjies vas en gesels en speel en as hy tog net iets disgusting kan doen sodat sussie lag, lag hy uit sy magie uit!  Dit is mooi om te sien hoe hulle verhouding ontwikkel.  "Mamma, ek is baie lief vir my boetie.  Kyk net sy cutiful ogies!"

Wednesday, 28 September 2011

Waar leer hulle dit.......

Is 'n mens veronderstel om onmiddelik op die verdediging te gaan wanneer jou kind iets doen wat baie onaanvaarbaar is in alle sosiale, higiëniese en aanvaarbare reëls van 'n beskaafde samelewing en dit word gevolg deur die vraag:  "Waar leer hulle dit?"  (Met die nodige skokkende gesigsuitdrukking en stemtoon!)

Die eerlike waarheid is, ek het absoluut, hoegenaamd GEEN idee nie!

Wihan het die laaste paar weke aanhoudend 'n baie nat hoes (tande) wat verskeie kere in 'n dag eindig in 'n slymerige gemors op sy bed, my bed, die mat, die karstoeltjie, die kombuisvloer, die badkamerwasbak as ek betyds is....   Nou het mannetjie besluit dat hy elke keer as hy hoes, kug of keel skoonmaak moet spoeg - op sy bed, my bed, die mat, die karstoeltjie, die kombuisvloer, die badkamerwasbak.....  Oulike prentjie, boetie waggel in die gang af, kug, stop doodstil, buk vooroor en ghop op die vloer....  En die onafwendbare vraag - "Waar leer hy dit?"  Sjoe, ek weet nie, hy sien seker hoe Mamma en Pappa orals loop en ghop - hoe dan nou anders?!!

Gisteraand is sussie besig om haar tee te drink en Wihan is (natuurlik) besig om die beker uit haar hand uit te probeer slaan met die stofsuier se pyp. 
Zellie:  "Mamma, vat vir boetie weg, hy pla my."
Mamma:  "Wihan, los vir sussie, kom eet jou tjippies.:
Sussie:  "Ja, vat hom weg, ek wil hom nie hê nie."
Mamma:  (Probeer die subbe oorlog verhoed en liefde saai!)  "Is dit nie lekker om met boetie te speel nie?"
Sussie:  "Nee, hy is jou kind.  Ek hou nie van hom nie.  Jy wou hom hê."
En weereens die reaksie van alle oorde!!  "Waar hoor sy dit?"  Gros, ek weet nie!!  Seker by my toe ek gisteraand vir Francois gevra het om hom te vat!  Ek weet nie waar hoor sy 90% van die dinge wat sy kwytraak nie.  Ek pleit onskuldig! 

Op 'n positiewe noot gaan dit beter met Wihan se bors.  Sussie hoes haar longe uit en more aand is konsert!  Hoop nie die dansery laat haar hoes nie!  Hulle twee speel al hoe lekkerder.  As sy 'n koekie het moet "my boetie" of "Wiwi" ook een kry.  Hulle speel op die "slide"  (Klein slide in die huis!).  Sy klim voor en boetie agter.  As sy bo sit gryp sy boetie agter haar rug vas en trek hom op sy maag af!  Hy love dit!

Hy raak nou baie oulik.  Klim self op en draai in sittende posisie, bly regop as hy afgaan.  Regtig te oulik en ons klap hande en hy is te trots.  Besluit natuurlik om dit 'n stappie verder te vat en nou staan hy bo op die slide en dans en klap hande!  Die helletjie weet hy mag nie.  As ek opstaan gaan sit hy vinnig en gly af.  Hy weier ook om op te klim as ek daar staan.  Dan hardloop hy weg en kruip agter die bank weg.  As hy sien ek gee pad kom hy uit met hierdie moewiese stoute grynslag op sy bakkies en begin klim!  Staan Mamma op klim hy net daar af en hol weer weg.  Staan Mamma nie op nie staan hy op die bopunt van die slide en dans!!  Ek weet spring is volgende.  Dis hoe hy operate!  En nee, weereens nie iets wat hy by my, Pappa of sy doodrustige sussie gesien het nie!!

Gisteraand nadat ek 'n storie oor feetjies moes uitdink, bybel lees en 'n bybel liedjie sing, bid sussie vir ons:
Liewe Jesus, dankie dat jy vir my 'n Mamma gemaak het en 'n Pappa gemaak het en 'n Boetie gemaak het en 'n Sussie gaan maak.  (Nice try, Mamma het gelukkig 'n verskriklike dik vel!)  Dankie vir my huis en twee badkamers en twee toilette.  (Dink julle die huis soek ding beinvloed my kind se sin van waardes!)  :-) 

Wednesday, 21 September 2011

Leeus, spoke en Bloubolleweeste.....

Ons het die naweek die kinders Magaliesberge toe gevat.  Wat 'n fees.  Ons almal het dit ongelooflik baie geniet.  Ons het op 'n plaas gebly in die oulikste huisies.  Lekker ruim met groot groen grasperke en 'n swart labrator (Mokke) wat mal was oor die kinders (en hulle oor hom!)

Wihan se senuwees was die grootste deel van die naweek aan flarde.  Eers bespring die kat hom by Goblin's cove, toe is hy doodbang vir die groot standbeeld van die tande, toe is dit al die nou gangetjies en geverfde goedjies in die restaurant....  Shame.  Speel so bietjie met die sand, draai om en skreeu.  Huil klaar.  Speel so bietjie in die sand, draai om en skreeu.....  Saterdag by Maropeng is ons eers deur die tonnel van evolusie met die bootjie.  Hierdie keer was Zellie histeries.  Wihan het net baie styf vasgehou aan my arms.  In die museum self klim hy ewe dapper die trappos op boontoe, klim is mos sy middelnaam, en kyk vas in 'n skedel met 'n groot grynslag op sy gesig.... slat amper gat oorkop en gil soos 'n dogtertjie!!!  Nog 'n paar grys hare by.  Dit is verskriklik oulik daar.  Vrek duur, maar regtig goed in stand gehou.  Sal graag die kinders weer wil vat as hulle ouer is en kan verstaan waaroor dit gaan.  Daar is tot skedels en allerhande bene en goeters in die sandput begrawe wat die kinders kan uitgrou.  Regtig baie oulik.

Wihan het Sterkfontein grotte misgeslaap.  Hopeloos te vaak vir die avontuur ook nog.  Francois is af met Sussie.  Sy reken my:  "Ek was nie eers bang nie, want die oom praat so "Englipsh" en dan verstaan ek nie eers as hy van die spoke vertel nie!"  Klink dit nou nie baie na 'n woord waarop haar oupa Japie vreeslik trots sal wees nie!!

Sondag is ons Lion and Rhino park toe.  Baie diere naby aan die pad - regtig oulik vir die kinders.  Jy sien heeltyd iets en hulle raak nie gefrustreerd nie.  Daar is 'n groot verskeidenheid diere - elande, blouwildebeeste, swartwitpense, springbokke, gemsbokke, baster gemsbokke, tsessebes, leeus, luiperds, jagluiperds, wit leeus, wilde honde, volstruise....  Kort-kort is daar iets om na te kyk (in Wihan se geval om na te ha ha...  met gepaste gepunte vingertjie natuurlik.)  O,ja en sussie het die meeste gehou van die Blou bolleweeste! 

In die creche waar die kinders met die baba diertjies kan speel het alles besluit Wihan is net die regte bite-size vir 'n maaltyd.  Die leeuwelpies (2 maande oud), tierwelpies (4 maande oud) en die Maribu stork het gegaan vir hom.  Die voël was die ergste, reguit vir sy oë gegaan.  Gelukkig was ek naby aan hom.  Ek het nie gedink hulle sal sommer 'n kind aanval nie.  Die gidse sê dit maak nie saak hoe mak hulle is nie, enigiets kleiner as hulle self is prooi.  Gisteraand kyk ons National Geographic...  Wihan lag vir al die diere en wys vingertjie en ha-ha en as daar 'n leeu opkom gee hy een gil en begin huil!  Hy is nog nie reg vir diepste donker Afrika nie, ne!!

Op pad terug Maandag het ons nog vir ou laas kerse gemaak by Blauwbank general stores.  Regtig nice en spotgoedkoop.  Sal enige tyd weer soontoe gaan.  Ek sal heeldag daar staan en kerse dip.  Tot Pappa het enetjie gemaak! 

Zellie was omtrent in trane toe ons moes ry.  Wou net vir Mokke saam bring huis toe, want sy het nie eers so 'n groot hond nie...

Ek moet foto's by sit...  sal dit doen sodra ek afgelaai het.

Monday, 12 September 2011

Tien jaar later

Ons kyk gisteraand na 'n dokumentêr oor 11 September 2001.  Dis mos engels en sussie sal nie verstaan wat gebeur nie.  Verkeerd....  Na so 'n rukkie val sy weg met "as ek die vliegtuig so sien kom, dan sê ek vir my mamma en dan sê ek vir my pappa en dan sal ons baie vinnig hardloop voor dit brand en voor die rook kom en dan is ons ver weg en dan sal ons nie eers so seer kry as die slegte mense kom en hulle skiet die gebou en dit brand so en en en en en ..... "  Nou-ja, toe kyk ons die res van die aand Tom en Jerry en slaap gisteraand met die gordyne oop!  Sy is baie bang, maar sal nie meer bang wees as ek die gordyne oop maak nie.  (Kon nie gisteraand verstaan hoekom nie, maar dink vanoggend dat sy waarskynlik dink dat sy dan die vliegtuig sal sien aan kom...  :-(  ) 

Mens kan darem maar nie hulle vermoë om te verstaan en in te neem onderskat nie. Dit is nogsteeds 'n gebeurtenis wat te groot en te tragies is om te verwerk of op te som.  Elke keer as jy 'n program daaroor kyk is daar nuwe feite wat jou skok.  Beeldmateriaal van iemand wat in die Pentagon gebrand het, die weermagoffisier wat praat van die soldaat met altwee oë uit wat hy uit die puin gered het, die man wat van bo die verdieping van impak kon vlug met 'n erg beseerde vrou terwyl meer as 200 mense by hom verby is op pad boontoe waar die helikopters hulle sou kom red... :-(

En tien jaar later gaan my kind wat toe nog nie eers gebore is nie angsbevange bed toe omdat ook sy nie kan verstaan hoe 'n mens so sleg kan wees nie...

Ek en Francois praat gisteraand so oor die mense wat daar was met kinders en Zellie wat so aanhou dat ons haar sou beskerm het as sy daar was.  Hoe verskriklik moet dit nie wees om in so 'n tipe situasie te wees en jou kind nie te kan beskerm nie.  Wat doen jy in daai vliegtuig met jou kind as jy weet hy gaan neerstort.  Terwyl almal huil en hy/sy doodbang aan jou vasklou vir beskerming.  Soos hy maar gewoond is om te doen as die weer swaar is of die hond hom wil byt of hy 'n nagmerrie gehad het...  Wat doen jy in situasie waar jou kind angsbevange is en jy weet hierdie keer het jy nie die antwoord of die vermoë om dit beter te maak nie.  Bring trane in my oë en 'n knop in my keel wat ek nie weggesluk kry nie. Kan net bid:  "Here, asb moet my nooit magteloos maak as dit by my kinders kom nie..."  Ek dink nie 'n mens verstaan dat jy vir iemand liewer as jouself kan wees totdat jy kinders het nie...

Friday, 9 September 2011

Tot hare sny is drama!

Hierdie laaste week is verskriklik met altwee kinders!  Wihan is siek - alweer.  Wihan is op antibiotika - alweer.  Wihan huil oor alles - alweer.

Franzél tjop af omdat hy al die aandag kry en dan begin sy ongelooflik emosioneel raak en H U I L  O O R  A L L E S....  En ek meen ALLES!  Gistermiddag by die skool gehuil omdat ek haar kom haal en nie Pappa nie.  By die dokter gehuil omdat boetie dokter toe gaan en nie sy nie.  By die huis gehuil omdat Pappa die hond geslaan het.  Gehuil omdat die hond haar 'gebyt' het.  Gehuil omdat sy nog nie kos gekry het nie.  Gehuil omdat ek gesê het sy moet haar kos eet.  Gehuil omdat sy raas gekry het omdat sy nie haar kos geëet het nie.  Gehuil omdat boetie aan haar gesig gevat het (hy't my geslaan, Mamma whaaaaaaaaa!)  En ek meen hartverskeurend, snot-en-trane, ugly cry huil.  Die gesiggie trek so, dit lyk of sy van rubber gemaak is.  Ek moet nog 'n foto neem!  Dan probeer ek haar kry om te lag en dan huil sy eers.  En dan lag sy bietjie en dan huil sy nog harder!  Ek was naderhand lus en begin loop en draai nooit ooit weer om nie!

Vanoggend probeer ek nou regtig my bes om nie die kraantjie oop te draai nie.  As sy eers begin het is daar nie einde nie!  Besig om haar hare te vleg het ons die volgende gesprek:
Franzél:  "Eiiiinnnnnaaaaaa,  jy maak my seer, kyk hoe loop my trane nou."
Mamma:  (Dink, net nie trane nie, net nie trane nie, net nie die flippin trane nie.)  Sê:  "Toemaar my skapie.  More gaan ons jou haartjies sny en die tannies gaan dit was en droog blaas en dan gaan dit baie makliker kam." 
Franzél:  "En hulle gaan dit kleur ook."
Mamma:  "Nee, net Mammas kleur hare."
Franzél:  "Whaaaaaaa....... maar ek hou van Pienk hare.  Ek wil so bitter graag pienk hare hê!!!!!  Hoekom mag ek nie eers pienk hare hê nie??!!!"
Mamma:  "Het jy al ooit 'n dogtertjie gesien met pienk hare"
Franzél:  "Nee.  Hoekom mag ek nie die eerste ou enetjie wees nie!!!!????  Whaaaa....."

Grrrrrrrrrrrrrrrrrr.   En toe kry sy koud en toe is daar nie 'n pleister vir haar eina nie en toe vat Wihan haar snoepiegeld en toe is ons in trane skool toe en toe hardloop sy vir die derde keer hierdie week agter my aan toe ek by die klas se deur uit stap...  (Ja, in TRANE!)

Hulle sê jou dogtertjie op 5 is jou dogter op 16.  Dit behoort heel goed uit te werk.  Sy gaan te besig wees om te huil om haar te steur aan seuns, dwelms, drank ......... 

Ek moet net hierdie naweek tyd maak vir iets spesiaals saam met haar doen.  Dit is nie normaal nie.  Kan nie wees nie!

Tuesday, 6 September 2011

Mamma, het jy geweet.....

Franzél:  "Maar, Mamma, het jy geweet **** het gister by die skool chilli sous gekry?"
Mamma: "Hoekom?"
Franzél:  "Want hy het vir ons gesê sy pa het vir hom gesê hy gaan hom dood b*sem....."

Eina...  Wonder hoeveel kinders het gisteraand met die storie by die huis aangekom!! 

Dit is lekker as mens sien iets wat jy in hulle koppies probeer inprent het, het gewerk.  Ek sit al vir haar 'n hoed in skool toe en smeer sonroom vandat sy kon loop.  Meestal het sy hom op as ek by die skool kom, partykeer vergeet sy.  Vandag het hulle weer begin swem.  Op pad by die deur uit met haar sak vra sy ek moet asb haar hoed onthou en vir haar sonroom in haar sak sit sodat sy weer kan aansmeer as sy klaar geswem het.  Want, "Dis nou lente en ek wil nie hê my neusie moet bloedrooi brand nie..."

Ons is 'n treë nader aan ons doel.  So ver gebeur die dinge teen 'n behoorlike spoed.  Hopelik is dit 'n teken dat ons die regte ding doen en dat ons almal uiteindelik daarby sal baat.

Tuesday, 23 August 2011

"Your son..."

Wihan was gister siekerig en ek het hom dokter toe gevat.  Toe ek terug kom by die werk vra een van my kollegas "How is your son doing?".  Dit is darem maar 'n lekker gevoel.  My seun en my dogter...  Partykeer moet ek eers 'n rukkie stilsit en van voor af gewoond raak aan die idee dat die Here hulle vir my gegee het.  Sommer maar net...  Partykeer as ek so sit en werk is dat asof ek skielik een van hulle ruik of voel hoe hulle in my arms voel en dan verlang ek vir 'n oomblik so verskriklik na hulle.  As ek hulle in die middag gaan haal drafstap ek die stukkie tot by die hekkie en my hart voel soos wanneer jy jonk verlief is op iemand en op pad is om die deur oop te maak.  (Ja, hulle maak my moedeloos moeg ook en dis blerrie harde werk, maar nogsteeds...  ek sal sê dis 80/20 vir die goed en die sleg.)  Ek was nou die dag by toe iemand oor die foon vir haar tiener sê dat sy nooit kinders sou gehad het as sy geweet het hoe dit sou wees nie...  Mag ek nooit ooit so iets vir hulle sê nie, selfs al is dit in 'n oomblik van kwaad of moedeloos wees.  Sal ek hulle teruggee en die lewe sonder hulle vat... NOOIT.

Monday, 22 August 2011

Ai tog, die Trappie huis!

Die huis is gister middag geskou (en dit het BAIE goed gegaan - hou duime vas).  Gisteroggend tussen al die hoo-hah om die huis skoon te maak en die tuin aan die kant te kry en bespiegel oor hoeveel mense gaan kom en of ons 'n koper gaan kry sit Zellie by die eetkamer tafel met haar spaarvarkie en pak hopies geld.  "Toemaar Mamma, ek sal my varkie se geldjies by sit, dan koop ons die trappie huis!"

Toe die agente die middag daar kom storm sy dadelik op hulle af en sê baie trots:  "Julle, ek was flippin siek gewees."  Aarde sluk my in.  Dit kon seker erger gewees het, né??  Né??
Gistermiddag toe ons terug kom by die huis kom die agent na haar toe.  (Dit is 'n ouerige oom en hy is baie erg oor die kinders.)  Zellie het net so vyf minute in die kar geslaap en sê sommer dadelik vir hom:  "Oom, ek is nou bitter kwaai."

Na ons update van die agente het ons die volgende gesprek:
Mamma:  "Wil jy en boetie saam in 'n kamer slaap in die trappiehuis?"  (Dis massiewe kamers, hulle sal verdwaal op hulle eie!)
Franzél:  "Ja.  Maar gaan ons nou in die donker ry?  Ek hou nie daarvan om in die donker te ry nie!"
Mamma:  "Nee man.  Julle gaan volgende jaar saam in 'n kamer slaap in die trappie huis."
Franzél:  "Maar ek en boetie sal mos bitter baie vaak word!"
Mamma het nou nie heeltemal bedoel julle sal dan eers weer slaap nie, maar toemaar!  Klein treëtjies!

Nou nog net so bietjie geduldig wees, hoop, bid en dalk trek ons einde November na ons trappie huis toe!

Monday, 15 August 2011

Toemaar Mamma....

"Ek gaan vir my pienk Mamma vra om strikkies aan al my panties te sit, want dan weet ek ook hoe om dit aan te trek..."  Sal die bestelling insit by die pienk Mamma.  Ons weet mos nou wie dit is!!

Hierdie huis-soek-en-dalk-trekkery werk behoorlik met haar ou koppie.  Laas week praat ons in die kar oor die droomhuis en die nagmerrie-prys.  Besluit toe ons sal eerder nou bietjie meer betaal vir wat ons regtig wil hê as wat ons oor 'n paar jaar weer kostes moet aangaan om te trek.  Al moet ons dan nou 'n rukkie sonder vleis bly. (Ons almal sê dit, né!)

Fast forward na Maandag.  Ek gaan Spar toe met die kids en koop brood en melk.  Op pad terug huis toe besef Zellie skielik ons het nie vleis gekoop nie en sy FLIP.  "Mamma, ek wil vleisies hê.  Ek is honger vir vleisies."  Ek moes omtrent verduidelik dat daar vleis by die huis is.  Die feit dat sy nooit ooit ooit ooit ooit vleis eet nie het glad nie by haar opgekom nie.  Uiteindelik sit sy so terug teen die sitplek en sê:  "Ek dink ons moet maar die trap-huisie koop en dan bid ons maar vir die Heretjie tot ons weer vleisies kan koop..."

Gisteraand in die bad begin sy uitvra oor wat dan nou eintlik van ons huis gaan word as ons in 'n ander huis gaan bly?  Ek verduidelik dat ons nou naby Jaco en Michelle gaan bly en dat sy dalk na 'n nuwe skooltjie toe gaan.  "Gaan Jaco en Michelle in ons huisie kom bly?"  "Of ons kan by die damhuisie ook gaan bly?  Ghaaaa??" (Het julle nou nog nie eers daaraan gedink nie!  Dis mos ook 'n opsie!)  Die damhuisie is die woonstel in Margate waar ons op verlof was in Mei-maand!!

Ek sê net weereens... kyk wat jy voor die kinders sê...

Friday, 12 August 2011

Ma se kind

Wihan soen net sy Mamma op die mond!  As Pappa vra vir 'n aah hou hy vir hom sy wang.  As enigiemand anders vra vir 'n aah hou hy vir hulle die wang.  As Mamma vra vir 'n aah kry sy 'n nat-oop-bek-vol-op-die-mond-soentjie!!  Mamma se slim kind.

Hy raak nou te flippin oulik.  Groei uit sy klere uit.  Elke broek wat ek vir hom aantrek lyk soos 'n knie-broek.  Klim die slide self.  Raas en babbel, maar sê nog niks meer woorde nie.  Hy sê darem al baba ook!  Hy het laas week 'n ooginfeksie gehad.  Eina.  Omtrent gesukkel om daarvan ontslae te raak.  Moes op die ou einde 'n voorskrif kry vir antibiotiese salf.  Gelukkig lyk dit darem vandag of die salfies werk.  Saam met die hou op die wang van self van die muurjtie af probeer klim het dit behoorlik gelyk of hy aangerand word.  Dr du Plessis het amper van sy stoel af geval toe ons daar instap!!  Ons wag maar op die sypaadjie vir die welsyn om hom te kom wegvat.  Kan nou nie meer lank wees nie...

Tuesday, 2 August 2011

Die week se Franzél-ismes

Hierdie kind se redenasie-vermoë verstom my al hoe meer!  Ek vergeet so baie van die goedjies wat sy kwytraak.  Mens lag daaroor en vergeet daarvan.  Ek probeer nou 'n punt daarvan maak om dit dadelik neer te skryf.

Sondag sit sy by die kombuis-tafel saam met Ouma:
Franzél:  "Ouma, weet jy wat is vir my die heel mooiste woord?"  "Sjokelade...."
Ouma:  "Dit raak nooit 'n lelike woord nie."

Maandagaand raas ek met haar, omdat sy nie vir boetie met haar blokkies wil laat speel nie.
Franzél:  "Ten minste laat ek boetie met my goed speel wanneer ek NIE daarmee wil speel nie..."
Mamma is vreeslik dankbaar daaroor, my kind...  :-)

Maandagaand in die bad:
Franzél:  "Hierdie kossies was nou regtig baie sleg."
Mamma: "Ek is baie jammer om te hoor.:
Franzél:  "En ek is baie lief vir jou ook..."

Maandagaand is ons besig om te bid.
Mamma:  "Liewe Jesus, dankie vir Mamma en Pappa en Boetie..."
Franzél:  "Ja en vir Sussie."
Mamma:  "En vir Sussie.  En dankie vir kossies."
Franzél:  "Nee, nie vir kossies nie."

Dinsdagoggend besig om haar pap te eet...
Franzél:  "Ek het vir al my maatjies gesê ek het vir hulle 'n grooooot verrassing!  Hulle gaan op my verjaarsdag koek kry en suigstokkies en sweeties."
Mamma:  "Maar Zella, jy het klaar verjaar.  Jy verjaar eers weer volgende jaar."
Franzél:  "Ja, ek weet, maar ek gaan eendag weer verjaar."

Dit is net wat ek kan onthou.  Elke tweede sin is deesdae 'n wysheid om op te teken!

Thursday, 21 July 2011

Een van daai ma's

Jy weet, die soort wat in die winkel is met kinders wat buite beheer is, haar ignoreer en jou laat wonder hoe die Goeie Vader ooit vir haar twee kosbare bloedjies kon gee terwyl daar soveel ma's is wat graag kinders wil hê en sal weet hoe om hulle te dissiplineer....  Wel, dit was gister ek.

Wihan wil met alle mag self in die winkel loop.  En dan loop hy reguit na die rak toe met die glas medisynebottels en begin afpak terwyl Zellie 'n maatjie raakloop en hulle twee net daar jagertjie tussen die rakke begin speel en luidkeels skreeu.  Op pad na die kasregister met 'n skoppende skreeuende Wihan op die heup terwyl ek drie sakke medisyne (dan drug ek hulle ook nog!!) in my ander hand balanseer en probeer keer dat Wihan dit in die hande kry en stukkend smyt hoor ek Zellie skaterlag, draai om en sien hoe sy die mense na hartelus met badsponse gooi......  

Heel verleë sê ek toe ons uiteindelik voor kom vir die persoon agter my wat geamuseerd staar na Zellie wat elke sjokelade op die rak probeer om te kyk of ek weer gaan nee sê en Wihan wat alles afgooi en kliphard lag - "Hierdie is 'n moeilike ouderdom - hulle verstaan nog nie nee nie."  En haar antwoord - "hulle verstaan baie goed."  Dus weet ek duidelik net nie hoe om die boodskap oor te dra na my kosbare krosie nie!!

Agterna in Spar het Wihan die brood ses keer uit die trollie uit gegooi, Zellie het op sy hand getrap, hy het blou moord geskreeu, Zellie het geskreeu omdat sy nie die strokie mag teken nie en wine gums in die trollie ingesmokkel (HOE?). 

Ek weet nie of die mense wat my agterna gestaar het na my gekyk het met simpatie of verwyt in hulle oë nie...
So een keer 'n maand sweer ek hulle gaan nooit weer saam met my dorp toe nie.  Dit hou gewoonlik so twee dae en dan het ek geen keuse nie!

Storietyd

Gisteraand besluit Zellie sy moet vir my 'n storie lees.  Maak die handjies ewe soos 'n boek en spring weg:
Enige dag lank gelede was daar 'n Rooikappie (ghaaaaaa!met die handjie oor die mond)
Sy gaan na haar ouma toe so (lampie-lampie-deee-lampie-lampie-daaai)
Sy vra ouma hoekom is jou ore en jou hande so groot
En toe sluk die wolf haar in en haar Pappa sny sy keel af en toe is sy weer lewendig.
Uit uit my storie is uit.
Ek waag dit om 'n vragie tussenin in te glip en word ewe ernstig vermaan om haar nie te pla nie, want "ek lees vir jou van die Bybel".   FAIL!

Natuurlik word Mamma toe nou baie bang vir die wolf en Franzél verander die storie.  Haal so ewe 'n ander boek van die kas af en begin lees:
Enige dag lank gelede was daar 'n Rooikappie en toe kruip sy onder die bed vir die wolf weg en toe kom haar Pappa en sny sy keel af en  toe het hy nie eers vir Rooikappie geëet nie!  Moooiiiiii!

En ons dink ons is slim as sy per ongeluk iets op tv sien wat sy nie moet nie en ons verduidelik, dis nie regte bloed nie, dis tamatiesous.  Ons almal dink hulle sien nie reg deur ons nie, ne!

O ja en het julle geweet 'n maatjie by die skool het 'n "Platanna" medalje skool toe gebring.  Dit het my 'n goeie halfuur gevat om uit te vind dit is eintlik "Hanna Montanna!"

Sunday, 17 July 2011

My Pienk Mamma se naam is.....

Vrydagoggend is Pappa Pretoria toe met die bakkie om voorraad te gaan haal.  Met die stakings sukkel hulle om voorraad deur te kry en almal help waar hulle kan.  Toe Franzél daai bokwa van 'n bakkie sien is daar nie 'n manier wat sy skool toe gaan en Pappa los om al die pret te hê nie.  Op die ou einde is sy met haar blommetjie hoed, "cape" en serp voor in die bokwa weg Pretoria toe!  Eers bietjie by Ouma Santie gaan kuier en toe die res van die dag saam met Pappa rondgery.  Om te sê sy was die aand doodmoeg teen die tyd wat sy by die huis gekom het is lig gestel!

Saterdag loop ons in die "mall" en skielik sê sy uit die bloute uit:  "Weet jy wat is my pienk Mamma se naam?  My pienk Mamma is Ouma Santie."  Uiteindelik het die Pienk Mamma wat vir haar alles gee wat sy wil hê en waar alles moontlik is 'n naam!  Wat 'n kompliment vir Ouma Santie!

Monday, 11 July 2011

Sago poeding

Wihan het Sago poeding ontdek en dink dit is die lekkerste goed wat hy in sy lewe nog geëet het.  Gisteraand haal ek die bak uit die yskas uit en hy kom onmiddelik aangestorm en begin "uh-uh-uh en vingertjie wys).  Toe ek die bak in die mikrogolf sit dink hy seker dit is nou vir altyd weg, val op sy ruggie neer (saggies! sit eers op die boudjies en gaan lê dan) en skreeu verdrietig.  Spring op, stamp die voetjies en hop op en af.  Dis net trane en bloedrooi wange, want hy gaan nooit ooit weer van daai poeding kry nie!

Gelukkig het ek en ouma 'n resep uitgewerk wat maklik en vinnig is.  Dit sal dan seker stapelvoedsel in ons huis word! 

Thursday, 7 July 2011

'n Beertjie!

Wihan het na 'n nuwe klassie toe geskuif by die kleuterskool.  Hy is nou 'n Beertjie en nie meer 'n Pikkewyn nie.  Hulle is 8 kinders in die klas wat almal nou net begin loop het.  Te oulik om hulle so saam te sien waggel op die speelgrond!  Die juffrou is baie beindruk met ons groot man.  Sy sê hy is die soetste, maklikste ou seuntjie wat sy nog in haar klas gehad het.  Hy het die eerste dag net so bietjie rondgekyk wat maak die ander en dan saam ingeval.  As hulle op die matrassies lê om te slaap, soek hy die oop enetjie vir homself uit.  As hy sien hulle slaap elkeen met 'n beertjie, staan hy gou op en gaan haal syne.  As hulle op stoeltjies sit en eet sit hy ewe grootmeneer langs hulle.  Hy is baie gelukkig en tevrede by hulle.  Die eerste aand by die huis het hy sommer net oor alles gelag dat jy net die vier tande sien!  Hy wil tog so graag besig gehou word en hulle speel dan tot buite en alles!

My groot seun met sy geel en blou tekkies wat self klas toe loop...  Ek sal 'n foto van hom kry met sy skoene (wat tot aan sy voete bly!) voor hulle vodde geloop is!

Sunday, 26 June 2011

Wihan se partytjie

Saterdag 25 Junie 2011 - Wihan se partytjie begin 14:00 die middag.  Tien maatjies is genooi (een dogtertjie!  niemand het dogtertjies nie, ne?) en die voorspelde maksimum vir die dag is 10 grade!  Kanselleer die springkasteel, hardloop die dorp vol en reël 'n "sandart" kit.  Dit het toe heel goed afgeloop.  Hy het sy partytjie baie geniet al was hy maar siekerig en die res van die dag mislik verby!  Hy het tot saam met die groot maatjies rugby gespeel en 'n bloukol op sy kop gewen as bewys van deelname...

Die koek was baie mooi, maar so bietjie verkeerd om - kyk maar of julle kan sien wat ek bedoel!

My groot seun!



Die foto's is met 'n selfoonkamera geneem, omdat ons natuurlik kamera-probleme moet hê wanneer ons regtig foto's wil neem!! 

Geluk my seun - dankie vir een jaar in ons lewens.  Jy is pragtig.

Monday, 20 June 2011

Moeilike besluite...

Dit is nogal 'n moeilike speletjie om twee kinders se hartjies op te pas...  Naweek was Ouma-hulle hier vir boetie se verjaarsdag.  Boetie kry geskenke, almal sing vir boetie, almal tel vir boetie op...  Zellie raak al hoe stiller, verdwyn en ek kry haar in die sitkamer agter die bank met 'n bakkie vol koekies...  Hoe probeer jy keer dat mense vir die oulike baba seuntjie al die aandag gee?  Hoe keer jy dat jy te veel keer en hy nie die aandag kry wat hom toekom nie?  Ons het vir Wihan vroeg geleer om op sy eie aan te gaan ter wille van oorlewing.  Ek is baie alleen met hulle en hy moet kan sit en speel as ek kos maak, sussie se hare kam, grimering aansit ens.  Sy was maar drie jaar oud toe hy gebore is en het vir seker haar stukkie aandag ook nodig.  Hy is 'n maklike seuntjie en dit is nie 'n probleem nie.  Oor die algemeen sal ons naweke sommer 'n matras op die grond gooi en dan cuddle ons al vier saam.  Ons is so ingestel daarop dat Zellie nie uitgesluit voel nie, omdat ons bang is dat dit haar verhouding met Wihan kan skade aandoen.  Wihan het uit die aard van die saak nie dieselfde hoeveelheid cuddle tyd wat Zellie gehad het nie, maar ek dink nie ons doen hom skade aan nie.  Dit werk goed vir ons.  Hulle is altwee gelukkig, speel 'n hond uit 'n bos uit en daar is geen jaloesie nie.  In die aande maak ons beurte.  Zellie by een in die bed en Wihan by die ander een.  Ons hele lewe draai op die oomblik daarom om hulle altwee ewe gekoester te laat voel.

Wat doen jy as daar ander mense kom en jy sien jou dogtertjie ineenkrimp en wegkruip omdat sy nie meer die "een" is nie.  Wel, as jy ek is, probeer jy intreë - jy vra hulle moet vir boetie neersit, hy is gewoond om self aan te gaan. (?)  As jy in die winkel loop en Zellie vertel vir almal wat verbykom "hierdie is my ouma"  en huppel met haar hand in ouma s'n dra jy maar eerder die oulike babatjie self en sê "nee, hy's reg hier by my" as die ouma hom wil vat...  Dan lê jy in die nag wakker en wonder of jy besig is om droog te maak.  Nou is dit maklik, boetie is dom en Zellie is nog klein en verstaan bitter baie mooi wat aangaan.  Ek dink die speletjie gaan nog baie moeiliker raak.  Later sien jy hoe sussie op die bank sit en blokkies bou saam met ouma.  Ouma roep vir boetie en as hy naby kom skop sussie na hom...  :-(  Almal raas met sussie en die ogies raak troebel...  Hierdie ma-wees ding is moeilik man.  Ek wens ek kan in hulle hartjies inprent dat hulle almal ewe spesiaal is.  As sy net kon onthou hoe daar oor haar gekloek is toe sy 'n babatjie was, né...   

Die aand is al die mense huis toe en dit is net ons vier.  Skielik speel sussie en boetie die gange vol.  Hy lag uit sy magie uit vir sy sussie en hulle jil en gil en sy gee hom drukkies en vertel vir hom hoe cutiful hy is.  Die hele naweek het dit gelyk of sy glad nie bewus is van hom nie.  Asof sy hom heeltemal ignoreer.  Ek wens mense kon die deel van hulle tweetjies sien wat ons sien.  Wanneer daar nie kompetisie is nie en sy nie voel sy moet vir haar stukkie aandag veg nie.  Wanneer hulle sommer net ontspan en boetie en sussie is.  Dan raak my hart weer rustig en ek dink "Ons doen tog dinge reg..."  Ek hoop regtig so...

Wednesday, 15 June 2011

'n Kind EN 'n Baba!

Franzél vanoggend (weereens met haar oë skaars oop terwyl haar neus onder die duvet uitloer!)
"Mamma, onthou jy toe die blokkies so op my Pappa se kop geval het en ek was so bang en toe was ek by Liewe Jesus.  Toe kom jy en Pappa en sê vir Liewe Jesus julle wil 'n kind hê, want julle het nie 'n kind nie.  Toe sê julle so "Wow, 'n kind EN 'n baba!"  Dit is omtrent woord vir woord aangehaal!

Wow, 'n kind en 'n baba.  Hoe gelukkig is ons nie...

Die blokkies op die kop val verhaal het gebeur toe Pappa die jolly jumper aan die "arch" in die sitkamer wou vasmaak.  (Nadat Mamma gesê het dis nou 'n slegte idee!) en ses stene losgebreek en op sy kop geval het.  Dit was drie dae voor Wihan se doop en ons het 'n mooi foto waar dit lyk of Harry Potter sy baba doop!  Sal die foto later opsit as bewys!  En ja, Franzél was reg agter hom.  Ek het haar net op daai oomblik geroep en sy het so twee treë weggestap.  Wil nie eers dink wat kon gebeur het nie.

Friday, 10 June 2011

Is dit 'n mooi woord

Franzél vanoggend (eerste ding wat sy sê terwyl haar neus nog net onder die duvet uitsteek en haar ogies nog bot toe is):  "Mamma, shit is 'n mooi woordjie, né.  Ek mag dit maar by my skool sê?" 
Mamma:  "Nee, dit is nie 'n mooi woordjie nie.  As jy dit by die skool sê kry jy chilli sous." 
Franzél:  "Nou maar dan moet Mamma dit asseblief nie meer so baie sê nie."

Hoe gaan ek ooit deur die dae kom as ek nie eers meer shit mag sê nie!!


Thursday, 9 June 2011

Otto


Zellie het 'n teddie-hond wat ons vir haar gekoop het toe sy omtrent een was.  Die hond gaan absoluut orals heen saam met haar.  Was al drie keer by die see, in die wildtuin (meer as een keer), Pretoria, Klerksdorp - noem dit.  Otto moes al met die koerier gepos word toe ons hom iewers vergeet het.  Daardie hond het "mileage!"  Hierdie foto is geneem toe sy hom seker net gekry het.  Ek gaan more 'n foto by sit van hoe Otto nou lyk!  Dit is basies nou 'n skroplap met 'n geskeurde pienk lint om die nek, maar hy is al teddie wat saak maak...

Cousin soup

Dit vat nie 'n "rocket scientist" om te sien dat nie een van die niggies gelukkig was met nefie se teenwoordigheid by hulle in die bad nie.  Franzél bad elke aand van haar lewe saam met hom, maar as daar 'n alternatief is, is hy nie welkom nie!  Kyk net hoe pla dit boetie dat hy onwelkom is!!

Tuesday, 7 June 2011

Jy is so "cutiful"

As Franzél oorweldig word deur ongelooflike liefde vir haar baba boetie kyk sy diep in sy oë en sê vir hom "jy is te cutiful".  Ons lag al lankal vir die woordjie wat gewoonlik gevolg word deur 'n verklaring vir waarom hy so dierbaar is bv.  ...as jou ogies so blink of ...as jy so mooi loop of ...as jy so lekker lag. 

Ek gaan kyk nou op google of haar woordjie uniek is en kom op die volgende af in "Urban dictionary":   "Cutiful : The perfect combination of cute and beautiful. Only applied to those who have these qualities in excess." 
Perfek, né...  Watter woordjie kan nou meer gepas wees?

Monday, 6 June 2011

Oupa en ouma met die kleinkinders

Die foto geneem op Saterdag 28 Mei 2011.
Ons het twee dinge by die kleinkinders in ons familie geleer:
1.  Soos julle kan sien is dit onmoontlik om al vyf kleinkinders op een slag by mekaar te hê.
2.  En dit is onmoontlik om vier kinders (of selfs net meera s een kind!)  te kry om gelyk na die kamera te kyk!

Zellie was omtrent twee jaar oud toe die volgende gediggie haar gunsteling was om vir haar oupa Japie (op daai stadium het sy hom nog baie liefdevol oupa Jampie genoem!) op te sê:

My Oupa het 'n bles kop
daar sit 'n vlieg daarop
ek gee die vlieg 'n harde hou  (natuurlik met die nodige klap op die kop)
daar val my oupa flou (gevolg deur die nodige gegiggel)

Hoe wens ek nou ons het dit opgeneem.  Ek glo nie ons het ooit daarby uitgekom nie...

Hoe vinnig vlieg die tyd.  Kan nie glo dit is my ma en pa met hulle kleinkinders nie...






Die Pienk Mamma se huis

Franzél -  Jy het nie verbeeldingsmaatjie nie, jy het 'n hele verbeeldingsgesin.  Alles wat jy hoop met jou sal gebeur en al die wonderlike dinge wat jy graag sal wil ervaar gebeur by die pienk mamma se huis.  By jou pienk mamma se huis het jy al op 'n dinosorus gery.  Jou pienk mamma gee net vir jou lekkergoed om te eet, nie groente nie.  Die pienk mamma se groente is baie lekker (natuurlik lekkerder as myne!)  Jou boetie by jou pienk mamma is nie 'n baba nie, hy is mooi groot en kan met jou speel.  Jy het twee groot sussies en nog 'n sussie op pad by jou pienk mamma.  Die lys is eindeloos.  As mens mooi luister kan jy alles wat jou pla uitvis deur na hierdie verhaaltjies te luister. 

Jou pienk mamma kom haal jou halfdag sodat jy nie hoef te slaap by die skool nie.  Jou pienk mamma is altyd vriendelik en nooit kwaai met jou nie.  Jy slaap elke aand by jou pienk mamma in die bed en hoef nie na jou eie kamer toe te gaan nie.  As ek jou vra of jou pienk mamma baie mooi is antwoord jy "Ja, sy is baie mooi.  Sy het presies so gesig soos joune, hy is net pienk."  By hierdie pienk mamma woon julle in 'n tent langs die dam, maar dit is wonderlik.  By hierdie huis het jy al op 'n draak gevlieg, al 'n feetjie gesien, jy kan self swem sonder vlerkies en lekkergoed groei aan bome.  Ek wonder hoe lank jou pienk mamma se huis nog vir jou sal bestaan?  Sal jy ooit eendag kan onthou hoe jy altyd soontoe gegaan het toe jy nog klein was...

Friday, 3 June 2011

Die Begin

Ek het besluit om te blog net vir myself en eendag vir my kinders om al die klein sê-goedjies en herinneringe te bewaar.  En sodat julle eendag kan terug kyk en sien ek het saam met julle gelag, gehuil, gehoop, gevoel.  Dat julle sal weet dit was nie net werk om julle groot te maak nie, maar 'n helse voorreg en dat julle betekenis kom bring het in my lewe.

My alles - Prinses Fiefie (Franzél) is nou 4 jaar en 4 maande oud en Peuter Potter (Wihan) is oor 3 weke een. 

My Zellatjie - Jy is vandag 'n bekoorlike, kostelike "drama-queen" en trek mense aan soos 'n magneet.  Laas week by die dokter wou altwee ontvangsdames jou net hê.  Jy huil met die druk van 'n knoppie en kan ons almal moedeloos huil, maar jy is 'n sonstraaltjie wat in die winkels met almal praat wat voorkom en altyd glimlagte op mense se gesigte bring.  Jy het 'n woordeskat en taalgebruik van ver bo jou jare en kan mense manipuleer en om jou pinkie draai met hierdie wyshede.  Gister speel julle met 'n radiobeheerde karretjie totdat die batterye pap word.  Gisteraand lê ek by jou in die bed en jy sê "Wi-wi se stomme karretjie is nou stukkend..."   So tipies jy dat ek dit hier moet noem.  Niks gebeur ooit net nie, dit moet dramaties wees!

Ons is elke oggend hierdie week in trane skool toe omdat die wind jou seer maak, jy so baie baie siek is, boetie siek was en by die huis gebly het, mamma jou wou skool toe vat en nie pappa nie en omdat mamma die hek oopgemaak het en nie pappa nie.  Ek weet jy soek net bietjie tyd, begrip en liefde en ek stoei om dit te kry om vir jou te gee, maar ek werk daaraan.  Ek stoei met die wete dat jy hopeloos te maklik seer kry en dat die wereld daar buite jou nog baie gaan ontnugter...  My wens vir jou is om jou sterker te maak sonder om jou stukkend te maak....

Wihan - jy is my besige besige besige klein soldaat-dapper-kaartmannetjie.  Loop nou omtrent so twee weke lank en LOS NIKS UIT NIE!  Jy stel glad nie belang in praat nie (baie anders as sussie wat op 'n jaar al diere-geluide nagemaak en tot Oupa en pikkewyn kon sê!).  Jy steek jou tongetjie in en uit soos 'n slang en maak bla-bla-bla-bla dat die spoeg spat, maar dit is al!  Ek dink jy is eenvoudig net te besig om te probeer besig wees om te probeer praat. 

Jy slaap ongelooflik sleg en ek bid regtig dat hierdie fase baie baie vinnig verby moet gaan, maar jou babatyd wens ek nie om nie...  Jy is my cuddle-kind wat onder my vel ook sal inkruip as jy net kan.  My hart smelt as jy na my toe kruip en jou koppie op my bors kom neerlê of met jou kop op my skouer druk as ek jou gaan oplaai.   Jy is nog vir my 'n toe boek waarvan ek die inhoud nou eers begin ontdek het... Ons kan al sien dat jy hardkoppig is, 'n humeurtjie het en 'n terggees is!  Gisteraand maak Pappa of hy gril as jy jou kous op sy kop sit, dan doen jy dit weer en weer en weer!  Jaag jou sussie en niggie op waggelbeentjies met 'n stok as jy sien hulle "skrik".  Jy weet ook al net hoe om sussie se siel uit te trek...  Jy ry op jou ride-on karretjie en klim op die swart skopfiets waar jou voete nog nie eers bykom nie.  Op hierdie stadium is my grootste wens vir jou nog net om jou verby jou eerste lewensjaar te kry sonder steke of gebreekte arms.  Ek sal daarna hoër doelwitte stel!